jan05kuberkuier1c
Reise

E-pos uit Uppsala, Swede

VERTEL ‘N BIETJIE MEER OOR JULLE. Ek is van Port Elizabeth en Bernard is ’n Namibiër. Ons het ’n 21 maande oue dogtertjie, Yvonne, en ek is swanger met ons tweede kind. Voor ons na Uppsala gekom het, was ons Pretorianers.

WAT DOEN JULLE WERKGEWYS? Bernard is besig met ’n postdoktorale navorsingsprojek oor die interaksie tussen swamme en wespe (perdebye) by die Sweedse Landbou-universiteit. Ek het bemarking en kommunikasie-opleiding gedoen, maar is nou voltyds ma.

HOEKOM SWEDE? Vir Bernard se navorsing – dis waar die swam-wespe-interaksie onder meer voorkom.

VERTEL MEER VAN JUL ONMIDDELLIKE OMGEWING. Swede se bevolking is ongeveer 9 miljoen. Uppsala is ’n pragtige dorp wat dateer uit 500 n.C. en het sowat 200 000 inwoners, waarvan nagenoeg 35 000 studente is. Hier is pragtige stadswoude wat toeganklik en veilig is. In die somer en herfs is die soek van bessies en eetbare sampioene hoog op die Swede se prioriteitslys. Soos baie ander inwoners ry Bernard elke dag met sy fiets werk toe (selfs al is dit onder vriespunt!). Andersins maak ons van die stad se puik busvervoer gebruik. Ons woon in ’n gerieflike twee slaapkamerwoonstel en waardeer die kindervriendelike omgewing – om elke hoek en draai is ’n speelparkie.

EN JOU NUWE LANDGENOTE? Hul lewe draai om die kort somer (2 weke in Augustus) en hul somervakansie (5 weke tussen Junie en Augustus). Hulle leef graag hul liefde vir die natuur uit – heeljaar, ongeag die weersomstandighede.

WAS DIE AANPASSING MAKLIK/MOEILIK? Die moeilikste was om met geen ondersteuningstruktuur die toe 7 maande oue Yvonne groot te maak. Die Sweedse stelsels en
werkwyse het ons menigmaal gefrustreer en afgesonder laat voel. Produkname, amptelike pos, kennisgewings, nuus en tydskrifte is alles in Sweeds. Maar ek is dankbaar om voltyds ma te wees en vir Bernard is die werkomgewing ’n opwindende uitdaging.

ENIGE VERSKILLE? Hoewel ons nog net vriendelikheid ervaar het, is die Swede gereserveerd, selfs geslote. Jy val nie sommer in sonder ’n afspraak nie (nie eens goeie vriende nie). Hulle lewe in ’n doeltreffende, stelselgedrewe omgewing. Arbeid is baie duur; elkeen is verantwoordelik vir sy eie skoonmaak en instandhouding. Jy versorg self jou huis en tuin, pak self jou kruidenierspakkies, neem self jou trollie terug en in restaurante geld selfbediening dikwels. Wanneer jy gaan kuier, trek jy jou skoene in die portaal uit en loop op jou kouse of met binneskoene; by openbare geboue moet jy dikwels plastiek-omhulsels oor jou skoene sit. Ons het hierby ingeval. En hulle sorteer hul rommel eindeloos – tot 9 verskillende kategorieë van afval.

WAT WEET DIE SWEDE VAN SUID-AFRIKA? Pas ná ons aankoms is JM Coetzee as die Nobel-pryswenner vir letterkunde aangewys. Almal weet hy is van Suid-Afrika. Sy boeke word hier wyd gelees. Nelson Mandela is ’n bekende en gerespekteerde leier. Hulle weet van Johannesburg, Pretoria en Kaapstad. En dat die son heelwat meer in Suid-Afrika as by hulle skyn!

REIS JULLE BAIE? Dis duur om in die Skandinawiese lande te reis en met ’n baba nie altyd so gerieflik nie. ’n Hoogtepunt was om in Junie die middernagson in Kiruna (Lapland) te sien, en om die andersoortige landskap en lewenstyl bo die Noordpoolsirkel te ervaar.

WAT MIS JULLE VAN SUID-AFRIKA? Kuier met familie en vriende. Sonskyn en buitelewe. Boerewors en biltong. ’n Bekostigbare skaaptjoppie. ’n Lékker gesellige braaivleis.

ENIGIETS VAN JOU NUWE LANDGENOTE GELEER? Ysskaats. Die Swede is baie ordentlik en sal enigiets doen om jou ’n verleentheid te spaar. Hulle het ’n ernstige sin vir gelykheid en regverdigheid. Alle reëls word nagekom en wette word tot op die letter gevolg. Wanneer hulle bv. uitgaan om te kuier, word vooraf besluit wie bestuur. Die  aangewese bestuurder sal heelaand nie ’n druppel drank drink nie. Indien wel, sal hulle van openbare vervoer gebruik maak. Dis ’n wonderlike land om kinders in groot te maak. Die Swede bied omtrent alles vir ouers, van tydens swangerskap tot universiteitsopleiding. Ouers kry 12 tot 18 maande ouerskapverlof met die geboorte van elke kind. Pa is geregtig op die helfte daarvan.

IS DIT WAAR DAT DIE SWEEDSE SELFMOORDSYFER VAN DIE HOOGSTE TER WÊRELD IS? Volgens die Swede is dit ’n mite wat hulle bitter graag wil besweer. Dié opvatting het glo sy ontstaan in die 1950’s gehad weens Amerikaanse regse propaganda teen die liberale linkses. Laasgenoemde het die Sweedse politieke stelsel as model voor gestaan. Daarmee saam was Swede die eerste land wat sy selfmoordsyfers bekend gemaak het (ander lande het dit stil gehou) en só is die persepsie as die hoogste ter wêreld ongelukkig gevestig.