okt06kuberkuier1
Reise

E-pos uit Wellington, Nieu-Seeland

WAAR IN DIE WÊRELD BEVIND JY JOU? In Brooklyn, Wellington. En dis my sesde jaar hier. Wellington is baie soos Kaapstad, dit lýk en voel ook soos Kaapstad – die geboue, die strate en natuurlik is dit by die see. Werkgeleenthede is volop as jy bereid is om hard te werk. Soggens stap ek sommer die 15 minute werk toe, maar die vervoerstelsel is baie doeltreffend – jy kan die trein of bus neem. Dis stad is mooi skoon.

MAAK DIE MENSE MAKLIK VRIENDE? Die mense is soos die Kapenaars – rustig, gemaklik en gemoedelik. Ek was dadelik tuis. Suid-Afrikaners hier het ’n koerantjie en gereelde samekomste. Die braaiwors en rondstaan en gesels is heerlik. En natuurlik buig man en muis hier die knie voor rugby. Die mense beplan hul lewe rondom rugby!

VERSKILLE? Hier gebeur die meeste aktiwiteite binnenshuis, omdat dit baie kouer is en natuurlik omdat jy net 5 minute buite kan wees voordat jy bloedrooi verbrand in die son – die gat in die osoon is omtrent reg bo Nieu-Seeland! Mense kom bymekaar in koffiewinkels of restaurante. Vermaak is hier bo-aan die lys – opera, teater en toneelopvoerings. Die plek vibreer van die lewe.

EN KOS? Hier’s ’n hele smorgasbord van kulture en die kos is ook só. Saamkuier is gewild: partytjies, vierings, enige verskoning om te kuier, maar die mense wil aansit as hulle by jou kom en nie nog wag vir vuuraansteek en kole nie. Ná ete sal hulle ’n hond uit ’n bos kuier. So nou en dan vermaak hulle jou met ’n hangi – ’n Nieu-Seelandse braai soos die Maori’s dit doen: Dit behels ’n gat in die grond met vuurwarm vulkaniese klippe onderin. Dis lig en word maklik uit die vuur na die kookgat gekrap. Die kos word dan in draadmandjies bo-op die kole gepak – vleis onderin, daarna die patat en ander groente bo-op. Die Maori’s het vroeër alles in blare toegedraai, maar jy gebruik foelie. Die kos word met nat sakke bedek en grond word bo-oor gestrooi om ’n stoompot te maak. Dit duur sowat 7 uur om gaar te word en die kos is héérlik sag en geurig gestoom. Jy kan ook sommer stoompoeding maak! Die teeboom se hout is ook gewild vir kole.

WOON ’N MENS GERIEFLIK? Die erwe is piepklein, die houthuise is bo-op mekaar gebou soos in Engeland. Maar jy raak gewoond daaraan.

DIE TAAL WAS SEKER NIE ’N PROBLEEM NIE?
’n Mens sou so dink, ja, maar ek moes leer om baie stadiger te praat. En dan is daar goed wat ’n totale ander betekenis het, soos toggs vir ’n swembroek!

KOM JULLE TERUG S.A. TOE? Ons was in Julie in Durbanville om ouers te vra. Toe Lee my pa vra, het hy net “oempf!” gesê en weggeloop! Ons lag heerlik daaroor. Daar is geen plaasvervanger vir jou familie nie. Kaapstad bly my hartsplek. Die kouer klimaat hier vang my.