sept05kuberkuier1a
Reise

E-pos uit Weyersheim, Elsas, Frankryk

WAAR LÊ JUL WORTELS? Etienne en die kinders is Sasolburgers en ek kom van Virginia in die Vrystaat, was ’n onderwyseres. Etienne het ’n chemiese aanleg gehad, wat Amerikaners gekoop het. Dit het ons die kans gegee om Frankryk toe te kom. (Ons is hier sedert Februarie 2002.) Monita (22) werk en studeer in Engeland, Maricia (18) skryf nou haar skooleindeksamen en Juan-Jacques is 15.

HOE VERGELYK DIE SKOOLSITUASIE DAAR? Die kinders is in die diep kant ingegooi. Die Internasionale Skool in Straatsburg bied amper alle vakke in Frans aan. Hulle leer ook Duits en Maricia neem Nederlands. Elke dag ry hulle eers met die trein, dan die trem (het ’n slag of wat op die verkeerde trein beland en dan moes Pa of Ma die plek op die kaart soek om hulle te gaan haal), en stap dan verder skool toe. Hulle het selfstandig en onafhanklik geword.

GENIET JULLE JUL NUWE TUISTE? Ons is mal oor die lieflike omgewing. In die somer is daar die malse kleureprag van blomme en die winter se sneeu skitterend. Ons woon
op Weyersheim, ’n klein dorpie met 3 000 inwoners, ongeveer 20 km van Straatsburg af. Mens kan die Swartwoud hiervandaan sien.

HET JULLE MAKLIK VRIENDE GEMAAK? Kommunikasie was ’n groot probleem. Aanvanklik was ons vriende Amerikaners en Britte, oor die taalkwessie, maar ons het nou met wonderlike bure bevriend geraak. Plattelanders is baie vriendelik, groet altyd en kyk as hulle wil kyk. Hier is die mense ontspanne – ry fiets en stap, in reën of sneeu! Somertyd is almal tot laat saans buite. Buite die dorpie stap mens deur groentebeddings, vrugteboorde, mielie- en koringlande. Die plase is nie omhein nie. Die boere bly almal in die dorpies, loopafstand van mekaar. Motoriste kruie geduldig agter plaasvoertuie, vragmotors en perdekarre aan. Kleinboere ry op fietse met hul tuingereedskap op hul rug tot by die grondjie wat hulle vir ’n appel en ’n ei van die dorpsraad huur.

EETGEWOONTES?
Kos is duur. Skaap- en beesvleis ook. Varkvleis is die Elsassers se stapelvoedsel. Hier is ’n gróót verskeidenheid koue vleise, kase, brode en vis. Hoender, eend, kalkoen, fisant en natuurlik haas- en perdevleis! Net nie biltong of beskuit nie. Rooibostee koop ek in Duitsland en Mrs Ball’s wanneer ons in SA kuier. Heerlike wyne en
bier is in oorvloed en baie goedkoop.

WAT MIS JY DIE MEESTE? Ek verlang baie na my mense en my kerk. Ons is by die enigste Engelse (Anglikaanse) kerk in Straatsburg. Dit bly regtig ’n voorreg om in jou eie taal na ’n diens te luister en psalms en gesange te kan sing.

SOSIALE VERKEER EN KULTUUR? Dié mense is mal oor teater en musiekaande. Hulle kuier gesellig om tafels en die orkeste se musiek is van hoogstaande gehalte. Kinders hardloop die wêreld vol en almal eet “tarte flambée” (’n soort pizza van baie dun uitgerolde deeg met ’n vulsel van uie, spekstukkies en ’n soort witsous oor, in ’n baie warm buite-oond gebak). En worsbroodjies.

WAS DAAR AANPASSINGS? Skoolure is van agt soggens tot ses saans. Die kinders is heeldag uit die huis, maar Woensdae en Saterdae is dit halfdag-skool. Alle ouerbriewe is in Frans en bitter min van die onderwysers kan Engels praat. Algemene oueraande is net een keer per jaar. Skole en universiteite is gratis. Wat ’n voorreg! Ons koop boeke, skryfbehoeftes, etes en betaal vir uitstappies. Ons ry maar party Sondae bietjie rond en reis graag wanneer ons kan.

EN DIE PAADJIE TERUG? Ons weet glad nie wanneer ons terugkom nie. In hierdie stadium het ons geen aanduiding wat die maatskappy se verdere planne met ons is nie.