Reise

E-pos uit Winnipeg, Kanada

HOE HET JULLE DAAR BELAND? Mervin was ’n berader in Johannesburg en is nou ’n senior professor in Christelike berading aan ’n seminarium. Hy preek drie Sondae per maand en ek werk deeltyds in die biblioteek sodat ek kan saamreis wanneer hy oorsee referate lewer.

VERTEL VAN JUL KERSFEES. Die gesindheid van Kersfees – om te gee – word sterk uitgeleef hier in die prêries (die sg. Bible Belt). Buitelandse studente word liefdevol ingeneem en getrakteer op ’n Kersete aan huis. Oukersaand word ’n kersligdiens met goeie Kersopvoerings, musiek en sang gehou en daarna word gekuier.

DIS NATUURLIK ’N WIT KERSFEES. Ja, dis ’n gegewe. Snags, wanneer die maan op die sneeu skyn, is dit soms só lig dat ons partykeer wakker word daarvan. Dis ’n bekoring wat moeilik beskryf kan word. Hier is Kersfees ’n fees van liggies en sommige huise en strate is só opgetooi dat motors buffer teen buffer ry om te kyk – ’n liggieroete word selfs in die koerant gepubliseer.

EN DIE KERSVIERINGS SELF? Dis ’n familiefees en die voorbereidings begin die dag ná Thanksgiving. Die families is groot en tot honderd mense kom byeen. Op Kersdag het ons twee etes: Eers saam met Kanadese vriende en daarna saam met die baie Suid-Afrikaners wat hier woon. Die naweek voor Kersfees preek Mervin in Afrikaans en verlang ons na ons mense! Daarna eet ons bobotie en geelrys, melktert en koeksisters.

HOE IS DIE GEESTELIKE LEWE IN DIE ALGEMEEN? In Manitoba is die mense baie godsdienstig. Daar is Christenskole waarheen baie SA kinders gaan. Kerke is verdraagsaam en gemik op evangelisasie. In die somer hou kerke gemeenskaplike dienste omdat almal by die baie mere vakansiehuise het en kerkbywoning dan afneem.

VERTEL VAN WINNIPEG. Dit het ’n inwonertal van 640 000. Die naam is afgelei van die Indiaanse inboorlingwoorde win, wat modderig beteken, en nipee, wat water beteken. In 1997 het Winnipeg en ander omliggende dorpe amper weggespoel. Dyke hou nou die water uit.

HOE HET JULLE AANGEPAS? Ons het 5 jaar gelede hier geland in ’n wintersprokiesland van -25°C vanaf sonnige SA waar dit 25°C was. ’n Kollega het haar woonstel met Kersboom en al vir ons beskikbaar gestel – met 24-uur-hoëspoed-internet om kontak te behou met familie en vriende, kos én muntstukke vir die wasoutomaat! Mervin se verjaardag ’n paar dae later is gevier met ’n koek en kersies. Die eerste winter het dit ons minstens ’n kwartier geneem om ons “buite-klere” aan te trek. Dan was ons sopnat gesweet van al die warm klere in die verwarmde huis. Nou doen ons dit in sowat 2 minute.

WAT EET DIE KANADESE GRAAG? Kalkoen met bosbessie-(cranberry)sous, veerligte kapokaartappels met kalkoensous, groente en slaai. Nagereg is pampoentert met varsgeklopte room en koffie. Veral die Kersetes is oordadig omdat die koue jou ’n onversadigde eetlus gee!