des07kuberkuier1a
Reise

E-pos uit Yatela, Mali

WAAR WOON JULLE? Ek het my twee en ’n half jaar gelede hier in Wes-Afrika by my man, Heinrich (’n meganiese ingenieur by ’n goudmyn), kom aansluit. Ons woon nou al 8 maande op die platteland in Mali tussen tradisionele nedersettinkies op die dorpie Yatela. Dit is omtrent twee uur se ry van Timboektoe. Dis omtrent ver! Ja! Daar word gereeld toere na Timboektoe onderneem waar jy vir ’n dag op ’n kameel na dié dorpie in die woestyn kan ry.

WAT DOEN JY DAAR? Ek is ’n huisvrou. Ek bly fiks in die swembad in ons kamp en doen inkopies by die plaaslike markte. Ons kuier ook darem nog gereeld lekker in Afrikaans – hier woon ’n hele klomp Suid-Afrikaners in die omgewing.

WAT WAS VIR JOU DIE GROOTSTE AANPASSING? Ek mis my familie. En daar is nie ’n supermark om die draai waar jy gou al jou inkopies kan gaan doen nie! Die geweldige hitte was ook ’n groot aanpassing, aangesien dit nooit regtig koud word nie en die somertemperature meestal diep in die veertigs is.

HOE WORD KERSFEES IN DIE WARM LAND GEVIER? Die inwoners van Mali is feitlik almal Moslems. Dit is dus net die Suid-Afrikaners en Australiërs wat die dag vier. Ons kom gewoonlik almal op Oukersaand bymekaar vir ’n lekker boere-ete wat “die klub” vir ons voorberei. Die klub word bestuur deur ’n Suid-Afrikaanse vrou wat die plaaslike sjefs geleer het hoe om boerekos te maak – ons kry alles van beesstertpotjie tot malvapoeding! Kersdag word gewoonlik in ’n heerlike ontspanne luim langs die swembad deurgebring met ’n skaap op die spit. Aangesien die meeste van ons maar taamlik homesick kan raak, probeer almal dit so aangenaam moontlik maak vir mekaar, en ons kuier baie lekker saam.

EN NUWEJAAR? Dít word gewoonlik ingewag met groot opgewondenheid. Daar word ’n makietie gehou waar die vroue die geleentheid kry om bietjie op te tof. En die Suid-Afrikaners wys hoe dit gedoen word op die dansbaan!

VERTEL MEER VAN DIE PLAASLIKE MENSE. Die Malinese is ’n baie vriendelike nasie en hulle is maklike mense om oor die weg mee te kom. Hul stapelvoedsel is rys en hulle praat Frans en Bamara. Hulle is ook baie kunstig – die mooiste juweliersware, houtsneewerk en leerprodukte word hier gemaak. En dan is hulle ook baie bedrewe met hul tradisionele musiek-instrumente.

DIT KLINK OF DIE LAND NOG BAIE STERK TRADISIES HET. Dit hang in sekere opsigte nou saam met die ekonomie. Die land is baie arm en die meeste inwoners woon nog in tradisionele modderhutte met grasdakke. Hulle leef van kos wat hulle self in en om hul dorpies verbou. Donkiekarre en motorfietse is die mees algemene vervoermiddels en van teerstrate is daar min sprake. Tradisie word ook aan die mense se klere gesien – vroue dra kleurryke rokke en kopbande, en die mans meestal hul tradisionele Moslemklere.

WAT IS BAIE ANDERS DAAR AS IN SUID-AFRIKA?
Ons lei ’n baie stil lewe. Ons sal beslis eendag terugkeer na ons geliefdes. En boonop is daar niks soos ’n egte SA braaivleis saam met goeie vriende nie!