FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Reise

So eet ons in Pole

Die kos in Pole was iets om aan gewoond te raak en as hulle na Suid-Afrika verlang, dan eet Antoinette Klein en Fanie Olivier bobotie.

Hulle woon in Poznań, Pole, waar Fanie ’n professor aan die universiteit is en Antoinette tuisbly en haar besig hou met lees, kwilte maak en stap. Lees in die Augustus 2015 uitgawe van SARIE meer oor hul lewens daar.

Is dit duur om daar te oorleef?
Pole is een van die goedkoper Europese lande waar ’n Suid-Afrikaner nog kan kom kuier. Akademici word egter bittersleg betaal en ons moet maar versigtig beplan as ons wil gaan reis. Hier kos ’n brood R7.00, ’n liter melk R9.00, 260 g goeie kaas R45.50, ’n kilogram hoender R35.00 en 1 kg maalvleis R58. Vrugte en groente wat hier verbou word is goedkoper as varsprodukte wat ingevoer word. Daar’s onverwagte goed, soos dat Pole die tweede-grootste aarbeiprodusent in Europa is. Ons is gelukkig dat ons vrugte en groente uit alle dele van die wêreld hier kan koop, natuurlik teen ’n prys!

Hoe is die kos?
Tradisionele Poolse kos weerspieël die geskiedenis en is hoofsaaklik plattelandse kos. Daar bestaan nie eintlik iets soos arbeiders op plase nie; die boer en sy familie moet sorg dat daar kos op die stedelinge se tafels is. Hulle het altyd teen elfuur soggens gebreek vir ’n groot ontbyt, bestaande uit enige van die baie worse of vleis, hetsy gekook of gerook, en wonderlike brood, tamaties en komkommers of agurkies uit hul tuine. Teen vieruur namiddag eet hulle ’n groot gekookte aandete, gewoonlik iets soos uie, kool, aartappels, worse en vleis, dikwels saam gaargemaak. Hierdie gewoonte van ’n vroeë aandete het oorleef in die stad, selfs gedurende die somermaande wanneer dit eers teen tienuur begin donker word.

Suurkoolsop.

Suurkoolsop.


In die wintermaande eet die Pole graag sop waarvan ’n wonderlike beetsop (barszcz) die algemeenste is. So ook suurkoolsop (źureck) gemaak van suurkool met verskillende worse daarby ingesny en net voor opdiening kom daar ’n halwe gekookte eier in. Hierby word natuurlik volop vars brood, altyd sonder botter, bedien.

Soms word ’n ronde broodjie (so groot soos ’n bord) uitgehol en met ’n soort vleisbredie, bigos, gevul. Dis ’n heel vullende maaltyd!

Bigos

Bigos


Hulle maak ’n soort kluitjie-pakkie (pirogi) gevul met verskillende soorte kaas, vleis, sampioene, of vrugte vir ’n soetgebak. Dit word gekook en bedien met verskillende bessiesouse.

Pirogi's.

Pirogi’s.

Nog ’n tipiese gereg is koolblare waarin rys en vleis gerol en gaargemaak word (goląbki). Verder maak hulle ook ’n aartappelpannekoek (placki) wat net so bedien word of dit word ook met suurroom of met goulash (gulasz) bedien.

So braai die Pole vleis in die winter.

So braai die Pole vleis in die winter.


Tydens aspersie-tyd is bondels harder wit- of die sagter groen soorte op elke straathoek te koop vir spotgoedkoop. Die sagtes word rou opgekerf in ’n slaai.
Varkvleis is die topverkoper en word op baie maniere voorgesit. ’n Lekker variasie is wanneer hulle dit in deeg gaarmaak, bedien met ’n dik groentesous. Hoender en kalkoen kan jy in enige vorm koop. Eend word gewoonlik gaargemaak saam met appels en dis gewoonlik pragtig gebraai en murgsag. Skaapvleis is onbekombaar en die Pole ken dit nie. Beesvleis is baie duur en die snitte laat ’n mens soms kopkrap. Vis is volop. Vanuit die Baltiese see kom heilbot, ’n ryk en wonderlike vis. Varswatervis is volop en bekostigbaar.

Hier is natuurlik ook heelwat wild te koop soos bosvarkvleis, verskeie boksoorte, hase en konyne. Saam met hierdie vleisgeregte word aartappels bedien en ’n halwe bord volgeskep hiervan is geen vreemde gesig nie. Gekook met bottersous, of as kapokaartappels. Kool word ook bedien ’n bykos. Hier is ’n magdom verskeidenheid wilde sampioene wat gekook of gebraai word. Almal gaan pluk in die herfsmaande sampioene in die woude en bosse. As daar ’n oorvloedige voorraad is, word dit gedroog en gebêre vir die res van die jaar.
Suurkool kan seker as ’n nasionale dis beskou word. Gewoonlik staan daar balies vol waarvan jy kan uitskep in bakkies soveel jy wil gebruik. Slaai bestaan hoofsaaklik uit gerasperde wortel, beet en kool met ’n afgewaterde sous oor.

Verskillende soorte koek vir nagereg.

Verskillende soorte koek vir nagereg.


Vir nagereg is daar baie soorte kaaskoek (sernik) en appeltert (szarlotka), beide Pole se nasionale disse, en pannekoeke (naleśniki) gevul met verskeie soet vulsels. Die Pole se kaaskoek en appeltert sal maar sleg vaar by die kerkbasaar in Suid-Afrika!
Die Pole is groot bierdrinkers dwarsdeur die jaar. Daar’s ’n hele verskeidenheid, maar onse eie SAB besit nou feitlik al die groot brouerye! Natuurlik wodka, skoon, of saam met enige koeldrank gemeng. Die Pole glo dat hulle wodka uitgevind het en die Russe en die Finne dit by hulle oorgeneem het.
Hier is wonderlike bessies in seisoen wat sommer so op straat verkoop word. Eie aan Pole is die gerookte bokmelkkaas uit die bergstreek in die suide. Markdae loop ons graag deur die stalletjies en koop tuisgemaakte produkte.
Suiker word vervaardig uit beet en is nie heeltemal so soet soos ons s’n nie. Hulle bak goeie brood en voer daagliks uit na die omliggende lande. Die verskeidenheid is groot en is ’n fees om te eet. ’n Baie interessante verskynsel is dat die 38 miljoen inwoners daagliks 19 miljoen piesangs eet. Miskien is dit omdat hulle glad nie piesangs geken het tot die 1990’s nie.
Soms verlang ’n mens na jou eie land se kos, dan kook ek vir ons op die ou boeremanier. Ek maak graag bobotie soos ons dit by die huis eet as ek gaste oornooi. Soms kry ons lus vir Maleise- of Indiese kerrie; dan maak ek vir ons.

My kleinseun eet gebakte bokkaas met verskillende bessiesouse.

My kleinseun eet gebakte bokkaas met verskillende bessiesouse.