Niemand-gesin

Niemand-gesin

Reise

Eilandlewe vir SARIE-leser en haar gesin

Vier jaar gelede het Sonia Niemand en haar gesin Suid-Afrika verruil vir ’n eiland sowat 2 000 km van die kus van Afrika. Die eilandlewe op St. Helena pas hulle soos ’n handskoen.

Die eiland kan net per posboot bereik word, en noodgedwonge moet Sonia, haar man Gideon en seuns, GJ en Lourens baie tyd in mekaar se geselskap deurbring. Mens kan nie vinnig in jou motor spring om gou vir die naweek weg te gaan nie. Hulle is aangewese op mekaar en op die besienswaardighede en vermaak wat die eiland bied. Binnekort sal die eiland ’n gereelde bestemming vir toeriste kan word, want daar word ’n lughawe gebou waar Boeing-stralers sal kan land.

Wanneer en waarom is julle St. Helena toe?
In Februarie 2012, omdat die kontrak vir die bou van die St.Helena lughawe toegeken is aan die maatskappy waarvoor my man, Gideon werk. Ons is gevra om saam met die span van Basil Read hierheen te kom. Ons sal dit weer doen!

Gideon en ek met die pragtige landskap van St.Helena in die agtergrond.

Gideon en ek met die pragtige landskap van St.Helena in die agtergrond.

Hoe oud is jou seuns en waar gaan hulle skool?
GJ (7) en Lourens (5) is in Harford Primary School. Die standaarde van die Britse nasionale kurrikulum wat die skool volg, is nogal hoog. GJ en Lourens het altwee begin lees toe hulle drie en ’n halfjaar oud was. Weens die spreektaal van die Saints, soos die eiland se inwoners bekend staan, moet ons hard werk om by te hou. Van die uitdrukkings wat hulle gebruik, is baie eie aan hulle. Die seuns het wonderlik aangepas en vorder regtig goed.

Hoe was die aanpassing op die eiland?
Aan die begin het ons regtig gesukkel, want alles word ingevoer met die posboot, RMS St. Helena, vars vrugte en groente en kaas. As die goedere van die boot afgelaai word en jy is nie in die dorp nie, dan kry jy niks totdat die boot weer kom nie. Jy moet brood spesiaal bestel, anders kry jy dit nie. Die Saints is nie groot op rooivleis nie, maar vis is geredelik beskikbaar. Dis ook ’n bron van inkomste vir die eiland. Noudat ons al so lank hier woon, weet ons waar om wat te kry en daar is gelukkig altyd ’n buurvrou wat kan help! Die Saints is van die vriendelikste mense wat ek al ontmoet het. Al is nie almal ten gunste van die lughawe nie, groet hulle almal; almal ken mekaar. Wanneer ons op die eiland rondry, waai ons vir elke motor wat verby kom. Hier is geen kitsbanke nie en tot onlangs was hier ook nie ’n selfoondiens nie. Dit het egter verander.

Hoe lyk ’n tipiese dag vir jou?
Dis waar die eiland ideaal is. Skool begin eers 09h00 en hou aan tot 15h00; dis ook my werksure. Ons stap skool toe, of die seuns ry fiets. Naweke speel ons gholf, vang vis, stap, gaan doen diepsee-duik of neem deel aan enige van die vermaak wat hier aangebied word.

Gideon vang vis saam met GJ en Lourens.

Gideon vang vis saam met GJ en Lourens.

Die lekkerste daar?
Die vryheid en die skoonheid rondom ons. Gesinstyd is goud werd. Boonop is hier geen verkeer nie. Ons het nog nooit die gehalte-lewe gehad soos wat ons nou het nie. Ons doen alles saam.

En die aakligste?
Om nie KFC op ’n Vrydagaand te kan kry nie! (Lag) Ek dink die ergste is dat die enigste manier om van die eiland af te kom, is met die RMS St. Helena en dan vyf dae te reis voordat jy Kaapstad bereik (maar dit maak die plek ook uniek). Om weg te wees van ons families. Mens kan nie vinnig vir ’n naweek weggaan nie.

Lourens by donkies op die eiland.

Lourens by donkies op die eiland.

Interessante ervarings daar?
Waar begin ek? Ek dink die uitsonderlikste ervaring is om elke jaar saam met die walvisse te kan swem. Die seuns het ook gou geleer om te snorkel en is gek daaroor om in die diep see te swem. Die water is nogal warm en daar’s nie haaie nie, altans nie waarvan ons weet nie . . . Die eiland het ’n unieke geskiedenis en om dit te sien, maak die lewe hier ’n droom. Die staproetes wat ons hier doen, is ook ongelooflik. Die seuns het ’n paar van die moeilikes saam met ons gestap.

GJ snorkel.

GJ snorkel.

Is daar baie toeriste-goed om te doen?
Van die beseienswaardighede sluit in die grafte van die Boere-bannelinge, Longwood House, waar Napopleon tot sy dood gewoon het, die graftombe waar sy lyk was, voordat dit na Frankryk geneem is. Mense gaan kyk ook graag na Jonathan, die wêreld se oudste skilpad, wat meer as 180 jaar oud is.
St. James Church is die oudste Anglikaanse kerk in die suidelike hemisfeer en dateer uit 1744. Hier is ook ’n museum waarin die eiland se geskiedenis van die afgelope 500 jaar vertel word.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wanneer kom julle terug en waar gaan julle woon?
Ons behoort so teen Maart, April volgende jaar terug te gaan na Suid-Afrika. Omdat ons vir ’n konstruksiemaatskappy werk, weet ons nie presies wanneer of waarheen ons gaan nie. Die een ding wat hierdie projek my geleer het, is dat die volgende kontrak ook ’n fantastiese ervaring sal wees.

Hier is ek in die museum.

Hier is ek in die museum.

 

  • Tjaart Herbst

    Ag te lekker. Laat my terugdink aan my tyd op die eiland van Vanuabalavu