FOTO: verskaf

Reise

Ervaar die prag van die Baltiese see op ’n bootreis

Meeste Suid-Afrikaners het maar karige ervaring as dit kom by bootreise. Maar in die noorde van Europa is bootreise ’n gesogte manier om van een bestemming na ’n ander te vaar.

Violetta Teetor, ’n Suid-Afrikaner wat in Helsinki, Finland woon, skryf spesiaal vir ons oor verskillende bootvaarte.

Daar is min stede in die wêreld so strategies geplaas vir bootreise soos Helsinki. Van hier kan jy so baie verskillende lande in ’n week of selfs korter sien. As jy kamp opslaan in Helsinki kan jy dwarsdeur die jaar van hier af na Rusland, Estland, Swede en ander plekke reis.

Die kompetisie is kwaai vir die korter veerbootroetes en dus is die standaard hoog. Van Helsinki is dit ’n dagreis ver na die wonderlike, geskiedkundige Ou dorp Tallinn, ’n Unesco-Wêrelderfenis gebied. Hier kan jy kleurvolle geboue, Katolieke-, Lutherse- en Russiese Ortodokse kerke, asook top-gehalte restaurante en kroeë verken. Vir mense van Helsinki is dit ’n mekka van goeie kos, oorspronklike museums en kultuur, maar meer nog, een van goedkoop drank en kruideniersware. Ek het nou net nagegaan op Eckerö Line   – hou in gedagte dat Julie hoë seisoen is – en dit lyk asof ek soontoe kan gaan vir €58. Die prys kan daal tot ’n skamele €19 per roete, wanneer die res van Finland en sy broer nie op dieselfde vaart is nie. Linda Line is ’n vinniger opsie, maar is net operasioneel wanneer die see kalm is, omdat die maatskappy kleiner veerbote gebruik. Ander keuses sluit Tallink en Viking Line in. Warm wenk: Jy kan per luukse bus van Tallinn na Berlyn reis en stop by die pragtige stede van Riga in Letland, Vilnius in Litaue en Warskou, Pole, teen ’n baie billike prys.

Blommemark in Tallinn. FOTO: verskaf

Blommemark in Tallinn. FOTO: verskaf

Praat van Viking Line, om na Stockholm wat die Venesië van die Noorde genoem word te gaan, is dit meer van ’n ontspannende, geniet jouself, luukse tipe pakket. Viking Line en Silja Line kompeteer vir passasiers op hul drywende hotelle wat 265 dae ’n jaar die waters van die Baltiese See navigeer deur die beeldskone archipelago van Helsinki en Stockholm. Jy vertrek teen ongeveer 18h00 van Helsinki en kom om en by 09h00 in die Sweedse hoofstad aan. Viking Line bring jou binne loopafstand van die sentrum waar die winkels wissel van baie duur tot sommige ware winskoopplekke langs Drottninggatan. Op pad lê die Old Town waar die Changing of the Guard daagliks voor die Koninklike Paleis plaasvind. En moenie die Vasa Museum misloop nie, waar die gelyknamige skip wat op sy eerste vaart in 1628 gesink het, in al haar vorige glorie gesien kan word. Warm wenk: Die oornag-kruising stop by Mariehamn in Ahvenamaa, ’n protektoraat eiland van Finland, wat weens ’n tydelike EU reëling vir jou die geleentheid bied om belastingvrye aankope aan boord te maak.

Stockholm. FOTO: verskaf

Stockholm. FOTO: verskaf

Rusland, verbode vrugte vir Suid-Afrikaners vir so baie jare, is nou oop terrein en daar is geen makliker of goedkoper manier om daar uit te kom as met die St. Peter Line van Helsinki nie. Die oornag-vaart neem jou na St. Petersburg wat ek die Wimbledon stad noem, omdat jou kop soos ’n hondjie-speelding in ’n motorvenster rond beweeg. Dis sekerlik een van die pragtigste stede en jy weet nie waar om te kyk nie! Nodeloos om te sê, die Hermitage Museum met sy versamelings van mummies, Monets en dies meer moet beslis hoog op jou prioriteitslys wees. Eintlik mag jy nie St. Petersburg in ’n dag doen nie, maar jy kan as jy dit so wil hê, aangesien die boot dieselfde aand terugvaar. Warm wenk: Dis visum-vry vir 72 uur met ’n EU paspoort.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Daar is egter vaartuie en daar is vaartuie! Jy sal sukkel om iets meer aanloklik as Silversea Cruises te kry. Dis nie goedkoop nie, maar dit beteken dat jou drome waar word: alleenlik suite kajuite met vensters, alle etes en drankies word ingesluit en ja, sjampanje ook, met selfs jou minibar voorraad volgens jou keuse, ’n butler om vir jou uit en in te pak en ’n gimnasium en swembad om daardie ekstra kilo’s onder beheer te hou. Ek het met ’n paar passasiers gepraat en hul geesdriftige lof is aangevul deur die feit dat die skepe klein genoeg is om so naby aan die sentrum van die stad as moontlik te land. Dus, geen busse in en uit nie, jy stap direk uit om jou avontuur te begin. Hulle vaar net in die somer. Warm wenk: Die maatskappy vaar ook in die waters van die Suid-Afrikaanse kus.