Franine en André Jacobs

Franine en André Jacobs

Reise

Franine Laubscher skryf uit Turyn, Italië

Franine en André Jacobs het sak en pak Italië toe getrek om André se lewenslange droom na te jaag.


André se groot droom van jongs af was om ʼn motorontwerper te wees. Aangesien daar in SA nie veel moontlikhede vir so beroep is nie het hy ingenieurswese studeer. Hy en Franine het as studente op Maties ontmoet. Hulle het ná hul studies begin werk, hy in ingenieurswese en sy in menslike hulpbronbestuur. André het bly droom oor motorontwerp. Hulle het ʼn skool in Turyn ontdek wat die kursus aanbied. Tydens hul wittebrood in September 2014 het hulle gehoor André kry ʼn volle beurs van die skool om gratis daar te studeer vanaf Oktober 2014. Hulle het oë toegeknyp, tassies gepak en op die vliegtuig Italië toe geklim. Nou woon hulle in pragtige Turyn in die noorde van Italië.

Franine in 'n pragtige gerestoureerde gebou.

Franine in ‘n pragtige gerestoureerde gebou.

Wat het jou verras daar?
Ons is so beïndruk deur die manier wat Italië hul pragtige geboue preserveer. Baie van die geboue is honderde of meer jare oud en tog lyk van hulle of dit gister gebou is. Daar is konstant steiers voor geboue wat besig is om gerestoureer te word. Hier moet ʼn goeie sisteem in plek wees wat toesien dat die antieke argitektuur behoue bly.
Vir my is dit een van die mooiste dinge van Turyn, die geboue, ou katolieke kerke en standbeelde wat jou om elke hoek en draai verras. Ek kry hoendervleis elke keer wanneer ek in ʼn koffiewinkel sit en besef dit bestaan al sedert die sestienhonderds of dat daar in die vyftienhonderds koninklikes gewoon het in die kasteel waarin ons op daai oomblik staan.

Iets interessant: Die uitdrukking van “ ʼn hond is ʼn man se beste vriend” het sekerlik hier ontstaan. In Turyn is die mense gaande oor hul honde. Honde gaan oral waar hul eienaar gaan. Dis glad nie vreemd om honde in klerewinkels en koffiewinkels te sien nie. Mense vat selfs hul honde saam werk toe. Elke hond het ʼn mandjie waarin hulle voor die vensters lê en elke nou en dan word hulle na buite geneem om ʼn draaitjie te loop. Ons was ook nogal verras om te sien dat die honde soms saam gaan restaurant toe! Ek moet byvoeg dat die honde baie goed gemanierd is en in uitstekende kondisies.

Dis ook lieflik om geen rondloperhonde op straat te sien nie. Elke hond loop aan ’n leiriem saam met sy baas. Soos honde-eienaars mekaar op straat kruis, stop hulle eers dat die honde kan sosialiseer. Dis nogal oulik om te aanskou. Hier is selfs ʼn wet wat honde-eienaars verplig om drie maal per dag met hul hond te stap. Oortreders kry ʼn 500Euro boete.

Hier is die honde-eienaars in die park saam met hul honde.

Hier is die honde-eienaars in die park saam met hul honde.

Wat doen julle in die tye wanneer julle nie werk/studeer nie?
Ons gunsteling-tydverdryf is om te gaan koffie drink. Buiten die feit dat koffie hier heerlik is, bied elke klein plekkie ʼn nuwe warm ervaring. Ek bestel gewoonlik ʼn cappuccino en André ʼn americano. Wees gewaarsku dat ʼn ‘normale’ koffie of Café in Italiaans ʼn enkel espresso is. Hulle spot graag met André dat hy ‘dirty water’ drink, omdat ʼn americano afgewaterde espresso is.
Wanneer André langer af het, probeer ons so veel as moontlik toer. Turyn is redelik sentraal in Europa geleë en dit maak dit regtig maklik om van hier af na plekke te reis. Ons het al ʼn paar plekke op ons emmerlys afgemerk, maar daar is nog so baie om te sien. Hierdie ervaring is werklik vir ons goud werd. Mens besef eers watter wonderlike verrassings die wêreld het wanneer jy die voorreg het om dit self te beleef.

Wat moet mense in Turyn doen as hulle daarheen reis?

  1. Begin jou reis in Turyn met die historiese treinlyn no. 7. Die rit duur 50 minute en neem jou deur die beste dele van die stad.
  2. Besoek die Egiptiese Museum. Dis die tweede grootste Egiptiese museum in die wêreld, naas Kaïro.
  3. Besoek die San Giovanni Katedraal (Katedraal van St. Johannes die Doper). Die Heilige Kleed, ook genoem die Kleed van Turyn, word daar gehou. Daar word beweer dis die lappe waarin Jesus Christus toegedraai was ná sy kruisiging.
  4. Besoek die Piazza Castello. Neem ’n toer deur die kasteel. Koninklikes het daar gewoon van die 1500’s tot die 19de eeu.
  5. Drink Bicerin by ’n koffiehuis. Dié drankie is eie aan Turyn en word gemaak van espresso, warm sjokolade en volroom melk.
  6. Besoek die Kinematografie museum. Dié indrukwekkende gebou is gevul met ou film-gedenkwaardighede.
  7. Besoek die kerk, Santa Maria del Monte. Dis geleë teen ’n heuwel en vandaar het jy ’n pragtige uitsig oor die hele stad, asook die Alpe.
  8. Eet baie pizza!

 Lees ook in die April-uitgawe van SARIE meer oor Franine en André Jacobs se lewe in Italië.

Voor Piazza Castello.

Voor Piazza Castello.