FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Reise

Goeie Redes om Tallinn in Estonië te besoek

Mense in Finland is nogal gelukkig. Op die ingewing van die oomblik kan hulle op ’n veerboot spring wat hulle binne enkele ure na ’n bestemming in ander land neem.

Daar kan hulle middagete geniet en ten volle gebruik maak van die aanloklike pryse by haarkappers, skoonheidsalonne, supermarkte, drankwinkels, die lys sluit ook tandartse in! Hulle kan selfs op dieselfde dag teruggaan na Finland.

Violetta Teetor is ’n Suid-Afrikaner wat sedert die tagtigerjare in Helsinki, Finland woon en werk as joernalis. Sy het in Tallinn besoek afgelê en skryf waarom dit ’n aanloklike bestemming is.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

 Ek kan nie genoeg van Estonië kry nie en deesdae wil ek oornag om die plesier te verleng. Daar’s geen beter plek nie as by die Estoria Hotel, die boetiekvleuel van die groot Viru Hotel wat tydens die sowjet-tye gebou is om buitelandse gaste te akkommodeer. Elke kamer het ’n storie om te vertel: ’n verhaal oor die verskillende dele van Estonië, ’n uitbeelding van hierdie klein land met ’n groot hart en ’n nog groter sin vir humor.
'n Kamer in Estoria Hotel

Benewens die feit dat hierdie land met net oor ’n miljoen inwoners verantwoordelik is vir die uitvinding van Skype, GrabCAD, Transferwise (gerugsteun deur Sir Richard Branson) en die mees gevorderde landsburgeraanlyn-inligting-stelsel in die wêreld (jy kan aanlyn stem, jy hoef nooit jou storie twee keer aan ’n mediese praktisyn te vertel nie, en nog baie meer), is daar ’n magdom ander redes om Estonië te besoek.

Ons begin met Tallinn, die oudste hoofstad in die Baltiese See-streek met konneksies na Europa wat na die 1200’s terug dateer toe dit deel van die Hanseverbond was. Die Ou Stad sit strategies op ’n heuwel, met Middeleeuse kerke en ’n stadsmuur wat grootliks ongeskonde gebly het. Die “Sea Plane Harbour Museum” is ’n industriële speelplek vir almal van ons wat nie ons hande kan afhou van bote, duikbote en uitstallings in die algemeen nie. Aan die ander kant van die stad is die Tallinn Televisietoring waar ’n vuurhoutjiedosie tot die redding gekom het van die Estoniërs tydens die Augustus-staatsgreep van 1991 toe die Sowjet Unie die gebou bestorm het om die inwoners te verhoed om hul nuus van ’n nuwe Estonië uit te saai. In dié toring het ’n vuurhoutjieboksie wat tussen die hysbakdeure op die boonste verdieping geplaas is, ’n vyand tot op sy knieë gebring. Nouja, ’n bietjie oordrywing is altyd gepas! Die museum hier sluit ’n snaakse 3D-film in, ’n plek waar jy jouself op TV kan sien en ’n futuristiese uitstalling. Die hysbak neem jou binne sekondes na die boonste vlak waar die uitsig tot by Helsinki strek.

Maar dit was eintlik die “Song en Dance Celebration” wat die grootste invloed op die toekoms van hierdie nasie gehad het. Elke tiende Estoniër neem deel aan dié fantastiese geleentheid wat elke vyf jaar plaasvind. 18 000 sangers op die verhoog wat saam sing?! Ongelukkig moet jy nog vier jaar wag om hierdie emosionele opvoering te aanskou; die laaste een was verlede jaar. Die fees vind plaas sedert 1869, al het die Sowjet Unie dit probeer verbied tydens Stalin se bewind toe koordirigente en sangers gedeporteer was in ’n poging om alles te ontwrig. Die “Sang Revolusie” het in 1988 begin toe hierdie opelug-arena die plek geword het waarop die Estlanders deur patriotiese liedere en politieke eise duidelik gewys het dat die Sowjet Unie nie meer welkom was nie en dat die besetting van hul vaderland end moet kry.

Alexander Nevsky Katedraal. FOTO: verskaf

Alexander Nevsky Katedraal. FOTO: verskaf

Dan is daar die KGB Museum op die boonste vloer van die Viru Hotel. As jy wil sien hoe vinnig die Russe Estonië wou verlaat het weens die mislukte ‘putch’, die staatsgreep wat geharde Kommunistiese verdedigers teen Gorbachev probeer uitvoer het, is dit die plek om dit te sien. Die boonste vloer wat die museum huisves kan nie per hysbak bereik word nie, aangesien die vloer ‘nie bestaan nie’. Op dié geheime verdieping het die Russe ingeluister op die fluisterings en gesprekke wat deur primitiewe mikrofone (geïnstalleer in asbakkies en vase dwarsdeur die gebou) opgeneem is en so hul ore bereik het. Hysbak-dames was op elke vloer gestasioneer om verslag te lewer oor diegene wat hulle verdink het en die verslae is oorgedra aan die ‘luisteraars’ in die geheime radiokamer. Gaste se klagtes is ook so gehoor en as daar nie genoeg toiletpapier was nie en iemand in die kamer dit genoem het, het ’n bediende by die deur verskyn met ’n paar rolle! Hierdie museum wys sonder twyfel hoe haastig die Russe was om die land te verlaat. Alles is byna heeltemal intakt, kabels is net uitgeruk uit die mure en die meubels is rondgestrooi. Dit het oornag gebeur!

Maar daar is ’n ander pragtige kant van die stad. Dis Kumu, die grootste kunsmuseum in die Baltiese state, waar my gunsteling “ou” skildery van 1878 bewaar word. Dit word True Guard genoem en wys ’n groot hond wat wagstaan terwyl sy klein meesteres teen ’n boom rus. Hier word ’n verskeidenheid kunswerke uitgestal; van werke van die Sowjet-besetting, sowel as kontemporêre Estoniese kuns, asook buitelandse kuns kan hier besigtig word.

Van kamerbediende tot Tsarina, wat is meer betaamlik as dat ’n stadsarea na jou genoem word? Kadriorg huisves die gelyknamige kunsmuseum, die voormalige paleis van die Tsarina Catherine waar jy buitelandse kuns kan bekyk in ’n ongelooflike pragtige gebou. Kadriorg beteken “Catherine’s Valley”.

Die kos in Tallinn is ook iets om oor te skryf. Die standaard is oor die algemeen hoog en teen ’n redelike prys in vergelyking met die res van die Eurosone. Vir ’n uitsonderlike ervaring kan jy by die donker gat in die muur by die Stadshuis op die plein in die Ou Stad ’n bak elk-sop, ’n glas glühwyn en ’n paar stukkies gevulde tert vir €8 eet. Die atmosfeer neem jou terug na Middeleeuse tye.

Violetta Teetor se blog www.foreignfinn.com is gepak met inligting oor mense, plekke, kos, en veral wyn.