maboneng
Hieroor praat mense

Gratis vermaakdinge vir hierdie ‘arm Januarie’

Die vakansie is vir die meeste van ons verby en die beursies is maar leeg. Maar dit beteken nie jy hoef net by die huis te sit nie.

Hier is vir jou ’n paar gratis uitstappies om te oorweeg as jy wil spaar. In dié artikel kyk ons na Kaapstad en Johannesburg – hou SARIE.com dop vir gratis vermaakdinge in SA se ander groot stede. 

Kaapstad

blouberg

1. ’n Markie hier en ’n markie daar

Eet maar liewer tuis voordat jy ’n markie besoek; daar is heeltemal te veel lekkernye wat jou in die versoeking gaan bring. Gaan vir die atmosfeer en samesyn van ’n gemeenskap.

Besoek Cape Markets om op hoogte te bly van al die verskillende markies naby jou.

2. Besoek die Parlementsgeboue. Hierdie toer sluit die geskiedenis van die parlement in en verduidelik sy hedendaagse funksie.

3. Plant Kaapstad groen

Greenpop hou baie geleenthede waar jy hulle kan help om bome in openbare plekke soos parke en skole te plant. Sluit as vrywilliger by hulle aan.

4. Tuine & staproetes

Tuine soos die Kompanjiestuin, De Waal-park en die Groenpunt-park is heerlik vir groepe of as jy net rustig wil sit en lees.

Kaapstad bied ook lekker staproetes aan avontuurlustiges. Besoek Leeukop en Vlaeberg vir kort staproetes.

Johannesburg

1. ’n Toer van Johannesburg en ’n liefdadigheidsoggend

Gee 90 minute van jou tyd aan Better SA. Jy parkeer jou motor by ’n afgespreekte plek en die organisasie laai jou met ’n bus op en neem jou na ’n welwillendheidsprojek van jou keuse. Só kan jy rustig sit en die stad bewonder terwyl jy rondgery word.

2. Maboneng

Gaan loop rond in Maboneng en asem die inspirasie rondom jou in. Op Sondae is die Market on Main-mark ook oop, so daar is oorgenoeg om verniet in te neem op dié besige dag!

jhb

3. Melville-koppies

Dit is gratis om by dié reservaat in te gaan en jy kan self rondstap en een van die mooiste uitsigte oor Johannesburg inneem. Volgens die webtuiste is Melville-koppies die laaste bewaarde bergrug van Johannesburg sedert die ontdekking van goud in 1886.

Besoek dié reservaat eerder in ’n groep as alleen en wees bewus van jou veiligheid.

4. Besoek die Shadow Boxer-buitelugmuseum

Chancellor House is nou ’n nasionale gedenkwaardigheid en het ’n wonderlike buitelugmuseum met tydlyne en inligting wat op die vensters gedruk is. Besoekers lees dié inligting van buite die gebou. Chancellor House is die oorspronklike kantore van Mandela & Tambo Prokureurs.

Die bekende Shadow Boxer-standbeeld van Nelson Mandela staan voor die Johannesburg-landdroshof net oorkant die straat en is op sigself iets om te besoek.

5. Emmerentia-dam & Johannesburg Botaniese Tuin

Beautiful Morning run around my old stomping grounds in #Johannesburg #emmerentiadam #ironmantraining #runtheplanet

A photo posted by Langley Kirkwood (@langleykirkwood) on

Mag jy nooit sê dat Johannesburg nie buitelug-aktiwiteite bied nie. Besoeke aan dié tuin is gratis en byna regdeur die jaar is die grasperk voor die Emmerentia-dam vol groepe mense wat piekniek hou of dié wat ’n rustige plek soek om te lees en werk. Vat jou kombers en neem die mooi rondom jou in.

Hou SARIE.com dop vir gratis vermaakdinge in SA se ander groot stede. 

Bronne: Getaway en South African Tourism