jul07reisartikel1a
Reise

Groter beter hoër Doebai

Wanneer die vliegtuig land, weet jy: In Doebai is dinge nie klein of laag op die woestyn-horison nie. Die lughawegebou op sigself is ’n argitektoniese skepping wat elke jaar meer as 25 miljoen pare voete akkommodeer – en op die trant van vooruitgang sal dit binnekort tot 70 miljoen styg! Wat kom soek al die mense hier?

’n Mens sou dit kon opsom as: Verwondering. Jy weet dalk reeds dat Doebai ’n inkopie-mekka is. Inderdaad, maar daar is veel meer te sien en te beleef as net winskopies . . . en dis besonder gesinsvriendelik. Buite die stad, in die magtige woestyn, kan jy jou verkyk aan die stadsprofiel van hoë torings (wolkekrabbers staan hier bekend as towers). Doebai is een van die wêreld se groot stede wat die vinnigste groei. Skaars 50 jaar gelede – baie jonk in die lewe van ’n stad – was dié landskap ’n stowwerige woestyndorp bestaande uit net sowat 700 families.
Maar toe verander alles. Olie! Doebai het ’n plek geword om in te belê. Geboue het opgeskiet. Hotels om elke draai. Gholfbane. Inkopiesentrums waarin jy jou moeg kan loop. En ’n oorvloed van internasionale handelsmerke. Die hotels is die een so indrukwekkend soos die ander. Dan is die Burj al-Arab beslis iets om te sien – dis die hoogste hotel ter wereld en troon 321 m bo seevlak uit aan die kus van die Persiese Golf. Die ontwerp is geïnspireer deur die bollende seile van ’n skip en is ’n dramatiese huldeblyk aan die seevarende erfenis van die Golf.
Met chauffeurs, private ontvangslokale op elke vloer en ’n magdom butlers wat regstaan om te spring as dit net lyk asof jy iets nodig het. (Dié weelde vra natuurlik ’n paar goue kredietkaarte.)

Inkopies Doebai-styl

  • Teen 2010 sal ’n geraamde 15 miljoen mense jaarliks die stad besoek.
  • Die beplande Bawadi-projek behels 3,7 miljoen m² met onder meer 51 hotels, 60 000 kamers, boetiek- en kommersiële inkopiegeriewe.
  • 3 miljoen koopverslaafdes stroom jaarliks na die Doebai-inkopiefees vir ’n maand van koopkoors en kredietkaarte.
  • Die hoogste gebou ter wêreld, die Burj Dubai, gaan binnekort die heel grootste winkelsentrum huisves – die Dubai Mall met ’n vloeroppervlak van 83 600 m².
  • Die geldeenheid is dirham.
 

 

Jy kan in die woestyn ski teen -2°C!

 

Pret vir die hele gesin
Nie ver van hierdie imposante gebou nie begin die gesinspret. Hulle noem dit Wild Wadi, ’n buitelugwaterpark wat sorg vir oneindige genot vir oud en jonk. Met allerhande waterspeletjies en kunsmatige branderplankry-masjiene is dit ’n oase in die hitte wat soos ’n kombers om die stad lê. Die Jumeirah Sceirah is die hoogste (80 m) en vinnigste vryval-waterglyplank buite die VSA. Oomblikke lank lig jy heeltemal van die baan af en skiet letterlik deur die lug terwyl die swembad teen 80 km/h nader kom. Nog nie afgekoel nie? Gaan onmiddellik Ski Dubai toe, waar jy – in die middel van die woestyn – 5 ski-hellings aantref, so groot soos 3 rugbyvelde. En die temperatuur word konstant tussen -1 en -2° C gehou! Dit maak nie saak hoe onervare jy met die ski’s of sneeuplanke is nie, daar’s oorgenoeg gekwalifiseerde instrukteurs wat ’n ogie oor jou balans sal hou. Vir die minder avontuurlustige ouers is daar die St. Moritz- en Avalanche-restaurant met ’n onbelemmerde uitsig op die hele park. Ski Dubai is in ’n groot inkopiesentrum – en daar is 73 van hulle. ’n Oorweldigende ervaring.

 

Vir vroue is daar ’n spesiale verrassing . . .

 

Maar daar is ook die bekoring van buitelug-markte – die aardse souks met hul Arabiese misterie. Daar’s ’n hele kommersiële distrik (souk-gebied) wat beslis ’n moet vir die reisiger is. Die goue souk is iets om te aanskou. Winkel op winkel met goue juweliersware. Besondere fyn filgreewerk met ’n sterk Indiese invloed is oral te sien. Vir ’n onvergeetlike woestyn-safari word jy by jou hotel opgelaai en in viertrek-voertuie tot in die hartjie van die woestyn geneem – na ’n tipiese Bedoeïen-tent. Die rit soontoe is reeds ’n belewenis. Daar aangekom, kan jy drankies geniet terwyl almal op tapytkussings op die grond sit. Die klanke van eksotiese instrumente klink op uit die binnehof en buikdansers verskyn. Die atmosfeer is opwindend terwyl die vlamme van die braaivure teen die naghemel lek. Vir vroue is daar ’n spesiale verrassing – henna-patrone vir jou hande en arms, delikaat met die hand aangeverf. Dan kameelritte in die donkerte van die woestyn . . . Jy kan ook nie Doebai verlaat sonder aandete op ’n dau (’n pragtige houtboot) nie. Op die dek van die dau geniet jy ’n Arabiese buffet-ete terwyl die stedelike landskap van Doebai verbygly, ’n perfekte manier om op ’n rustige manier ’n besige dag af te sluit.