Reise

Hanlie Neethling-Hughes deel haar ervaringe in die plattelandse dorp, Huairou

Die Neethling-Hughes is China toe, omdat haar man, Graham ‘n werk in China aangebied is in die staalbedryf.  Lees ook in die Novemberuitgawe 2013 van SARIE van die ander interessante dinge wat Hanlie deel.

Is julle verras deur wat julle daar gevind het?
Komende van Johannesburg was dit aan die begin vreemd om so veilig te voel. Dit maak nie saak hoe laat jy êrens gaan nie – jy voel en is veilig, spesifiek hier op die platteland.

As jy nie Mandaryn praat nie, het jy ‘n agterstand, want soveel vrae bly onbeantwoord oor die Chinese en hul kultuur. Die jonger generasie leer Engels op skool, maar is skaam om te praat. Ek’s betrokke by ‘n kunsskool waar ek kinders met Engelse uitsprake help. Gelukkig het die kinders almal Engelse byname, aangesien hul Chinese name onuitspreekbaar is. Die ouers kom dikwels saam klas toe, sodat die hele gesin eintlik Engels leer. Ek was aan die begin ontsenu, maar is nou bly hieroor. Dit stel my bloot aan meer van hul gebruike en gewoontes. Ma en pa sit agter in die klas met ‘n flessie en gee elke nou en dan vir hul kind ‘n bekertjie water. Hulle raak kwaai as die kinders nie oplet of genoeg na hul sin in die klas reageer nie. Die Chinese is gedrewe en dis algemeen vir kinders om na-ure gedurende die week, asook daagliks oor vakansies, ekstra klasse te loop.

Graham en Hanlie Neethling-Hughes
Ek en Graham werk hard aan ons Mandaryn, maar dis ‘n komplekse taal met baie dialekte. Ek waardeer  nou waarom Chinees-Engelse vertalings so lagwekkend kan wees. My woordeskat is redelik goed, maar om dit in sinne om te sit, is moeilik.

Hoe ervaar julle China?
Indien jy hier gelukkig wil wees, moet jy Westerse gewoontes en gebruike doelbewus agterlaat en China met sy gewoontes omhels. Dis moeilik om die mense se reaksie in werksituasies en onderhandelinge te peil, aangesien jy nie seker is hoe om hul reaksies te interpreteer nie.
Tipies platteland is die mense nuuskierig oor die Westerlinge wat tussen hulle nes geskop het. Die mense waarmee ons te doen het, is vriendelik, gasvry en behulpsaam. Hulle aanvaar nie maklik geskenke nie en ons weet steeds nie wat hulle as spesiale geskenke sien nie. Ons suksesvolste poging tot dusver was vars vrugte en neute.

HuairouOns woonstelkompleks is langs ‘n rivier, ‘n ideale vroegoggend stapplek. Ons kry dikwels met sonsopkoms mense wat op die maat van tradisionele musiek Tai Chi doen. Kleurvolle oefenparke is vroegoggend ‘n gewilde bymekaarkomplek. Buitelug-oefenareas is deur die hele dorp versprei. Ons Westerlinge ‘gaan oefen’, terwyl die Chinese doodluiters in hul werksklere by die oefenarea stop, ‘n paar oefeninge doen en dan weer verder gaan.

Screen Shot 2013-09-19 at 3.13.38 PMEk was verras om te sien hoe gewild honde as troeteldiere is. Dit lyk vroegoggend en laatmiddag dikwels soos ‘n modeparade, wanneer almal met hul honde gaan stap. Die honde word pragtig aangetrek, of hul hare word in interessante kapsels omskep.

Die park in ons kompleks is soggens vol oumas en oupas wat kleingoed oppas. Almal kuier en speel saam, totdat ma en pa laatmiddag tuis  kom. Jy sien nooit kindertjies met ‘n fopspeen in die mond nie, maar hulle mag wel aan ‘n mielie kou.Sodra kindertjies begin loop, dra hulle ‘n eienaardige broekie, waarvan die agterste naat oop is. Wanneer die kleinding ‘n draaitjie moet loop, hurk hulle net daar en wie ookal saam is, staan met ‘n botteltjie water en snesies reg, waarmee hulle dan hierdie buitelug ‘toiletplek’ skoonmaak.

Huairou het ‘n paar enorme fabrieke, onder andere Mars, Redbull en Foton, wat duisende jong mense in diens neem, wat daagliks met busse aangery word.  ‘n Groot persentasie werknemers kom vanaf plase en verafgeleë dorpies. In sulke gevalle woon hulle in komplekse naby hul werk en kry selde geleentheid om huis toe te gaan. Baie jongmense breek op die ou end bande met hul families, wat tot allerlei sosiale probleme aan beide kante lei.

Ons pragtige gebied raak gewild onder die jong Beijingers as ‘n naweek- of huweliksonthaalbestemming. Daar’s ‘n groot onthaalsentrum in ons kompleks waar troues daagliks plaasvind. Fotos van die paartjie in hul trouklere word weke voor die onthaal afgeneem en op groot baniere naby die sentrum opgesit. Dis steeds vreemd om ‘n bruid in ‘n bloedrooi trourok te sien, maar rooi is hier ‘n baie gelukkige kleur. Op die dag van die onthaal sit die bruid in die woning, terwyl familie en gaste geskenke en rooi koevertjies met kontant aandra. Die bruidspaar se aankoms by die onthaal word voorafgegaan deur ‘n vloot gehuurde luukse motors. Wanneer die bruidspaar opdaag, beweeg die gaste na buite en vuurwerke word afgeskiet. Wat die spyskaart op die onthaal betref, is die voorgereg dikwels bakkies jogurt, grondbone, sonneblomsaad, vrugte en lekkertjies. Die tafels met hopies doppe en papiere word na die toesprake skoongemaak, gevolg deur die hoofgeregte, wat op die tafel se ‘lazy susan’ gelaai word. Almal eet met stokkies en jy’s nooit seker hoeveel disse daar gaan wees nie. Die ete word afgerond met skottels dun sop, bakke rys en borde vars vrugte. Sodra die onthaal hierdie punt bereik, begin mense stilletjies verdwyn, dikwels sonder om dankie of totsiens te sê. Hulle het nie ‘n fisiese soengroet- of handgroet-kultuur soos ons nie – dikwels net ’n kopknik.

Wat eet julle daar?
Aan die begin was dit ‘n interessante uitdaging. Huairou het ‘n paar groot supermarkte, maar ongelukkig is die inligting op produkte in Chinees, wat ons nie kan lees nie. Dis ‘n uitdaging om te onderskei tussen bakpoeier en meelblom, of  koekmeel met of sonder rysmiddel.

HuairouMy gunsteling uitstappie is om groente, vrugte, slaai en neute by die Huairou boeremark te koop. Groente is baie bekostigbaar, hoewel die pragtige ingevoerde tropiese vrugte van ons buurlande veel duurder is. Die persoonlike kontak by die boeremark is ‘n wonderlike ervaring en met ‘n kombinasie van gebroke Mandaryn en vingertaal, kom ons heel goed reg. Indien ons middagete by die mark is, word ons dikwels noedels of ‘dumplings’ met vleis of groente daarin toegevou, aangebied –  ‘n heerlike ligte maal gekombineer met sterk sampioen atjar.

Ons maak graag self kos en probeer soveel moontlik oor Chinese kos en voorbereidingsmetodes leer. Disse word in happiegrootte stukkies opgekap wat vinnig gaarmaak, hetsy deur roerbraai of stoom, aangesien meeste wonings slegs gasplate het. Vir voorbereiding gebruik jy ‘n vlymskerp ‘cleaver’, terwyl die meng van kos met chopsticks geskied. Die Chinese maak baie gebruik van vars kruie, gemmer, knoffel, chilli en verskeie sesam- en soja-olies, met min sout of suiker. As versoeter word suikerrietsap gebruik, wat ‘n besonderse geur toevoeg.

Somersaande eet almal buite, dikwels sommer op die sypaadjies. ‘n Gewilde manier van kosmaak in die somer is BBQ (biebieque). Stukkies vleis of groente, word op plat metaal stokkies geryg en vinnig oor ‘n kole braaiertjie gaargemaak.

Ons is lief vir ‘Peking Duck’ en ‘Hotpot’ disse. By die Hotpot restaurante, kry jy dat hulle soms meterlange vars noedels binne die restaurant, tussen die mense deur swaai om dit te rek. Sodra dit genoeg gerek het, word hierdie noedels in ‘n pot kokende spesery sous gegooi.

Uiteet op die platteland is veel goedkoper as in stede, of selfs in vergelyking met Suid-Afrika.  China se wyndrinkkultuur is nog in sy kinderskoene, maar hulle maak lekker bier. Die mans drink graag ‘baijiu,’ ‘n gewilde en baie sterk spiritus. Hul glasie-klink ritueel word ‘gambei’ genoem, waarin die drank met een sluk weggeslaan word. Die alkohol inhoud is geweldig hoog en jy moet nie die impak van hierdie drankie onderskat nie.

Gesonde drankies waarmee almal daagliks rondloop, is botteltjies groentee, wat hulle gedurig met warm water aanvul. McDonalds en Kentucky is besig om vinnig gewild te raak en word op grootskaal bemark. Interessant  dat kinders wat met McDonalds of Kentucky kospakkies stap klaar vetter as hul maatjies is.

Interessante ervarings?
Ek kon al ‘n paar maal in hierdie enorme land reis. ‘n Hoogtepunt  was ‘n besoek aan ‘n pragtige streek, genaamd Guilin wat bekend is vir sy unieke ‘karst’-sandsteenformasies met ‘n blougrys skynsel wat deurtrek is met honderde grotte. Dis ‘n lappiesland van ryslanderye met waterbuffels wat in die vlakwater rondloop. Die valleitjies is oortrek met vrugteboorde, groente en grondboonplasies. ‘n Bootrit op die Lijiangrivier tussen Guilin en Yangshuo is ‘n fotograaf se droom, aangesien jy deurentyd omring is deur pragtige sandsteenformasies.

Guilin se karst-sandsteenformasies.

Chinese Nuwe Jaar is natuurlik ‘n belewenis. China kom vir minstens 9 dae tot stilstand en ‘n massa migrasie van familie-kuiers neem oor. Daar is vanjaar glo ver oor ‘n biljoen ritte deur Chinese onderneem. Die tipe geskenke wat hulle vir mekaar saamneem is meestal vrugte, neute, vleis, vis en allerlei drinkgoed.  Daar word dan daagliks vars tradisionele dumplings voorberei.

HuairouVuurwerke word dag en nag afgeskiet tydens Chinese Nuwe Jaar. Dit klink meer soos oorlog en dit laat massas rook, as en dun rooi papierstukkies agter. Daar is allerhande tradisies wat hiermee saamgaan, hoewel die jonger generasie dit deesdae ignoreer. Vuurwerke word dikwels by stalletjies op straat verkoop.