nov07reisartikel1a
Reise

Hastamañana in Mexiko!

Dit neem ons nie lank om ’n taxi na die vasmeerplek te haal nie. Blou lug, blou see – en dít in die hartjie van die Mexikaanse winter. Die water is warm, die briesie soel en die Karibiese See eindeloos. Met Kersfees al om die draai het ons behoefte aan ’n rustige eilandvakansie. Ons neem die veerboot na Isla Mujeres (Eiland van Vroue). Dié klein eilandjie aan die kus van die Mexikaanse staat Quintana Roo is slegs 7 km lank en 1 km breed. Die naam het sy oorsprong weens ’n misverstand in 1517 toe Hernández de Córdoba,’n slawehandelaar, daar aangedoen
en net vroue aangetref het. Al die mans was uit op die see om vis te vang, maar Córdoba het gemeen dié eiland word regeer deur die Maja-godin van vrugbaarheid, Ixchel, en hy
het dit die Eiland van Vroue gedoop.

Die aankoms
Ons handgemaakte Panamahoede, wat ons kort tevore in Mérida aangeskaf het, kom goed te pas in die eilandson. Ons kan nie ophou om die vakmanskap van dié hoede met die swart linneband om die bol te bewonder nie. Dit laat jou voel asof Hemingway hom enige oomblik vir ’n geselsie by ons kan aansluit. Die veerboot meer in die kaai vas. ’n Paar ouer mans met strooihoede en oopgeknoopte hemde maak hulself buite die kajuit tuis. Teen hierdie tyd het die Mexikane al diep in ons harte gekruip – van die taxibestuurders in hul Volkswagen-kewertjies tot die straatsmouse wat lemoensap uit stokou lemoendrukkers pers. En as jy iewers ’n kaart oopvou, is daar altyd ’n verbyganger wat aanbied om aanwysings te gee. ’n Breë glimlag en ’n handgebaar – de nada! (dis niks) – is die standaard-antwoord op ons dankies. Ek verkneukel my daarin dat ek hier en daar ’n paar woorde begin herken. Die Mexikane is gou om jou daarop te wys dat húl Spaans van “Europese Spaans” verskil. Jy soek verniet na diepgebraaide skyfies as frites. Hier is dit papas fritas. Nog woorde wat maklik op die Afrikaanse tong lê, is zócalo (dorpsplein), boleto (kaartjie) en híjole (sleng vir die Engelse wow!) en natuurlik, mañana mañana, wat die tipiese eilandritme dat “môre nog ’n dag is”, saamvat. Die toue word losgemaak op die kaai en nie lank nie toe dreun die veerboot oop see toe.

Met ons eerste poging om verblyf te kry loop ons ’n bloutjie. Die ontvangsdame gee ons rugsakke net een kyk en verklaar die hotel vol. Veel later ontferm’n groot, flambojante eilandvrou haar oor ons. Nadat sy ’n lofsang oor die voortreflikheid van Afrika-mans gelewer het – en skaamteloos vir my Afrikaman flikkers gegooi het – stuur sy ons terug na die hotel: “Sê vir hulle Big Mama stuur julle,” is die opdrag. By die aanhoor van Big Mama se boodskap word ons oombliklik plek gegee. Vir die res van ons verblyf is die ontvangsdame die vriendelikheid self. Ons kom gou agter talle ligte biersoorte word soos koeldrank gedrink en is oral in kafees te koop. Die frase una cerveza fria verseker dat jy ’n ekstra koue een kry. By straatstalletjies koop ons heerlike tostados, tacos en burritos, om maar net ’n paar van die lekkernye te noem. Ons kan egter nie aan die Mexikane se voorliefde vir soetgebak met ontbyt gewoond raak nie. Middagete, of la comida, is die hoofmaaltyd en word tussen een- en vieruur voorgesit. Hier word ’n maaltyd nie vinnig afgesluk nie. Om te eet is ’n feesviering.

 

Van die taxibestuurders in hul Volkswagen-kewers tot die straatsmouse kruip in jou hart

 


Verken die eiland en sy mense

Soggens bring ons op die spierwit strand van Playa los Cocoteros deur. Ná die lang middagete is dit siësta-tyd, waarna die eiland verken word. Saans trek ons saam met die eilandbewoners op die zócalo saam. Hier word nuwe aankomelinge bekyk en nuusbrokkies uitgeruil. Dikwels word musiek gemaak of tradisionele danse uitgevoer, terwyl roomys- en ballonverkopers flink sake doen. Ons ontdek ’n café waar ’n groepie jong mans saans met rietfluite, tromme, skulpe en kitare musiek maak en gaan aand ná aand terug om weer betower te word. Ons raak ook bevriend met die plaaslike skoenmaker wat handgemaakte leersandale met motorbandsole maak. Saans sit hy en sy hele gesin op hul huisie se trappe. Dan speel hy kitaar vir almal wat wil luister. Die eilandbewoners se huise is eenvoudig en in helder, speelse kleure geverf. Die standaardmeubels in menige leefvertrek is ’n TV-stel, ’n paar los stoele en ’n hangmat of twee. Dis niks vreemds om Ouma met haar breiwerk in ’n hangmat voor die TV te sien sit nie. As gevolg van die hoë humiditeit staan deure en vensters oop en spoel die huislewe onwillekeurig oor tot in die straat. Elke huis het ’n klein altaar versier met ’n Christusprent of beeldjies van heiliges. Sommige gesinne drapeer veelkleurige stringe Kersliggies om hul huisaltaartjies. Veral liggies wat elektroniese deuntjies speel, is gewild. Dus: Feliz Navidad! (Geseënde Kersfees.) Die dorpskerk is gewoonlik ’n rustige hawe. Die talle dorpenaars wat kom en gaan, laat ons besef watter sentrale deel die kerk in die Mexikane se lewe speel. Die gebou word gereeld met ’n oorvloed blomme versier en beelde van heilige figure word vir spesiale geleenthede aangetrek.

Die Mexikane het groot respek vir ma’s en moederskap. Moedersdag op 10 Mei is ’n nasionale vakansiedag. Dan vier die hele land fees. Die ma-seun-verhouding is besonder sterk. ’n Skoondogter wat nie met haar skoonma oor die weg kom nie, sal gou ’n uitgeworpene wees. Lojaliteit teenoor die familie word hoog geag en die eer van dogters en susters tot elke prys beskerm . . .

Ons huur ’n klein motorfietsie (moped) om die res van die eiland te verken. Aan die onderpunt lok die ruïnes van Hacienda Mundaca ons nader. Tussen die ruie plantegroei borrel die oorspronklike fontein steeds. Fermín Mundaca de Marchaja het in die negentiende eeu ’n weelderige hacienda (opstal) hier laat bou om die hart van Prisca Gomez te wen. Sy is egter met ’n visser getroud. Volgens ’n plaaslike legende het Mundaca van sy kop af geraak en sy eie grafsteen gemaak voordat hy uiteindelik in eensaamheid gesterf het. Die onrusbarende inskripsie op sy steen in die eilandbegraafplaas lui: “Soos jy is, was ek. Soos ek is, sal jy word.” Die begraafplaas is kleurryk. Die meeste grafte is met veelkleurige badkamerteëls afgewerk en met beeldjies, plastiekblomme, kerse en foto’s versier. Persoonlike items van die afgestorwene word op party grafte uitgestal – ’n teddiebeer, koffiebeker, speelgoedmotortjie, selfs ’n pakkie sigarette. Daar is amper ’n feestelike atmosfeer. Ons gidsboek verduidelik die Mexikane het ’n unieke verhouding met die dood. Die Nobel-pryswenner Octavio Paz skryf in Labyrinth of Solitude: “Die Mexikane is vertroud met die dood, spot daarmee, liefkoos dit, slaap daarmee, vier dit. Die dood is een van sy gunsteling-speelgoed en sy mees getroue liefde.”

Die dag van die dood

Op 2 November vind een van die grootste feeste op die Mexikaanse kalender plaas: Die dag van die dood. Tydens hierdie fees word koekies, brood, lekkers en sjokolade in die vorm van
geraamtes, skedels en doodkiste gemaak en na familie gestuur. ’n Nagwaak word onder leiding van die dorp se hooggeplaastes in die begraafplaas gehou, waarna met oorgawe feesgevier word.

Tot siens aan die Eiland van Vroue
Op die strand van Playa los Cocoteros het ons nou al ons “eie” palmboom. Ons neem ook nie meer ’n boek saam nie, want ons het geleer om soos die Mexikane net te sit en niks doen. Hoe sê Paolo Coelho in sy boek Manual of the Warrior of Light? “Use some time for contemplation and contact with the Soul of the World.” Omdat die see so kalm is, word vissersbootjies sommer in die vlakwater geanker. Ek dryf ure in ’n blou roeibootjie. Bekyk die wolke deur die blokkiespatroon wat my Panamahoed oor my gesig maak. Luister na die klotsgeluidjies van die lui deinings teen die boot se romp. Hier op die Eiland van Vroue het die Mexikane ’n geheim met ons gedeel, iets wat die res van die wêreld nog moet uitvind: Net die rotte sal eendag die spreekwoordelike resies na sukses wen.

 

Wenke

  1. Neem klere vir warm én koue weer (temperature kan baie wissel).
  2. Kleredrag wat vir ons aanvaarbaar is (soos lae halse of kort rokkies), kan aanstoot gee in afgeleë gebiede.
  3. Vra toestemming voordat jy ’n foto van iemand neem. Dis ’n goeie idee om nie foto’s binne kerke en heilige plekke te neem nie.
  4. Maak by jou plaaslike reiskliniek seker van inentings. Medikasie vir hoogtesiekte kan nuttig wees.

Bronne: Let’s Go Mexico, Let’s Go Publications, Cambridge, U.S.A
Lonely Planet Mexico, Lonely Planet Publications Pty. Ltd, Victoria, Australië

 

 

Hou in gedagte

  • Van Mei tot September kan dit baie warm en vogtig wees. November tot Februarie is meer gematig.
  • Mexiko is ’n groot land. Doen jou huiswerk vooraf, besluit op spesifieke besienswaardighede.
  • Busvervoer is bekostigbaar. Eersteklas is geriefliker, maar op tweedeklas-busse leer jy die hart van die mense ken.
  • Veiligheid kan ’n faktor wees in Mexikostad en stede naby die VSA-grens.

Lees die riglyne in reisgidse en slaan ag op plaaslike inwoners se aanbevelings.