Helet Kuhn

Helet Kuhn

Reise

Helet Kuhn is gek oor die Engelse platteland.

Sy woon in Chichester, Wes-Sussex in die Suide van Engeland en volgens haar is dit die Engelse platteland op sy mooiste!

Sy vertel dat die natuurlike blommeprag in Sussex in die lente ongelooflik is, veral die grasklokkiewoud by Kingley Vale, net buite Chichester. Die stad is gerieflik geleë. Sy kan van daar binne ’n uur en ’n half per trein na Londen reis en dis ook naby aan Brighton, Portsmouth en Southampton wat dit maklik maak om die Engelse kanaal te kruis vir reis na Frankryk en die res van Europa.

Lees in die Novemberuitgawe van SARIE meer oor haar lewe in Chichester.

 

Grasklokkiewoud by Kingley Vale.

Grasklokkiewoud by Kingley Vale.

 

Wat maak Chichester vir jou uitsonderlik?
Dis omring deur die South Downs, ’n bergreeks wat die dorp beskerm teen die ergste Engelse winters. Hier is selfs ’n wingerd en wynlandgoed, ‘Tinwood’. ’n Jaar gelede het hul uitvoervonkelwyn selfs die Franse sjampanje van Reims verbygesteek in die vonkelwyn kompetisie. In die middel van die dorp is ’n pragtige katedraal en dié gebied is ryk aan kuns en kultuur met die bekende ‘Lawrence Olivier Festival Theatre’ en ‘New Park Cinema’ waarvan Dame Maggie Smith en Kenneth Branagh onderskeidelik beskermvrou en beskermheer is. Die aktrises Judi Dench en Kate Winslet woon ook in die omgewing.

Chichester-katedraal

Chichester-katedraal

Die grootste trekpleister is sekerlik ‘Goodwood’, ’n gesogte plattelandse landgoed wat jaarliks die ‘Glorius Goodwood’-perdewedrenne aanbied, sowel as ’n ‘Festival of speed’ wat ’n ‘grand prix’ uit ’n vorige era simboliseer en die gesogte ‘Goodwood Revival’ (’n 1950’s-naweek waar mense van heinde en verre kom en hulself uitvat in die klerestyl van dié era en dan met hul veteraanmotors die geleentheid bywoon). Sommige vlieg selfs in met hul Tiger Moths, want Goodwood het ook sy eie vliegveld. Prince Harry, Kylie Minogue, Zara Phillips en selfs Tom Cruise het al ’n draai kom maak!

Een van Chichester se "public houses".

Een van Chichester se “public houses”.

Cowdray Park net buite Chichester huisves die jaarlikse Veuve Clicquot Polowedstryd, ’n groot geleentheid vir polospelers van regoor die wêreld. Die naaste strandfront aan Chichester is West Wittering wat ’n heerlike breë sandstrand het waar baie watersport beoefen word. Hier is ’n ook groot seilgemeenskap en mens kan vir ’n dag seil na Cowes, Engeland se seilmekka op die Isle of Wight.

Hoe vier julle Kersfees daar en wat maak dit anders as Kersfees in Suid-Afrika?
Kersfees in Engeland is baie knus met ’n amper ‘gewyde’ atmosfeer. Die tradisies is wel baie dieselfde as in Suid-Afrika. Kerssangdienste is volop en die koorstemme tussen kerslig in die Chichester Katedraal is sekerlik die naaste aan engelsang. Kersinkope is baie groot en ’n maand voor Kersfees bly die winkels oop tot nege saans. Oral ruik jy die geure van geroosterde kastaiings, ‘mince pies’ en glühwein. Elke jaar kan jy in Londen gaan ysskaats met Kersliggies wat alles feestelik laat vertoon. Die Royal Albert Hall bied elke jaar ’n kerssangaand aan. Ek het dit al twee maal saam met vriende bygewoon. Dis nog steeds belangrik om saam met vriende of familie bymekaar te kom en ’n kersete voor te berei. Te midde van al die besige geleenthede rondom die kersseisoen, raak ons steeds stil rondom Kersfees se enigste groot betekenis.

Lees die kuberkuier met Helet in die Novemberuitgawe van SARIE.

Uitsig oor die pragtige plattelandse landskap.

Uitsig oor die pragtige plattelandse landskap.

 

  • Tjaart Herbst

    Pragtig. Wens ek kon dit self beleef en ervaar