aug05reisartikel1a
Reise

Hemelse paradyseiland

Êrens in die vroeë oggendure land ons in Hongkong. Daarna Indonesië: Denpasar in Bali . . . Bali is een van duisende klein Indonesiese eilande – oor sy skouer loer Australië en Asië, en om dié eksotiese eiland se voete kabbel die waters van die Stille en Indiese Oseane. Ons word begroet met die sagte klanke van ’n Balinese orkessie wat rustig in die lughawe se portaal sit en speel. Ons toergids wag ons in met ’n groot, wit glimlag. Netjies uitgevat in ’n batikhemp, kopdoek en sarong. Die volgende paar dae het ons hom in hierdie uniform, en met sy skerp sin vir humor beter leer ken. Sy naam is Baskara. Hy gesels flink in sy Balinese Engels en laai ons ses besoekers in sy lugverkoelde bussie.

 

Net waar jy kyk, is reusepotte vol wit en pienk orgidieë.

 

Hy verduidelik dadelik ons hoef nie vir die woelige verkeer te skrik nie – duisende bromponies, motors en bussies ry in elke wind rigting. Die Balinese is seker die rustigste bestuurders op aarde – almal gebruik hul toeter, maar hulle sê eintlik: “Dis nou jou beurt” of “Laat ek gou verbykom”. Geen padwoede of ongeduld nie. Dis ook glad nie ’n ongewone gesig om ’n hele gesin op een bromponie te sien nie. Twee kleintjies voor, tussen pa se arms, en ma sit sywaarts agterop, met ’n groot mandjie blomme op haar skoot. Almal deftig uitgevat in helderkleurige uitrustings, gewoonlik op pad na ’n tempel. Ons voel taai en moeg, maar dit maak gou plek vir ’n gevoel van groot lekkerte toe die personeel van die Nusa Dua Hotel ons met ’n geurige frangipani-blomkrans vir elkeen inwag. Net waar jy kyk, is reusepotte vol wit en pienk orgidieë. In Bali is dit so algemeen soos gousblomme by ons. Ons kry elkeen ’n glas yskoue vrugtesap voor ons na ons luukse kamers geneem word. Die hotel is op die strand en is een waarin jy kan verdwaal. Die swembad is só groot ek het vir ’n oomblik gedink dis die oseaan. Palmbome, lê-stoele, sagte groot handdoeke, ’n massering teen ’n prys waaroor jy kan onderhandel . . . Die aand word ons op ’n egte Balinese ete getrakteer – vars geelvin-tuna slaai met ’n sitroengras-en-rissiesous, groen papaja-sop met varswater-garnale, hoender in palmblare gebak, en ’n verskeidenheid Balinese nageregte. En al wou my oë toe val, moes ek later van die Indonesiese vrugte in my kamer proe – met name soos mangosteen, salak en sawo. En so eksoties soos die name is, so eksoties is die smaak.

Winskopies en verwondering
Ná ’n feestelike ontbyt is dit strand toe. Maar ons kon maar nie ons lê kry nie en toe ’n vallende kokosneut die rus verstoor, het ons besluit die dag is té kort om met ’n gestrand-sittery te mors. Ons toerleier, Sharon Preston, wat ’n winskopie tot op ’n volgende dorpie kan ruik, het ons in ’n taxi gestop en na Denpasar se Galeria DFS, ’n belastingvrye afdelingswinkel, geneem. Daarna het ons die straatmark aangedurf, maar gou besef ons is nog nie teen Balinese prysonderhandelings opgewasse nie. Die geldeenheid is Indonesiese roepia en werk in duisende teenoor die SA rand (1 450 roepia is sowat R1). Ek het aanvanklik maar my beursie styf toegehou, want ek kon nie kop of stert uitmaak wat is goedkoop en wat is duur nie.

Die volgende oggend vroeg was dit tyd vir ons eerste égte Balinese inkopieondervinding. Ons eindbestemming was Batur, met sy pragtige meer en vulkaan. Baskara gee ons vinnig ’n les in prysonderhandelings en om die geldeenheid te verstaan. Dis toe eintlik heel eenvoudig – jy druk die laaste 3 nulle toe om min of meer die randwaarde te kry. En jy praat net as jy régtig belang stel (anders los die verkopers jou nie uit nie), en dan begin jy onderhandel. My reisgenoot Tracey was ’n meester – sy halveer die prys en dan kibbel sy vorentoe en agtertoe totdat daar eenstemmigheid is. Nooit, maar nooit, raak die inwoners onbeskof of ongeduldig nie. Dit was ’n ware les in goeie kliëntediens!

 

Só kronkel ons voort deur die lowergroen landskap met vrugtebome, blomme en varings

 

Baskara neem ons van die een klein dorpie na die ander. Jy kan nie vinnig genoeg rondkyk nie – as jy jou hand by die venster uitsteek, raak jy aan skure vol sandsteenbeelde, meubels en houtsneewerke. Omtrent elke dorp het ’n reuse-standbeeld en êrens is ’n swart-en-wit geruite doek gedrapeer – dit simboliseer die ewige stryd tussen goed en kwaad. In Tohpati kyk ons hoe die plaaslike vroue batikwerk doen en besoek ’n groot winkel waar die mooiste sy-batikwerk, sakke, serpe en klere te koop is. In Batubalan stop ons vir Balinese barong-danse – dramaties en kleurryk. Hier is ook pragtige sandsteen- en klipwerke te sien. Ons volgende stop is Celuk, waar ons ’n groot silwer-en-goudwinkel besoek. Ook hier sit die vroue rustig en juwele maak. Ons koop en koop. By Mas val my mond oop – skure vol houtmeubels!

Só kronkel ons voort deur die lowergroen landskap met vrugtebome, blomme en varings tot by Batur. Die vulkaan en meer slaan jou asem weg. Ná middagete ry ons dieselfde pad terug en ons geduldige gids stop net waar ons vra en ons koop en koop nóg! Bali is nie baie groot nie, die klein dorpies vloei inmekaar en al koop jy niks nie, kan jy jou aan die omgewing verkyk. G’n wonder hulle noem dit die paradyseiland nie.

Aandete op die see
Ná ’n dag van inkopies en visuele oorlading is daar nie sprake van vroeg gaan slaap nie, nee. Sharon bondel ons in die minibus sonder om te verklap waarheen ons gaan. Dit raak ’n onvergeetlike aand. Die bussie neem ons na Jimbaran en stop voor ’n valerige restaurant, The New Melasti Café. Valerig, maar as jy deur die sanderige ingangsportaal stap, wag ’n asemrowende gesig: ’n Spieëlgladde see met brandertjies wat klots-klots voor jou tafel breek. Die gedekte tafels is letterlik tot teen die branders. Die sjarmante kelner en my toermaat, Ursula, oorreed my om ’n skemerkelkie genaamd Jungle Juice te drink – te lekker vir woorde, maar glo my, een is genoeg. Ons eet heerlike seekos en ’n slaai van jong groenbone en wilde spinasie terwyl ons tone in die seesand krul. Uit die niet verskyn ’n groepie minnesangers – wat jou huis toe laat verlang.

Inkopie-paradys en groen landskappe
Op dag drie besoek ons Kuta. Dit is ’n inkopie-paradys! Legianstraat en rondom die plein is die een winkel op die ander – van ontwerperswinkels tot klein, informele straatmarkte. Plat, gemaklike skoene is ’n moet, want die sypaadjies is smal en ongelyk. Nie ver van Kuta af nie is die pragtige tempel genaamd Tanah Lot. Daar is letterlik duisende tempels in Bali en elkeen het sy eie bekoring, ’n moet om te sien. Dié dag is ’n spesiale aanbiddingsdag – die vroue is pragtig geklee in helderkleurige kantbloese, syrompe en fyn sandale. Al geselsend stap hulle in rye na die tempel. Elkeen dra ’n veelkleurige mandjie waarin ’n toring blomme en vrugte gerangskik is. Hierin is brandende wierook gedruk. Dit lyk en ruik hemels.

 

Jy kan nie glo dat vingerbewegings so sensueel kan wees nie

 

Weer kronkel ons deur die noordelike deel van Bali – hier word hoofsaaklik met groente geboer. Baskara gaan wys ons die rysvelde, ry verby ’n reuse-groentemark, en ons eet weer ’n heerlike middagete in Bedugul. Daarna besoek ons die meer by Beratan met ’n mooi tuin waarin jy kan ronddwaal en ’n rits stalletjies met klere en mandjies en snuisterye. Die volgende dag vertrek ons na Ubud – die kulturele hartklop van Bali. Ons ry weer deur die groen-groen landskap en Ubud stel nie teleur nie. Dis die een kunsgalery op die ander, sandsteenwerke, houtsneewerke, meubels, geskenk- en antiekwinkels net waar jy kyk. Die dag het nie genoeg ure nie.

Ons bly in die pragtige Maya Ubud Hotel en Spa – tussen groen berge omring deur ’n reuse-, asemrowende tuin. Onder wit sambrele en sagte kerslig word ons die aand op Balinese legong-danse getrakteer. Jy kan nie glo dat vingerbewegings so sensueel kan wees nie. Vroeg die volgende oggend laai die hotel se bussie ons by die Ubud-plein af om vir oulaas te verken, te kyk, te begeer en te koop.

Voetseer en moeg pak ons die aand ons tasse. Baskara trakteer ons vir oulaas op ’n eg Balinese ete. Ons sit soos adellikes in ’n oop houthut op sagte kussings en eet geurige kos. Rys met saffraan, gebraaide neute en tofoe, hoender en varkvleis met groenbone en wilde spinasie. Vir nagereg is daar mango en aarbeiroomys.

Ons verlaat Bali met ’n seer hart. ’n Plek van skoonheid, rustigheid. En baie vriendelikheid.