Sonsopkoms oor Sohar.

Sonsopkoms oor Sohar.

Reise

Herbert Otto vertel meer oor sy lewe in Oman.

Hy woon in Sohar, Oman, en is ’n biologie onderwyser vir senior studente by ’n internasionale skool.

Lees meer oor sy lewe in Oman in die Junie uitgawe van SARIE.

Wat was die vreemdste aspek van die kultuur waarmee jy daar gekonfronteer is?
Oman is deel van die Golf-lande en is hoofsaaklik Arabies van oorsprong. Die mans dra die wit dish-dasher wat deur die meeste volgelinge van Islam gedra word. Vrouens dra swart burkas bo-oor hul klere. Gelukkig is die Omane nie so streng met hul wette soos in Saoedi-Arabië nie en het mense die vryheid om ook westerse klere te dra. Mans mag meestal nie aan vrouens raak nie, alhoewel ek al paartjies gesien het hande vashou in die winkelsentrums. In Aboe Dhabi in die V.A.E. is dit vir mans en vrouens taboe om net naby mekaar te staan. Ons het eendag ’n nuwe onderwyser gehad en toe die hoof haar aan my voorstel, steek ek my hand uit om te groet – sy het net weggekyk en haar kop geskud. So leer mens maar.

Saam met Mariette Peens by 'n kunsuitstalling.

Saam met Mariette Peens by ‘n kunsuitstalling.

As ek hoor Oman, dan dink ek aan woestyn. Is daar diere- en plantelewe wat natuurlik voorkom?
Oman is baie soos Suid-Afrika met ’n kuslyn van ongeveer 1 700km, alhoewel die binneland meestal dorre woestyn is. ’n Ander verbintenis met Suid-Afrika is dat die skilpaaie van Oman af na die noordelike KZN-kus en Mosambiek swem om daar eiers in die sand te lê. Vyf  soorte skilpaaie kom in Oman voor, waarvan vier ook aan die Omaanse kus eiers lê. Van die vyf skilpaaie wat voorkom, is drie bedreigde spesies (Green Turtle, Loggerhead Turtle & Oliver Ridley Turtle), een word krities bedreig (Hawksbill Turtle) en die vyfde is ’n besoeker aan die Omaanse kus (Leatherback Turtle). Alhoewel die strande waar die skilpaaie broei, beskerm word, word hier steeds toegelaat dat mense op die strand mag kampeer. So, ons het tot op die strand met ons viertrek-voertuig gery en tent opgeslaan. Ons was baie bedag op die omgewing en het asbliksakke saamgeneem. Ná die naweek is daar ook vullisverwyderaars wat die omgewing skoonhou. Die strande is ’n paradys vir skulpversamelaars en dis nogal interessant om te sien hoe die seegety die strand stroop van skulpe en dan die volgende dag haar ‘juweel’-koffers oopmaak en die ‘juwele’ weer uitpak op die strand. Skulpe wissel van die bekende ‘cowries’ wat die San ook gebruik het as geldeenheid, tot stekelrige Murex-skulpe, die delikate Tonus-skulp en die platter, driehoekige bivalvia skulpe wat ons langs strande kry.

Skulpe op die strand by Sohar.

Skulpe op die strand by Sohar.

Daar’s ook ongeveer 60 verskillende vlinderspesies in die land, alhoewel die land maar woestynagtig is. Die meeste skoenlappers kom voor in die natter Dhofar-gebied in die suide, en meestal wanneer dit gereën het. Daar’s egter geharde spesies wat die woestyntoestande kan oorleef deur op akasias te voed. Dié bome dien as voedselplant vir sommige vlinderspesies se larwes (of wurms) en ook as nektarplant vir die volwasse vlinder soos die Swartstreep-kortstertjie wat ook in SA voorkom. Binne die dorpe is daar ook sekere gebiede waar daar kleinhoewes is, met meestal Indiese- of Bangladeshi-inwoners. Hulle plant gewasse as veevoeding. Soms is hierdie natgeleide gewasse soos swartbekboontjies dan ook voedselplante vir van die vlinders bv. die Osiris-dowwebloutjie wat ook in SA voorkom. Volgens my mening is hierdie kleinskaal-boerdery ook verantwoordelik vir die wyer verspreiding van sekere vlinders. As die mens nie hier was om die gewasse te plant en nat te lei nie, sou die vlinder ook nie hier gewees het nie. Die Osiris-dowwebloutjie is ook in die droë noorde van Sohar gevind – amper 850km soos die kraai vlieg van Şalãlah af, die vorige naaste bekende plek waar die vlinder voorkom.

My foto van 'n Osiris Dowwebloutjie wyfie.

My foto van ‘n Osiris Dowwebloutjie wyfie.

Hoe bestee jy jou vrye tyd daar?
Stokperdjies. Dis ’n groot deel van enigeen se lewe en ’n groot lewensles. Dit maak die lewe net soveel ryker en makliker. Ek speel kitaar en sing (meestal met die deur toe, sodat ek nie die bure laat trek nie!) Ek fotografeer vlinders en het begin om skulpe te versamel. Ons kunsonderwyseres het ’n kunsuitstalling by die SA Ambassade in Maskat, die hoofstad, gereël en ek het van my vlinderfoto’s uitgestal. ’n Eksklusiewe oord het ons werk gesien en gevra dat ons ’n voorlegging doen om kuns- en skoenlapper-fotosessies by hulle aan te bied.

Op die ongelooflike Liwa-strand reg langs die Sohar-hawe kan mense ure deurbring om skulpe op te tel. Eendag toe ek so kop onderstebo loop en skulpe optel, stop daar ’n Omaan in sy bakkie en grawe agterop die bak rond. Hy stap na my toe en hou ’n skulp uit en sê: “From my side I would just like to give you this.” Ek was stomgeslaan en het die man hartlik bedank. Hy het die skulp in ’n visvangnet van sy boot af gekry. Eers het ek nie die skulp herken nie, maar later het ek geleer dis ’n Lister’s Conch of Angelwing. Die skulp kom voor in Indië, oorkant die Golf van Oman, maar ek is nie seker of dit al in Oman ontdek is nie.

Marina Trautmann, my tante en ek kyk na vlinders.

Marina Trautmann, my tante, en ek kyk na vlinders.

Oman het ook 250 algemene voëlspesies wat ’n fotograaf lok om hulle af te neem – veral met die pragtige sonsopkomste met ’n kakofonie vanoor die hele kleurspektrum.
Ek is ook besig om ’n boek te skryf, ’n lewensgids vir tieners en volwassenes. Die boek gee mens net ’n ander uitkyk op die lewe en veral op waardes en norme wat ons as mense vanselfsprekend aanvaar.
Wie wil nou verveeld wees of vasgevang word op jou selfoon? Gebruik daai kamera vir ’n goeie doel! Die toekoms is ’n wonderlike ding – wie weet wat dit inhou?

Van my foto's teen die muur.

Van my foto’s teen die muur.