Johannes Myburgh. 
FOTO verskaf

Johannes Myburgh. FOTO verskaf

#SARIEsport

Hy gaan, en hy gaan nie die Olimpiese Spele bywoon nie …

Johannes Myburgh ervaar ’n dilemma. Hy is in Rio de Janeiro waar die Olimpiese Spele plaasvind. Maar weens sy werk sal hy net buite die stadions wees en sal hy nie ons Suid-Afrikaanse atlete self sien deelneem nie.

Hy woon en werk reeds vir ’n jaar in Rio de Janeiro, Brasilië.

Wanneer en waarom is jy Rio toe?
Suid-Amerika het my lank gefassineer. In 2014 het ek die geleentheid gekry om na Uruguay te trek, en verlede jaar het my werk iemand in Rio de Janeiro nodig gehad om te help met die aanloop tot Olimpiese Spele. Ek woon nou amper ’n jaar al hier. Ek is video-joernalis by ’n internasionale nuusagentskap. Ek skiet video’s van internasionale nuusgebeure. Daar is baie afwisseling – natuur, sport, kultuur, protestoptogte … Hierdie jaar het Brasilië boonop ’n politieke krisis ondergaan met die omstrede skorsing van President Dilma Rousseff. Dit het beteken baie reis na die hoofstad, Brasilië. Ek het ook verlede jaar die sogenaamde ‘Inheemse Olimpiese Spele’ gedek. Dit was ’n sportbyeenkoms van inheemse groepe van reg oor die wêreld: indiane van die Amerikas, Maori’s van Nieu-Seeland ens. Dit was baie interessant om almal in hul tradisionele klere te sien loop en foto’s neem met hul slimfone!

Hoe is die mense gevoel oor die Spele?
Die mense hier blyk vir my ’n bietjie tam te wees oor die hele storie. Die Spele bring nie soveel opwinding soos ’n sokkerwêreldbeker nie en is beperk tot een stad. Die Spele kom boonop te midde van erge politieke en ekonomiese krisis en die grootste korrupsie-skandaal in die land se geskiedenis. Die Rousseff-skorsingsaak was baie traumaties. Mense se aandag is bloot elders. Noudat dit amper begin is hier wel ’n energie in Rio, gedeeltelik omdat hier tienduisende mense van reg oor die wêreld is wat kom deelneem en werk in die Spele.

Gaan jy die Spele bywoon?
Ja en nee! Ek het na Rio gekom om ons dekking van die Spele te versterk, maar ons mag nie die sportbyeenkomste afneem nie. Dit beteken ek is buite die stadions en doen nou maar goedjies rondom. So naby, maar so ver!

Johannes by Olimpiese medajes in die  Olimpiese museum in Rio. FOTO: verksaf

Johannes by Olimpiese medaljes in die Olimpiese museum in Rio. FOTO verskaf

Hoe lyk die politiek nou in Brasilië en het dit ’n invloed op die Spele?
’n Groep politici het Rousseff se lae polulariteit gebruik om haar as president te skors op ’n tegniese punt. Sy is tans tydelik geskors terwyl haar vise-president waarneem. Die Senaat gaan finaal stem in die tydperk tussen die Olimpiese en Paralimpiese Spele. Alle aanduidings is sy gaan permanent verwyder word. Die skommelinge het nie ’n direkte invloed op die Spele se organisering nie – alles was reeds gereël en die burgemeester van Rio is in elk geval nie van Rousseff se party nie.
Dit het wel ’n paar diplomatieke implikasies. Volgens tradisie open die gasland se staatshoof die Spele amptelik. Hierdie keer is dit Michel Temer, die waarnemende president en Rousseff se aartsvyand. Rousseff is uitgenooi maar sê sy weier om ‘as toeskouer’ deel te neem aan ’n geleentheid wat sy gekonsepsualiseer het.
’n Ander moontlike gevolg is die lae getal staatshoofde wat die openingseremonie gaan bywoon. Is dit dalk omdat lande nie met die politieke skommeling geassosieer wil word nie?

Kry jy tyd om te reis?
Ek reis gereeld vir my werk – na São Paulo, Brasilië, en dan ander lande soos Peru, Argentinië en Chili. Daar was nog nie soveel tyd om vir genot te reis nie, maar wanneer moontlik verken ek Brasilië, soos Salvador in die noordooste, waar die grootste konsentrasie slawe was. Dis ook die geboorteplek van baie aspekte van Brasiliaanse kultuur, soos karnaval en Samba-musiek.

Wat is die lekkerste ding van om daar te woon?
Dit is baie anders, vreemd, en eksoties. Jy leer om met nuwe oë na die lewe en jou eie wêreld te kyk.  Rio de Janeiro het natuurlik ook asemrowende natuurskoon met die berge wat so uit die see verrys.

En die slegste?
Dis baie anders, vreemd, en eksoties. Dit verg baie energie om ’n nuwe administratiewe stelsel te leer ken (ek verstaan nou nog nie hoe my bank werk nie). Dis baie eensaam. Jy mis mense wat jou taal praat en jou grappies verstaan. Dis ’n ongelooflike voorreg, maar ’n mens moet mooi dink of jy daardie opofferings wil maak.

Hierdie foto het ek by die karnaval geneem verlede jaar. FOTO: verskaf

Hierdie foto het ek by die karnaval geneem in Februarie vanjaar. FOTO verskaf