mei07reisartikel1a
Reise

In die land van Cheddar

Swart jackdaw-kraaie duik en swiep in die lug. Hul roepklanke weerklink teen die kranse aan die oorkant. Ons hoor ’n edelvalk skreeu en sien hy het pas ’n voëltjie gevang. Ek sit op ’n plat, swart klip om te rus. Ons het halfpad teen die steil kranse opgeklouter. Ek ruik wilde kruie en neem foto’s van pragtige veldblomme soos pimpernel, wildesalie en kliprose. My sintuie en longe juig.

Cheddar Gorge is in die suidweste van Engeland, met die hoogste kranse in die land, miljoene jare gelede gevorm toe ys ná die ystydperk begin smelt het. Die water het ’n siedende rivier geword wat sy pad deur die ysterklip gevreet en die kranse en vallei agtergelaat het. Die Cheddar Yeo-rivier is een van Engeland se grootste ondergrondse riviere en is verantwoordelik vir die vele grotte in die Mendip-berge. Cough- en Cox-grotte (en die plaaslike vlermuise) is ’n groot toeriste-attraksie met indrukwekkende stalaktiete, stalagmiete en heliktiete (stalaktiete met vertakte kronkelings). ’n Skaap blêr hoër op in die kloof. Dié wilde soay-bergskape kom uit die Bronstydperk. Die kleintjies kyk ons van ’n hoogte af aan, hul oë op splete getrek. Ons sien drie baie veglustige ooie, elk met indrukwekkende horings. Hulle mor onderlangs en toe begin die kopstampery. In die vallei lê die ou dorpie op die walle van die Yeo-rivier. Die huisies is met die donkergrys klip uit die berge gebou. Konings en ryk feodale heersers soos die De Cheddres het die rivier se loop deur die eeue gemanipuleer met brûe, sluise en damme. Daar was 15 graanmeule en in die Victoriaanse era is selfs klere hier vervaardig. Baie van die gastehuise en pubs langs die rivier word in hierdie eertydse meule gehuisves.

Bruingebrande toeriste suig aan roomyse en drentel op die sypaadjies en druk hul neuse plat teen die Cheddar Sweet Kitchen se venster. Die lekkers glinster in die oggendson. Die siderwinkel is ook al oop. Die Somerset-provinsie is bekend vir sy appels soos Dabinetts en Somerset Redstreak, waarvan dié drankie gemaak word. Vir ons – wat vroeg die oggend uit Londen vertrek het – is dit tyd vir ’n egte Engelse ontbyt – fry-up in a greasy spoon, soos hulle dit hier noem. Ons borde is tot oorlopens toe vol – gebakte eiers, spek, varkworsies, tamaties, aartappelkoekies, sampioene, geblikte boontjies, bros geroosterde brood met heerlike suurlemoen-marmelade en vars gebroude “Ingelse” tee. Ons kafee is langs die beroemde cheddar-kaasfabriek.

 

Cheddaring is wanneer die wrongel in blokke gesny word sodat die wei kan ontsnap

 

’n Bietjie meer oor cheddar
Daar is baie teorieë oor die naam “cheddar”. Party meen dis afgelei van ceodre, ’n Keltiese woord wat beursie beteken. Maar by die Cheddar Gorge Cheese Company sê ons toergids, ’n vriendelike vrou in ’n wit jas, dat die dorp Cheddar genoem is na die kaasmaakproses. Cheddaring is wanneer die wrongel (krummelrige tekstuur) in blokke gesny word sodat die wei kan ontsnap. “Eintlik,” sê sy, “is ons cheddar baie uniek omdat dit met die hand gemaak word.”  Bakterieë word gebruik om die melk dik te maak. ’n Vegetariese stremsel word bygevoeg en die dikmelk word verhit tot 42 °C. Ná ’n paar uur word die wrongel oorgeskep in ’n ander houer en die wei weggepomp. Dan word dit “gecheddar”. As die laaste wei uitgesyfer het, word die kaas in silinders gesit teen 7 bar druk om nog wei uit te pers. Die proses duur drie dae en die dromme word gereeld gedraai. Die kaas word dan bedek om te verouder. Eers word dit met kookwater afgespoel en vet gesmeer, en twee moeseliendoeke word om elke silinder kaas (dit weeg 27 kg) gedraai. Dit gee die kaas die harde skil, waar die meeste geur sit, sê sy. Daniel Dafoe het glo in 1724 die eerste cheddar-resep neergeskryf. En in Charles I se tyd was die kaas só skaars dat jy moes opdok nog voor die eerste koeispeen getrek is. Andy Paton, die kaasmaker wat hom by ons aangesluit het, is so skerp soos die kaas en vol kwinkslae. Volgens hom het ’n jong maagd eendag haar kan melk in die grotte vergeet en toe sy die volgende dag teruggaan, het dit dik geword. Dit het nie sleg geproe nie, veral met sout by om dit te preserveer. En siedaar, Cheddar en cheddar (dorp en kaas) is gebore.

Die toer eindig natuurlik in die winkel waar die kasregister sing en die yskaste kreun onder die gewone cheddar-kaas van verskillende verouderingsfases – lig tot baie verouder. Daar is
ook gegeurde cheddar-kase – met ’n skeut port, rooi-ui en tamatie, ui en gras-ui, sider, knoffel en gras-ui, wildeknoffel en kruie, asook kaas gerook oor eikehout. Uiteindelik kan ek myself onvoorwaardelik oorgee aan die kaas . . . Ek proe die wildeknoffel-en-kruie-kaas. Dis lekker sout en geurig, en wil net-net die tong brand. Die geur trek tot diep agter in my keel en weer terug deur die neusvleuels. Die kaas is ryk en romerig, heerlik. Ek ontmoet die man verantwoordelik vir dié unieke kaassensasies.

 

Die kaas is ryk en romerig. Die geur trek tot diep agter in my keel

Man agter die kaas
John Spencer het dié fabriek vier jaar gelede gekoop, gerestoureer en nuwe kase ontwikkel. “Dis nie maklik om ons oorspronklike cheddar te bemark nie, want die hele wêreld maak dié kaas. Ons gebruik die melk van een plaas hier naby. Die melk proe dus soos die omgewing omdat die koeie die natuurlike plante eet. Ons pasteuriseer nie die melk nie – dit vernietig die geur. Die kaas is handgemaak en verouder in moeselien teen ’n sekere temperatuur, en nie met ’n vakuum-proses nie. En die kruie word in die begin van die proses bygevoeg sodat die geur regdeur trek.” Dié kaasmaker eet graag sy medium-verouderde kaas met vrugte en bier. Een van sy gunsteling-geregte is om die gegeurde cheddarkaas in rou deeg te sit voor dit in rolletjies gerol en gebak word. Die kaas en die geure trek deur die hele broodrolletjie en moet vuurwarm uit die oond geëet word. Terug in die winkel láái ons die mandjie. Môre wil ons weer gaan bergklim met ’n mandjie vol kaas, brood, appelwyn en lekkers, vars aarbeie met dik, beter-as-botter Devonshire-room, wat clotted cream genoem word.

Ander ekspedisies
Ons gaan ook die 9 000 jaar oue geraamte in Gough se grot bekyk. Dis die oudste volledige geraamte wat in Brittanje ontdek is. Daar is bewyse dat dié oerman (Cheddar Man) kannibalistiese voorkeure gehad het. Bene van leeus, bisons en mammoete is ook in die grotte ontdek. Miskien moet ons ook ’n grot-ekspedisie waag in die berg se maag, en die mere en kristalle in die Cox-grotte bewonder, of die 254 trappe buite gaan klim teen Jacob’s Ladder op tot bo-op die kruin. Dié staproete van 5 km is op die kruin van die kloof. En as die kooplus my nie wil verlaat nie, is daar ook die Dinsdagmark, die boeremark en die kattebakmarkte. Cheddar is ’n paradys vir buitelug-entoesiaste. Jy kan ernstig fietsry (kyk by www.cheddar-challenge.co.uk), hardloop, boogskiet, sweefvlugte onderneem, aarbeie pluk, perdry en roei. Die bekendste dorpe in die omgewing is Bath (Romeinse baddens, museums, argitektuur), Longleat (herehuis en safaripark), Wells (katedraal en paleis), Glastonbury (ruïne en Boheemse winkeltjies) en Stonehenge.

 

Die pot tee stoom van lekkerkry

 

Die Strawberry Line is ’n ou spoorlyn tussen Winscombe en Cheddar, wat omgeskep is in ’n fietspad van 16 km en jy kan watervoëls, ou kerkies, forte, stasie-geboue en vrugteboorde afneem. Die spoorlyn is ’n eeu lank gebruik deur  stoomlokomotiewe om Victoriaanse toeriste na Cheddar te bring en om kaas, klip, papier, meel en aarbeie te vervoer. Wat my natuurlik dadelik lus maak vir ’n tradisionele middagtee oftewel cream tea. Laatmiddag drentel ons na ’n restaurant teen die helling van die kloof, en ontspan onder ’n boom met groot, goue blare. Die pitjies in die aarbeikonfyt knars onder my tande, die dik room smelt op my tong en die skons vul my kieste. Die pot tee stoom van lekkerkry. Hier gaan ons vertoef so lank ons kan!

 

Nog inligting

www.cheddarsomerset.co.uk

www.cheddargorgecheeseco.co.uk