FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Reise

Irma Laas se avontuurlus laat haar oorsee reis en werk

Irma is ’n graadeen-juffrou in Sjanghai, China en is mal oor haar werk.

Sy het ’n paar vrae geantwoord oor haar lewe oorsee. Lees ook in die Julie 2015 uitgawe van SARIE meer oor haar ervarings.

Hoe het jy in Sjanghai beland?
My oudste broers en susters wat voorheen in die buiteland gewerk het se stories het soveel avontuur in my wakker gemaak dat ek self moes gaan seker maak. Toe die geleentheid hom voordoen, het ek my tassie gepak in Pretoria en was ek op die eerste vlug uit! My avontuur het in 2012 in Taiwan begin waar ek vir ’n jaar lank Engels gegee het in Tamsui, ’n klein kusdorp net noord van Taipei. In Maart 2013 het ek Brasilië gaan verken en het verlief geraak op die land en sy mense. Ek was gelukkig genoeg om werk te kry as au pair by ’n fantastiese gesin om hul dogtertjies Engels te leer. Teen Oktober 2013 het ek gevoel my seisoen daar is verby en met geen idee waarheen volgende nie, het ek bedank. Daar’s ’n TEFL-kursus vir mense wat in die buiteland Engels gee wat ek graag wou doen en my Brasiliaanse gesin het besluit om my te bederf met ’n vliegkaartjie Europa toe. Boonop het hulle aangebied om die maand lange kursus te betaal as ek dit iewers in Europa wou doen. Ek het Rome gekies. So het my droom van leef en toer in Europa waar geword, vir amper vier maande van 2014! In Junie was ek terug in SA om my papierwerk in orde te kry om onderwys in China te kom gee, en hier is ek nou by ’n fantastiese internasionale skool in Sjanghai. Die kinders het al diep in my hart gekruip. Die moeilikste is sekerlik die kultuurverskil en taal. Ek leer Mandaryns, een woord op ’n slag!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Interessantse ervaring oorsee tot dusver?
Oor hierdie vraag kan ek ’n boek saamstel. Een so ’n storie is vanuit my eerste ‘solo-trip’. Ek’t in Thailand, Bangkok aangekom met net ’n adres vir die Couch Surfer waar ek die eerste aand in die stad sou oorslaap. In Taiwan het ek ’n paar Baht (omtrent R300) omgeruil met die idee dat ek op die lughawe in Bangkok weer geld sal trek. Ek het heeltemal vergeet om my bank in Suid-Afrika te laat weet dat ek my bankkaart in ’n ander land sou gebruik. Daar staan ek toe, 20 minute in my avontuur in, kaart geblok en nog twee weke om te gaan! Natuurlik was my eerste reaksie een van totale frustrasie en ’n tikkie angs, maar ek het skielik totale vrede en oorgawe ervaar. Ek het besef God leer my iets. Met die paar Baht in my sak kom ek na ’n lang gesukkel by my gasheer en sy gesin uit. James en Sunny besit ’n klein restaurantjie in een van die besigste omgewings van Bangkok. Ek stap by die deur in en stel myself voor. Terwyl James my hand skud, wys hy na ’n gesin wat by een van die tafels sit. “Oh yes, you South African, no? Meet my friends, also South African. Very nice people.”Die gesin nooi my om te sit en praat Afrikaans. Die vrou werk by een van die grootste banke in Suid-Afrika en dadelik weet ek, my gebede is verhoor. Hulp is hier.

Saam met James, die "couch surfer".

Saam met James, die “couch surfer”.

Nog een van my gunsteling-stories kom uit my tyd in Italië.  Een aand gesels ek met my jongste boetie Basson. Hy het toe deur ’n rowwe tyd gegaan. Vir ’n oomblik lank wens ons hy was reeds klaar met sy studies, sodat hy saam met my kon toer. In ’n lang gesprek vertel ek hom hoe God die begeertes van ons harte verstaan en hoe Hy daarvan hou om ons te seën met die dinge wat ons nodig het, maar ook met die dinge wat ons geniet. Om Italië te sien was my grootste droom en deur ’n massiewe wonderwerk en groot bederf het ek die geleentheid gehad om daar te kon toer, en ook om ’n ruk lank in Rome te studeer op iemand anders se onkoste. In my gesprek met Basson deel ek met hom dat ek ’n paar aande vantevore die Here bedank het dat Hy een van my grootste hartsbegeertes laat waar word het. My volgende groot wens was dat ek en Basson die geleentheid sou hê om saam te toer. So het die gesprek geëindig daardie Woensdagaand. Die Saterdagaand praat ek met my ma, wat die foon vir my pa gee om ook te gesels.Sondagmiddag kry ek ’n boodskap van Basson. “Irries, ek kom vir jou kuier!”  Net daar besef ek dat God, net soos ’n aardse pa, vreugde vind daarin om ons te bederf!

Saam met Basson in Cinque Terre, Italië.

Saam met Basson in Cinque Terre, Italië.

  • Marita Kotze

    Irma Mensie! Sit ek nou hier in Australië en lees van al jou seëninge!
    God is Groot!