sr1004kuberkuier
Reise

Hannie Bezuidenhout skryf uit Ithaca, Amerika

Waarom is julle weg uit SA?
My man, Braam, was dosent by Onderstepoort (die Universiteit van Pretoria se fakulteit vir veeartsenykunde) en ons het Amerika by twee geleenthede besoek. Die eerste keer het Braam navorsing oor die anatomie van die bosmarmot (woodchuck) gedoen en dit gedokumenteer. Met die tweede besoek het hy ‘n boek geskryf oor die anatomie van die bosmarmot. Die Cornell-universiteit het hom’n pos
aangebied, wat hy aanvaar het, en ons het in 1998 na die VSA verhuis.

Waar woon julle?
Ithaca in New York-staat, in Tompkins County. Dis in die Finger Lakes-streek, en Ithaca is bekend om sy meer as 100 watervalle. Dis ‘n regte universiteitsdorp waar 65% van die inwoners gegradueerdes is. Ons aftreeoord is die tuiste van agt Nobelpryswenners – nogal intimiderend! Die village word omring deur ‘n woud. Daar’s gereeld wilde diere in ons erf, soos takbokke, jakkalse en wilde kalkoene.

Werk jy?
Ek is ‘n bibliotekaresse, maar kon nie hier werk nie. Ek het nie die regte werkspermit gehad nie. Intussen het ek ons bure se kinders begin oppas, betrokke geraak by die skool en nooit weer aan my beroep gedink nie. Ouers en vrywilligers werk hier saam met die onderwysers. Jy stap net in, gaan sit langs ‘n kind en begin hom help. Ek het ook by ‘n sopkombuis gewerk en mense bedien. Nou berei ek selfs
Kersmaaltye vir studente en mense wat alleen is. Aan die begin het ek altyd ‘n skaapboud gaargemaak, maar dis nie so goed ontvang nie. Skaapvleis word selde hier geëet. Ek dink die supermark hou dit net aan vir die expats en die Grieke!

Braam het ‘n besonderse toekenning ontvang?
Hy het in 2007 die University of New York Chancellor’s Award for Excellence in Teaching ontvang. Sy studente het hom in 2006 as die beste dosent van die jaar aangewys.

Wat is lekker van die gemeenskap waar julle woon?
Dis ‘n klein, liberale gemeenskap. As jy wil protesteer oor iets, staan jy op die straathoek met ‘n plakkaat: Honk if you agree. Ek het gou besef ek moet inskakel by die gemeenskap of ek sou totaal geïsoleerd wees. Terwyl ek besig was om in te trek, moedeloos sonder hulp, omring deur leë houers, lui my deurklokkie. “Hi, I am Marcy and we are going to the Pie B (Pie Bake Fair).” Daar staan ek toe in my sweetpak en tertkorse maak vir ‘n onbekende fair. Maar ek het heerlik gewerk en die vroue van my buurt ontmoet. Die geld wat ons insamel, betaal die kleuterskool-onderwyseres se salaris. Die hele buurt is verantwoordelik daarvoor om die gemeenskapsentrum in stand te hou, insluitend die kleuterskool. Almal betaal ook skoolbelasting, ongeag of jy kinders op skool het. Hier is ‘n honour system. Jy weeg jou eie produkte en sit jou eie staafkode in by die supermark, betaal, neem jou kleingeld en stap uit! Jy kan selfs bakpoeier afweeg per ons.

Bestuur jy daar?
Ja, maar ons moes eers vyf uur teoretiese opleiding ondergaan – in die geselskap van 16-jariges – om te leer hoe om reg te bestuur. Dis verpligtend. Bestuur op sneeugladde paaie is nogal ‘n kuns. Ons rybewys is ook ons ID-dokument.

Mis julle SA?
Ek het 50 jaar in SA gewoon. ‘n Mens vee nie net al die positiewe herinnerings uit nie. Ek mis my familie, die samesyn met vriendinne, die lekker kuieraande en die mooi natuur. Net ‘n potjie Marmite het my al in trane gehad. Jy dink terug aan ‘n warm kombuis, jou familie en varsgebakte brood. Al het ek nou Amerikaanse burgerskap, sal ek altyd ‘n Suid-Afrikaner bly. As alles vir my te veel raak, luister ek na
Koos du Plessis se nostalgiese “As almal ver is”.