Reise

Rentia Smuts skryf uit Juneau, Alaska

Waar woon julle?
As iemand my ‘n paar jaar gelede gesê het ek gaan in Alaska bly, sou ek ‘n sneeuman opgeëet het! Ek en my gesin bly die afgelope 3 jaar in Alaska en dis baie anders as wat ek my dit ooit kon voorstel. Ons bly in Juneau, die hoofstad van Alaska. Die stad het ‘n inwonertal van so 30 000 mense. Ons het na die VSA gekom nadat ek my graad gekry het, ek het ‘n groenkaart gekry en later, toe die kinders gebore is, het ons agter my man se werk aangetrek. Hy het ‘n goeie aanbod hier in Juneau gekry.

Vertel bietjie meer van hoe dit daar is.
Juneau is geïsoleerd. Daar is geen paaie in en uit die stad nie. Ons kan net per vliegtuig of boot hier uit. Dit is nie so koud hier soos in die res van Alaska nie, want Juneau is baie suid en ons bly by die see. Dit beteken dat ons nie die koue van die binneland ervaar nie. Gedurende die somer is die dagtemperature so om en by 16 °C en in die winter kan dagtemperature daal tot -19 °C! Die natuur is ongelooflik mooi met die sneeubedekte berge, die see en die reënwoude. Gedurende die somer besoek ongeveer 100 000 toeriste ons stad per passasierskepe. Die reënval hier is ongeveer 60 duim per jaar. (Enige boer se droom!) So, ons is altyd uitgehonger vir sonskyn!

Wat doen julle daar?
My man, Lourens is ‘n geoloog by die silwermyn op ‘n eiland met die grootste grysbeer-bevolking in die wêreld! Hulle vertrek elke oggend 5 uur met ‘n veerboot na die eiland en kom saans 6 uur weer terug. Die voordeel is dat hy elke Vrydag af is, wat natuurlik beteken elke naweek is ‘n langnaweek. Ek is ‘n geregistreerde verpleegsuster by die intensiewe eenheid by die plaaslike hospitaal en Vrydae werk ek, wanneer manlief by die huis is om na die kinders om te sien. Ons het ‘n 3-jarige seuntjie, Johan, en ‘n maandoue babaseuntjie, Jacques. Johan woon twee dae ‘n week ‘n kleuterskool by en hy is ewe tuis in hierdie koue wêreld. Ek sukkel om hom sover te kry om handskoene aan te trek.

Wat doen julle vir ontspanning?
Somertye maak ons goed gebruik van die lang dae, want die son sak eers 11 uur saans. Ons is buitemense en hier is so ‘n verskeidenheid aktiwiteite om ons besig te hou. Ons het ‘n boot (soos elke ander gesin in Juneau!) en ons spandeer baie dae op die see om vis te vang. Visse wat ons hier vang, is King Salmon Salmon, Sock Eye en Halibut. Ons is bevoorreg om ons eie prawns en krap uit te haal en eet natuurlik soos konings aan al die seekos. Hier is heelwat staproetes in die pragtige woude en op ‘n mooi (en warm) dag, gaan ons strand toe. Gedurende die winter ski ons by die ski-oord, ysskaats op die bevrore mere en neem aan alle binnemuurse aktiwiteite deel om die kort koue dae draaglik te maak.

Wat is vreemd daar?
Die vreemdste ding is seker die bere in ons agterplaas. Ons het geen misdaad nie, maar ek kan nie my kinders in die somer alleen buite laat speel in die agterplaas nie, want die bere kom maak gereeld hulle opwagting! Die ander vreemde ding is ook donkerte in die winter en die lig in die somer. Dit raak eers 9 uur lig soggens in die winter en 3 uur is dit weer donker. In die somer is dit 4 uur soggens al lig en 11 uur in die aand eers donker.

Mis julle SA?
Ons gaan gelukkig elke jaar vir ses weke Suid-Afrika toe om by die familie te kuier en om die SA son te geniet.

  • Annette

    Wow, pragtige foto’s! Dit lyk soos die paradys daar.
    Ongelooflik om te lees dat daar nie paaie in en uit die stad is nie, dis iets wat moeilik is om voor te stel.

  • TINA

    Ongelooflike foto van Johan op die strand en die koue sneeu in die agtergrond. Baie kunstige foto.
    Hoop julle geniet die fantastiese land !