FOTO: verskaf

Reise

Kersfees in die Noordelike Halfrond

Selfs tradisionele kerskaartjies kon Elmarie Kemp en haar gesin nie voorberei op die sprokiesagtigheid van ‘n winter Kersfees in Kanada nie.

Sy vertel meer oor hul Kersfees-ervarings.

Ons gesin het in 2000 na Red Deer in Kanada toe verhuis, maar was glad nie voorberei op hoe uitsonderlik ‘n wit Kersfees is nie.

Kanadese versier hul huise pragtig met baie liggies. Die natuur se bydrae van sneeu maak dit ‘n sprokiesagtige winterwonderland. Ons munisipaliteit doen ook baie moeite om ons strate en parke met duisende liggies te versier. Elke jaar is daar ‘n Kersfeesparade met vlotte en Kersvader wat vir die kindertjies lekkers gooi. Die grootste Kersboom in die stad se liggies word dan ook aangeskakel terwyl warm sjokolade uitgedeel word.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Kersversierings is regtig asemrowend en beskikbaar in elke denkbare kleurskema en tema.

‘n Oulike gebruik deur ons posdiens is die 9 000 vrywillige poselfies wat elke jaar meer as ‘n miljoen briefies aan Kersvader van kinders in 30 tale beantwoord. In elke poskantoor is daar ‘n Santa-posbus, die adres is Santa Claus, North Pole, H0H 0H0, Canada. Dit benodig nie ‘n seël nie, net ‘n terugadres. Elke briefie word getrou beantwoord!

 

Vars bome, loof en kranse is oral te koop ten bate van liefdadigheid en die heerlike geur hang in die lug. In Kanada is daar kersboomplase en dit word streng gekontrolleer; vir elke boom wat afgekap word, moet een aangeplant word binne ‘n sekere tydperk. Daar is ook verskeie afsetpunte vir geskenke vir minderbevoorregte kinders en kos vir families wat swaarkry. Braaf gaan laai ek en my dogter, Mareli elke jaar geskenke af, maar die trane loop as ons uitstap. Ons is so bevoorreg.

Ons vergeet nie ons Suid-Afrikaanse wortels nie en bak hertzoggies, ystervarkies, koeksisters en my man, Theo maak biltong. Mooi opgemaakte geskenkpakkies word Oukersaand voor al ons bure se deure neergesit en vir vriende uitgedeel. Kanadese is mal oor ystervarkies, hulle sukkel net baie met die uitspraak!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Oukersdag is ‘n rustige dag vir ons. Vroegaand is dit al donker. Nadat ons ‘n Kersdiens bywoon, kuier ons saam met vriende. Ons Suid-Afrikaners maak beurte en almal bring ‘n bord eetgoed. Sodra ons by die huis kom, bel ons Suid-Afrika toe, waar dit al Kersoggend is en daarna kom Kersvader by ons kuier en dan maak ons geskenke oop.

Kersoggend word die huis vroeg-vroeg al gevul met heerlike geure uit die kombuis. Kalkoen en ‘n warm ete was eers vir ons vreemd. Ons verkies om eerder die enorme bors van die kalkoen in skilferdeeg te bak as die hele voël. Waterblommetjiesop, skaapboud, beestong, pampoenkoekies, braaiaartappels en koekstruif is ook altyd op die spyskaart.

Sodra die kosgeure in die kombuis begin murmereer met mekaar, staan ek graag by die venster met ‘n koppie warm sjokolade en uitkyk oor die winterwonderland. Koue skrik Kanadese geensins af nie, hulle stap met hulle honde. Op die bevrore meer langs ons huis baljaar almal op skaatse en gly met toboggans (sleë) teen die heuwel af. Na elke sneeuval kom skraap die munisipaliteit die meer skoon. Ons word geseën met baie sonskyndae in die winter, dit laat die sneeu skitter asof daar blinkers in is.

Teen die middag vyfuur wanneer dit skemer raak, word die kaggels en kerse aangesteek, liggies en kersmusiek aangesit. Die heerlike geregte word reggesit en ‘n paar Suid-Afrikaanse wyne word buite op die stoep (‘n natuurlike groot koue yskas) gesit en gaste begin aankom. Die kere wat my ouers Kersfees hier kon deurbring, was veral ekstra spesiaal. Met die donkerte oor die stil sneeulandskap buite, kuier almal knus binne in liefde en toegeneëntheid, tevrede in snoesige hitte.

Al mis ons al ons geliefdes in Suid-Afrika is ons gelukkig om ons kinders by ons te hê en is ons tevrede met die samesyn van ons nuwe “familie” in Kanada.