Reise

Koue land, warm hart

Soos met een van die land se bekendste ikone – die matriosjka-pop – kan jy Rusland laag vir laag afskil. Ook nie vreemd nie dat dié land bekend is vir die fabelagtig versierde Fabergé-eiers wat dié ontwerper op bestelling vir Europese koninklikes gemaak het, en wat elkeen ’n geheim binne-in bewaar. It is a riddle, wrapped in a mystery inside an enigma,” het Winston Churchill eenkeer oor die grootste land op aarde gesê.

My indruk van Rusland is gevorm deur TV-programme, James Bond-flieks, spioenasieverhale wat ek as kind verslind het en vervelige geskiedenislesse. Dikwels is Rusland gereduseer tot óf “aartsvyand van die Weste” óf ’n verkrummelde supermoondheid óf bloot ’n uitstekende landskap vir spioene. Maar ná sewe dae in die sneeu het ek besef Rusland het verskillende gesigte. Dis die land van die tsaars, ’n land van armoede, ’n land van goud, diamante en amber. Die land van Stalin en Raspoetin, maar ook van glasnost en Gorbatsjof. Van ballet en vodka. Van Tsjaikofski, Poesjkin, Dostojefski en Tsjechof. ’n Land van tragedie, misterie en romanse . . . En noudat Intourist, Rusland se grootste en oudste reisagentskap, die Kaapse agentskap Titch Tours as sy verteenwoordiger in Suid-Afrika gekies het, sal jy ook dié ryk geskakeerde land kan ontsyfer.

Venesië van die Noorde
Op ’n grys Vrydagmiddag land ons in Sint Petersburg. My eerste ontmoeting met die locals was egter ’n senutergende een, want die blonde vrou in die glaskas by die doeanetoonbank
het my met ’n norse uitdrukking bestudeer, asof ek op Interpol se most wanted-lys was. Sint Petersburg is die kulturele sentrum van Rusland en die land se skakel met die Weste. Tsaar Peter die Grote was glo so beïndruk met ontwikkelinge en die uitstekende vakmanskap in Wes-Europa dat hy wou hê sy hoofstad moes die Venesië van die Noorde wees. Gevolglik strek Sint Petersburg oor meer as 45 eilande in die delta van die Newa-rivier en word die stad deurkruis met begaanbare riviere en kleiner stroompies waaroor meer as 500 brûe gebou is. Peter het bekende Westerse argitekte en kunstenaars in diens geneem om sy stad te bou. Met die geboue in die Barok-, Klassieke en Art Nouveau-styl kan jy verskoon word as jy dink jy’s in Parys of Italië.

 

Vertrek ná vergulde vertrek met marmertrappe en lapis lazuli-pilare is gevul met wêreldskatte.

 

Sint Petersburgers weet hoe om hul stad te belig en in Newski Prospekt, die hoofstraat, word jy met neon-tekens heen en weer geroep vir ná-Kersfees-uitverkope. Newski Prospekt is ook die hart van “moderne” Sint Petersburg met sy winkels, restaurante en elektroniese reklameborde. Maar hier en daar sien jy steeds geskiedkundige bakens. ’n Muur met dié waarskuwing: “Burgers! In tye van artillerie-aanvalle is hierdie kant van die straat baie gevaarlik.” ’n Tweede Wêreldoorlog-erfenis. Jy kan ook die Waganowa-dansskool sien, waar ballerinas soos Anna Pawlowa gestudeer het en vandag se nuwe generasie prima ballerinas opgelei word.

Die liggies laat my besef dat dit reeds donker is. Vieruur, sê die groot elektroniese horlosie naby ons hotel – die Dostoyevsky, genoem na een van Rusland se grootste skrywers. Ondanks sy naam is die hotel heel Westers, maar dit het wel ’n interessante kenmerk: dis in ’n winkelsentrum geleë en ek het my gereed gemaak vir ’n paar middernagtelike inkopie-avonture. Wat my veral beïndruk het, is die elegante skerppunt-hoëhakstewels in die vertoonvensters. Russiese vroue het die kuns vervolmaak om in hierdie spykerhak-skoene op die gladde ys te loop! Pelsjasse is ’n gewilde mode-item hier, want daar’s min kledingstukke só warm. Jy kan ’n goeie een, wat jou ’n leeftyd kan hou, vir sowat R4 000 koop. Die meeste Russe is arm. Veral pensioenarisse se inkomste het nie tred gehou met inflasie nie. By ons besoek het pensioenarisse groot optogte gehou omdat pres. Wladimir Poetin nuwe wetgewing ingestel het wat Sowjet-voordele vir pensioentrekkers (bv. gratis openbare vervoer en medisyne) afskaf.

Kunsstad
Op my eerste dag verken ek die stad se kulturele bakens. In die manjifieke Peter-en-Paul-katedraal lê al die tsaars van Rusland begrawe. ’n Spesiale kamer is gebou vir tsaar Nikolaas II en sy gesin, wie se beendere uiteindelik ná dekades se soektogte in die laat 70’s in Siberië gevind is. Ondanks oortuigende DNS-toetse is daar steeds Russe, onder wie die Patriarg van Moskou, wat glo die beendere in die kerk is nie dié van die Romanofs nie. Sekerlik die belangrikste kulturele besienswaardigheid is die Ermitage-museum in die imposante turkoois winterpaleis aan die oewer van die Newa-rivier. Die winterpaleis was die simbool van die rykdom en mag van die Russiese ryk. Vertrek ná vergulde vertrek met marmertrappe en lapis lazuli-pilare is gevul met wêreldskatte. Veral interessant in die lig van die gewildheid van Dan Brown se The Da Vinci Code is dat die Ermitage twee van die handjievol oorspronklike skilderye van Leonardo Da Vinci in sy versameling het. Jy kan ook werke van Picasso, Michelangelo, Rembrandt en vele ander kunstenaars sien. Die Ermitage het 1 057 kamers, 1 786 deure, 117 trapportale en 3 miljoen kunswerke. Een van die grootste museums ter wêreld.

Buiten die kaviaar-verkopers sien jy nog iets eienaardigs buite die Ermitage: Pas getroude paartjies en hul families staan in die koue en neem foto’s. ’n Gunsteling-plek vir troufoto’s is by die Atlas-standbeelde, wat ’n deel van die museum op hul skouers dra. Die bruide staan in hul wit rokke met net ’n pelsjas om hulle warm te hou. Een tradisie is om ’n glasie vodka op die nuwe paar tjie te drink. Nog ’n argitektoniese en geskiedkundige wonder is die somerpaleis van Katharina die Grote, sowat ’n uur buite Sint Petersburg. Een vertrek bestaan net uit amber. As jy regtig die volle atmosfeer van die somerpaleis wil ervaar, moet jy ’n troika-rit deur die paleis-park onderneem. Op dié slee, deur perde getrek, word jy onmiddellik na die agttiende eeu weggevoer.

Susan voor die somerpaleis met troikas agter haar.

Kolossale Moskou

Die volgende dag is ek op ’n rit van ’n ander aard. Elfuur die aand is ons na Moskofski-stasie, vanwaar ons die trein na Moskou sou haal. Die reis na Moskou is die eerste fase van daardie epiese reis, die Trans-Siberiese treinroete. Die trein is ’n donker, militêre groen en die kondukteur is ’n kort blonde vrou in ’n donkergroen pak klere. Sy hou ons stip dop toe ons raserig op die trein klim. In ons tweedeklas-kompartement staan kospakkies met jogurt, kaas, ganslewerpatee, southappies, sjokolade en beskuitjies. Al om die uur klop ’n vriendelike vrou aan die deur. Sy verkoop kaviaartoebroodjies en ’n jong man koeldrank en skyfies.

Moskou is heeltemal anders as Sint Petersburg. Alles is kolossaal. Die paaie is groot, maar so ook die verkeersknope. Ons hotel – die Ukraina – is ’n reusagtige gebou uit die jare vyftig. Die Kremlin oorheers alles in die middestad, die administrasiegebou van die Universiteit van Moskou lyk soos ’n kasteel en selfs die voormalige KGB-gebou steek soos ’n seer vinger uit. Dis egter die kerke in Moskou wat my fassineer. In die Kommunistiese tydperk was alle godsdiens verbode en godsdiensleiers is om die lewe gebring. Die grootste Ortodokse kerk in die wêreld, die Katedraal van Christus die Verlosser, in Moskou, is ’n unieke simbool van hoe Kommunisme selfs mense se siel probeer beheer het. Stalin het dié kerk heeltemal verwoes en ’n swembad in die plek daarvan gebou. (Die Sint Isak-katedraal in St. Petersburg is byvoorbeeld verander in ’n ateïsme-museum.) Die kerk, oorspronklik gebou om Rusland se grootste oorlogsoorwinning – dié teen Napoleon – te vier, is in die 1990’s herbou en met milde hand met goud en marmer versier. Die religieuse fasades neem Bybelse proporsies aan en oral staan ikone in goue rame met kersies wat voor hulle brand. Tienduisend gemeentelede kan op een slag in dié Russies-Ortodokse katedraal aanbid. Waar kerkdienste swak bygewoon word in ander Europese stede, sien dié kerk maklik 5 000 tot 7 000 mense by religieuse feeste, vertel vader Gregori, ’n priester in die kerk. As jou vryheid om jou geloof te beoefen vir so lank van jou weerhou is, sal jy dit seker met groter toewyding en ywer aanhang.

 

Die religieuse fasades neem Bybelse proporsies aan en oral staan ikone in goue rame met kersies wat voor hulle brand.

 

Terug in ’n meer aardse omgewing – die hoofstraat van Moskou – sien jy hoe vinnig dinge verander het ná die Kommunisme. Oral sien jy flitsende casino-liggies. Die stad het meer as 50 McDonalds-eetplekke. Oral is moderne winkels en restaurante tot laat oop. In die Kommunistiese tydperk was daar geen vermaak of naglewe nie; nou is baie restaurante, nagklubs en casino’s 24 uur per dag oop. Moskou is fabelagtig in die aand. Die kleurryke Sint Basiliuskerk lyk magies en met die uitstekende beligting herinner dit aan iets uit ’n kind se inkleurboek. Die ses sterre op die twintig Kremlin-torings gloei robynrooi in die aandlig.

Ons laaste paar uur in Moskou bring ons onder die grond deur. Die moltreinstasies lyk soos ondergrondse paleise met kandelare, gebrandskilderde glas-mosaïekwerk, en meer as twintig soorte marmer versier die portale. En dis diep. In sommige stasies word jy met ’n roltrap tot 70 meter onder die grond geneem. Oral is dit skoon. Jy sien gedurig vroue op skoonmaakmasjiene rondry om die vloer te was en poleer. In die aand, wanneer die stasies toe is, word alles gewas.

Uiteindelik, op die lughawe, gee ek die nors doeanebeampte ’n breë glimlag – met die wete dat ek ander gesigte van Rusland (en ’n paar matriosjka-poppies) saamneem huis toe . . .

Onthou . . .

  • Pleks van reistjeks saam te neem: Plaas jou geld in ’n Cash Passport-kaart. Die tellermasjiene waar jy jou geld kan trek, is oral – in hotelle, museums, ens. Jy hoef dus nie kommissie te betaal soos wanneer jy reistjeks wissel nie.
  • Vergemaklik die lang reis na Rusland. Lufthansa het SARIE se reis na Rusland geborg. Die diens was uitstekend. En met dié lugredery is dit moontlik om van Kaapstad direk na Frankfurt te vlieg. Van daar is dit net ’n twee uur lange vlug na Sint Petersburg.