mrt05reisartikel1a
Reise

Kreef tot kremetart

Die Kenya Airways-vliegtuig sirkel laag oor Mombasa. Waterweë omsoom dié eilandstad met ‘n silwer netwerk in die vroegaand skemer. Die son groet met weerkaatsings van pienk, ligpers en duifgrys teen die wolkbelaaide lug. Ek dink aan die toneel in Out of Africa waar Denys Finch Hatton met sy vliegtuig oor Mombasa sirkel. Dís een van die prentjies wat ek in Kenia kom soek het. Ek sien deur die venster hoe die koraalriwwe legkaarte in die grysblou oseaan maak. Ver onder dobber makoro’s (houtkano’s) rond. Die vistermanne is besig om hul nette te lig vir die dag.

“Karibu!” kom die Swahili-welkomsgroet van ‘n jong man genaamd Patrick. Hy en Pompidou laai ons bagasie in die Southern Cross Safari-bussie. Hulle sal ons deur die woelige stadsverkeer na ons hotel by Diani-strand aan die kus van die vasteland neem. Olielampe en kerse omring elke straat soos ‘n halssnoer. In elkeen se klein ligkring stal ‘n straathandelaar sy ware uit. Vetkoekies,  gebraaide vis, groente. Dis byna agtuur die aand en die strate wemel nog. Matatu’s (minibustaxi’s) vleg swaar gelaai al toeterend deur die verkeer. ‘n Vreemde bekende in die onbekende. In die verbygang ruik jy vleis en vis wat oor konkas braai, hoor jy die joligheid uit bierhuise en sien jy werkers die skemer straatjies in skarrel ná ‘n harde dag.

Woordeskat

Hallo – Jambo
Welkom – Karibu
Tot siens – Kwa heri
Nag – Lala salama
Asseblief – Tafadhai
Dankie – Asante
Hoe gaan dit? – Habari?
Dit gaan goed met my, dankie – Nzuri
Wat is jou naam? – Unaitwa nani?
My naam is . . .  – Jina langu ni . . .
Mag ek ’n foto neem? – Naomba kupiga picha?
Ja – Ndiyo
Nee – Hapana
Ek wil hierheen gaan . . . – Mimi nataka kwenda
Is dit die roete na . . ? – Hii njia ya . . ?
Lughawe – Kiwanja cha ndege
Bushalte – Stesheni ya basi

 

Pompidou vertel ons van die besige stad en sy mense. Almal is afstammelinge van die nege Mijikenda-stamme, wat aan die kusgebied woon. Die meerderheid is Moslems en die invloed wat die Arabiere agtergelaat het toe hulle in die sesde eeu deur die groot voorraad ivoor na Kenia gelok is, is te sien in gewoontes en boustyle. Die Swahili-nasie het ontstaan deur ondertrouery tussen die Arabiere en plaaslike stamme. Die Keniane het eers in die 16de eeu van die Arabiese juk ontslae geraak toe die Portugese die handelsroetes begin oorheers het. Ná die Portugese het die Britte gekom. Dus ‘n kleurryke geskiedenis van oorheersing, onderdrukking, opstande en slawerny.

 

In die verbygang ruik jy vleis en vis wat oor konkas braai, hoor jy die joligheid uit bierhuise en sien jy werkers die skemer straatjies in skarrel ná ‘n harde dag.

 

Mombasa is op ‘n eiland geleë en ons moet met ‘n veerboot oorgaan na die vasteland. By die Kilindini-hawe wag ons saam met rye luierende motors, vragmotors, bromponies, honderde fietse en massas voetgangers geduldig vir die reusagtige, drywende gevaarte om van die oorkantste oewer terug te kom. Op pad na Diani aan die suide van die stad waar die Leopard Beach Hotel geleë is, praat ons min. Elkeen drink die landskap wat in die skemerte verbyswiep in. In die voorportaal van die hotel sien ek hom. ‘n Karakter so reg uit die fliekprentjie wat ek van Kenia het. Lang wit Moslem-khoorta, fes en wit handskoene. Dis by hom dat ons die eerste “jambo” (hallo) hoor. Ons besef gou geen mens loop by jou verby sonder om te groet nie.

Daar’s koloniale elemente in die nuut opgeknapte portaal, Arabiese dagbeddens in die sitkamer en ‘n koloniale restaurant wat uitkyk op ‘n ysblou see wat agter palms uitloer. Vir vier nagte is die klein paradys ons basis. Die hotel het vier restaurante, ‘n kuberkafee, winkels, twee kroeë, ‘n strandrestaurant en kroeg, swembad en verskeie sitkamers bokant die tweeling-strande, Coco en Kusini. Die hotel het ook ‘n internasionale duikskool, ‘n skoonheidsalon en diskoteek.

 

Die seewater aan die Keniaanse kus is besonder sout en ‘n mens moet sorg dat jou bril behoorlik pas anders brand jou oë later soos vuur.

 

Die eerste oggend verlig ‘n ligte reënbui die soelheid van die oggend. Ons verken Diani se modderstrate. Mense skarrel deur die druppels na hul modderhuise. Kinders plas in die poele en stroompies water drup van palmtakdakke af op die straatsmouse se bondels kasawa (knolplante wat deel vorm van hul stapelvoedsel), hopies kokosneute, emmers gedroogde vis en sakkies kremetartpitte. Later ry ons deur die nedersettings van Ukunda. Grondpaaie tussen papaja- en kokosneutbome. Netjiese modderhuise met palmtakdakke. Kinders wat bokke aanjaag. Vroue al geselsende by putte. Hoenders wat rondskrop. Op ‘n winkelstoep sit ‘n jong meisie met ‘n kleurryke kopdoek en boontjies uitdop. Pompidou sê ons sal haar broer se toestemming moet vra om haar af te neem. Mense hou nie daarvan as jy hulle sommer net afneem nie. Jy moet vra en dan ‘n fooitjie gee. Aan ondernemingsgees is daar ook geen tekort nie. Daar is heelwat “professionele“ Masais, kompleet met toeriste-geldsakkie om die middellyf. Hulle weet toeriste smag daarna om ‘n Masai af te neem en daarvoor moet jy tot 1 000 Keniaanse sjielings opdok.

Ons kuier by die Mamanga-nedersetting. ‘n Groep jong mans verneem vriendelik wat ons name is, en voor jy kan sê “sjieling“ het elkeen vir ons ‘n armband van wol gevleg met ons name op. Voor jy die “geskenk“ kan kry, moet jy 300 sjielings opdok. Ons ontmoet Jacob, lid van die Digo-stam, wat ons wys hoe lede van verskillende families hul huisies naby mekaar bou. Ons het die voorreg om ‘n jong seun van sestien en sy nuwe bruid se huis te besoek. Die huweliksbed bestaan uit ‘n grasmat wat oor ‘n bedraam gevleg is. Oral begroet jillende kinders ons met “shikamoo! shikamoo!“ – ‘n respekgroet van kinders aan grootmense. Hulle gaan sit later grootoog en bedeesd op ‘n stomp om saam met ons na ‘n stamdans te kyk. ‘n Ouma en vriendinne sit aan kasawa en peusel en bied vir ons van die melerige groente aan. Dit word in skywe geëet of met kokosneutmelk in ‘n pap gemeng. Dit kan ook gedroog en gemaal word vir brood bak.

Klimaat

  • Die suide van Kenia is gewoonlik warm, behalwe in Julie en Augustus wanneer dit bewolk kan raak. Die reënseisoen begin teen November en kan tot Mei duur, maar die meeste reën val van Maart tot Mei.
  • Die koraalkus is matig tot warm
    met die swaarste reënval in Mei en aan die einde van Oktober. Die seetemperature is altyd hoog en kan wissel van 27 tot 30 ºC.
 

Omar Sharif (ja, nogal!) gaan wys ons waar jong mans opgelei word om die kunstige beelde te kerf wat ons in Rosebank, Johannesburg, se strate kan koop. Hope ebbe-, roos- en djatihout lê langs die “kerfskool“ en ‘n mens hoop Kenia se woude oorleef die entrepreneursvernuf. Jacob nooi ons om die plaaslike kruiedokter te besoek. Die ernstige gryskop tuur diep in ‘n kalbas. Hy voer prewelgesprekke met geeste en soen kort-kort die vlakvarktand wat saam met die bondel vere om sy nek hang. Voor hom is ‘n tafeltjie met flesse en kalbasse vol konkoksies en aan sy voete is ‘n kommetjie uitgebrande kole wat hom teen boosheid moet beskerm. Hy “konsulteer“ die kalbas met die taai, swart vloeistof voor hom oor ons vier se kwale. Twee van ons het ‘n glo ‘n seer rug, een slaap sleg en een is dalk swanger of gaan swanger raak. Hy meng dadelik ‘n welriekende salf vir Barbara se seer nek.

Naby die “spreekkamer“ is die Mwamanga Primary School, waar 106 kleuters op rietmatte sit en stories luister. In die ewe stampvol klasse langsaan sit net die ouer kinders op skoolbanke wat deur “mamma Sheila” van Ierland geskenk is. Skoolopleiding is die afgelope twee jaar gratis, vandaar die vol skole. Die skool se voorrade is karig; dit verklaar hoekom kinders op straat skryfpenne bedel. Kenia se kusgebied van byna 480 km is die ideale wegbreekplek vir veral Britte en Europeërs. Enige tyd net so mooi en idillies soos Mauritius en die Seychelle. Later sluit ons aan by Sampuli, wat beloof het om ons na ‘n egte kaya (heilige woud) te neem. Daar is verskeie langs die kus. Woude waar die oorspronklike lede van die swart stamme tot 600 jaar gelede gewoon het en waar hulle steeds vir die voorvaders gaan bid as probleme opduik. Heilige gelukbringers is onder die bome begrawe en nie enigeen mag die beskermde gebied binnegaan nie. Sampuli is ‘n lid van die Digo-stam. Hy lei ons met trots na sy mense se allerheiligste plek. Dis skemer en koel tussen die digte, hoë bome. Pompidou wou ons die binnekant van ‘n 900 jaar oue moskee by Diani Reef wys, maar aanbidders wou ons nie laat ingaan nie. Dit was immers die maand van Ramadaan en dis ‘n bidplek en nie ‘n toeristeattraksie nie. ‘n Mens kan van buite die mosbedekte ou gebou die gewyde atmosfeer voel en dit is byna asof die reuse-kremetartbome rondom die moskee jaloers waghou.

Net ná sonsopkoms op die derde dag is ons deur kokos- en kasjoeneutplantasies na die vissersdorpie Shimoni. ‘n Rit op ‘n dhow (antieke houtboot) langs die kus is nie enigeen se speelmaat nie. Dit skommel en dit kan jou broos maak. Ek en Maryke het ons snorkelbrille aangesit om die koraalriwwe te verken. Die seewater aan die Keniaanse kus is besonder sout en ‘n mens moet sorg dat jou bril behoorlik pas anders brand jou oë later soos vuur. By die Waisini-restaurant het ‘n feesmaal gewag. Diepgebraaide kokosneut en pikante garnaaltjies, reuse Swahili-styl krappe. Die stil, galante kelner, Abdul, met die fyn Arabiese gelaatstrekke en swart oogomlyner, het aangebied om ons ná middagete na die dorpie op Waisini-eiland te neem waar die Digo-mense woon. Hulle is Moslem-Afrikane.

Masai-soldate op die strand by Aqualand.

Saam met hom te voet deur die eiland se kronkelpaadjies het dit gevoel of ons ‘n ander tydperk binnestap. Kinders sit in kringetjies en speel, aromas van gemmer en kokosneut kom uit kombuise en ‘n bokooi en haar lammetjie slaap rustig op ‘n kol groen gras. Omdat seuns tradisioneel voorkeur kry om skool te gaan het die vroue van dié gemeenskap besluit om geld in te samel om hul dogters skool toe te stuur, en die koraaltuine by die dorpie vir toeriste toeganklik gemaak. Die koraaltuin bestaan uit koraalformasies, byna soos standbeelde op ‘n groen vleiagtige vallei omring deur wortelbome. Met hoogwater stoot die see tussen die formasies in en verander die landskap in ‘n waterparadys. Nog ‘n projek is die ou slawegrotte. In die klam skemerte hoor jy glo steeds die slawekettings klingel . . . Maar die somberheid is gou vergete in die kleurryke Digo-nedersettings op pad terug na die Leopard Beach-hotel in Diani. Dié hotel met sy 154 lugversorgde kamers wat oor die see uitkyk, is die ideale basis as jy die idilliese Keniaanse kusgebied wil besoek. Naas die restaurant se wye verskeidenheid cuisine onder leiding van die hoofsjef, Boniface Mwangangi, was skemerkelkies by die Marco-kroeg met sy 180 grade uitsig ‘n lafenis vir moeë stadsiele.

Immunisering

  • Verpligte immunisering teen geelkoors
  • Tref voorsorg teen malaria
 

Satao beteken in Swahili “kameelperd“ en om by dié tentkamp in die Tsavo-park te gaan kuier moet jy die hoofroete tussen Mombasa en Nairobi aanpak. ‘n Regte “Afrika-hoofweg” vol slaggate. Ons was by die Bachuma-hek by die oostelike deel van die Tsavo-park. Tsavo (in Swahili “plek van slagting“) is Kenia se grootste beskermde gebied. Dit beslaan 21 000 km² en dis ‘n rit van sowat 50 km tot by die tentkamp. Onder die reuse-tamariskbome wag ‘n ware Out of Africa-ervaring. Rye tafels met wit tafeldoeke kontrasteer met die Afrika-graslande en bos. Die kamp is in die hartjie van die wildernis. Sonder heinings. Bokke en seekoeie wei snags tussen die tente en hutte en jy moet met jou flitslig by jou tentflap flikker sodat ‘n wag jou na die eetplek of kroeg kan begelei. Die tente is luukse veldverblyf. Kraakvars wit katoenlinne, en ná die wildbesigtigingsritte ‘n warm stort as jou badkamer se waterkonka vol warm water gemaak is. Die ritte deur ‘n park in die werklike hart van Afrika is asemrowend. Die vlaktes is wyd en ongerep.

Een aand is ons bederf met sonsondergang. Ná ons wildbesigtigingsrit hou die Land Rover onder ‘n klompie bome stil. ‘n Kampvuurtjie het geknetter en kampeerstoele het vir ons gewag. Ons is elkeen in ‘n  Masai-kombers toegewoel. Voor my het die oker en goudkleurige Afrika-vlakte met spikkels groen bome uitgestrek. Op die horison het die loodgrys berge die sonsondergang se palet afgeëts. Ons was in Kenia en wou graag ‘n régte Masai-nedersetting besoek. Mwasi, ons gids, het onderhandel met ‘n nedersetting buite die Tsavopark. Ons moes elkeen 1 000 sjielings bydra. ‘n Goeie belegging.
Die huise word deur die vroue gebou van modder en koeimis. Die  dakke is laag en die Masai is lang mense. Hulle moet dus laag buk om in te gaan. Die mans dra Masai-komberse met rooi as hoofkleur en die vroue lappe met pers en blou as hoofkleur. Die hoogtepunt was die demonstrasie van die Masai se merkwaardige oorwinningsdans. Hulle spring tot ‘n halwe meter hoog! Ons het Satao moeilik gegroet. Die ongerepte bos is so na aan die hartklop van die donker kontinent as wat jy seker kan kry. Terug by die Leopard Beach Hotel wou Pompidou ons nog die Arabiese deel van Mombasa wys. Dit dateer uit die dertiende eeu. By sy kleurryke straatmarkte kan jy enigiets van klere tot speserye koop. Ons stap verby stoepe waar mans sit en Arabiese koffie uit klein kommetjies drink, kombuise waaruit ‘n harmonie van spesery, olies en kruie sweef, en kinders wat jillend die laaste skemerte geniet. Fort Jesus, ‘n ou Portugese fort wat in 1593 in die vorm van ‘n kruis gebou is en later as regeringstronk gebruik is, is gelaai met atmosfeer. Die dik mure omring deesdae skeepskatte en porselein-artefakte wat tot 1 020 terugdateer. Dit kom uit wrakke naby die kus.

Inligting

www.sataocamp.com
www.leopardbeachhotel.com
• SARIE se span het met Kenya Airways gevlieg, wat ’n baie gerieflike
vlug van Johannesburg direk na Mombasa bied, en het op uitnodiging
in die Leopard Beach Hotel en die Satao-kamp gebly. Die gidse van
Southern Cross Safaris het ons begelei.

 

Om ‘n perfekte reis af te sluit geniet ons ons laaste aandete op die Tamarind Dhow-restaurant. Die boot is effe groter as die tradisionele dhows, en is glo al ‘n instelling in Mombasa. Met ritmiese Oos-Afrikaklanke (Afrika gemeng met jazz en blues) kon ons vir oulaas aan ons dawas (‘n lemmetjie-mengeldrankie) teug terwyl ons van die warm Afrika-land met sy vriendelike mense afskeid neem. ‘n Land vol goue oomblikke. Wanneer jy weggaan, neem jy ‘n stukkie van die oker grond, die poeierblou lug, die geil graslande en Arabiese aromas met jou saam. Jy proe die kreef, sien die reuse ou kremetartbome langs die see. Die warmste plekkie in jou hart los jy vir die vriendelike mense. Mense met hoop en breë glimlagte. Kenia, Asante sana! (baie dankie in Swahili). Dit was ‘n ervaring van ‘n leeftyd. En: Kwa heri (tot weersiens).

Nog hoogtepunte langs die kus

(Nie by die toerprogram ingesluit nie)

  • Gaan stap deur die Arabuko Sokoke-woude naby Malindi as jy skaars voëlsoorte wil sien.
  • Die bouvalle by Gede.
  • Ontdek die nou stegies van die eeue oue dorpie Lamu.
  • Gaan swem onder die sterre by die Kiwayu-eiland.
  • Volg die spoor van olifante by die Shimba Hills-nasionale park.