Reise

Kuberkuier: Leser Angelique Delport gesels uit Miles, Australië

Vir Angelique Delport en haar gesin was die aanpassing in die Australiese Outback groot, maar hulle glo hulle is daarheen gestuur om ’n verskil te maak.

Wanneer en waarom het julle na Australië emigreer?

In Oktober 2008. Ek het nog altyd ’n wanderlust gehad om nuwe plekke te besoek en ons wou graag vir ons drie kinders ’n beter toekoms gee. Nadat my man, Klaas, ’n werksaanbod gekry het, het ons alles in Bloemfontein verkoop en sak en pak verhuis. Liqa (21) studeer aan die Universiteit van Queensland vir boekhouer, Will is in matriek en het aansoek gedoen vir vlieëniersopleiding by die lugmag, en Maré is in graad 9.

Waar woon julle en wat is besonders aan jul omgewing?


Ons het eers in Condamine, Queensland, sowat
350 km wes van Brisbane, gebly. Dis geleë in ’n perdehoef-kronkel van die Condamine-rivier. As
daar vloede is en die rivier oorstroom, is die dorp
onder water. Die dorp is twee keer ontruim, in Desember 2010 en Januarie 2011, om almal se veiligheid te verseker. Ons het heelparty avonture gehad in dié tye. Ek’s ’n “storm chaser” en hou van adrenalien en avontuur, en dit sorg vir heerlike stories!

Teen die middel van 2011 het ons na Miles (sowat 30 km van Condamine) getrek. Dis meer strategies
vir die kinders en vir werk. Miles is ’n besige plekkie omdat transport-trokke na die meer afgeleë gebiede in die Outback hier deurry. Die omgewing is boomryk en waar ’n boer met gesaaides of selfs vee wil boer, moet veld eers ontbos word om genoeg saaigrond of plek vir weiding te kry.

Die mees besonderse eienskap van ons omgewing is waarskynlik die mense. Dis nou werklik die sout van die aarde wat hier bly.

Wat doen julle daar?

Ek het tot onlangs by die skaliegas-projek gewerk as aankoper. Ek moes sorg dat die materiaal beskikbaar is op die terrein wanneer dit benodig is. Dit was nie ’n maklike taak nie, aangesien ons in die Outback is en nie fabrieke en vervaardigers net om die hoek het nie. Dit was stresvol en ek het vir eers ’n bietjie afgeskaal. Klaas werk vir die munisipaliteit as operateur van swaar masjinerie.

Twee jaar gelede het die Here ons gelei om ’n charismatiese kerk te begin en sendingwerk te doen. Omdat die mense nie regtig swaarkry nie en misdaad nie ’n noemenswaardige faktor is nie, is baie van mening dat hulle die Here nie nodig het nie. Hy het ons hier geplaas en daar is geen omdraaikans nie.

Het julle maklik ingeskakel by die gemeenskap?

Op die eerste dag hier het ek ’n ware Aussie-engel ontmoet. Sy het ons ondersteun en gehelp om deel van die gemeenskap te raak. Ek en Klaas het dadelik werk gekry en sodoende almal leer ken. Hier word op geen werk neergesien nie.
Of jy nou die strate vee, by die kruidenierswinkel werk of
die bankbestuurder is, jy dra by tot die land se finansiële voortbestaan. Wanneer hier ’n gemeenskapsgeleentheid is, kuier almal lekker saam sonder enige statusbewustheid.

Die kinders is ook in die plaaslike skole, waar ons betrek is en outomaties deel van die gemeenskap geword het.

Vandat die kinders 13 geword het, werk hulle deeltyds by verskillende plaaslike ondernemings vir ekstra sakgeld om ski-toere na die Australiese Alpe te kan bekostig, en natuurlik om te kan byhou met die nuutste tegnologie. Hulle is so deel van die lewe hier as wat enige Aussie is.

Het julle nog bande met SA en sal julle terugkom?

Ons hele familie bly nog in SA. In die huis praat ons steeds Afrikaans. Liqa en Will het in SA leer lees en skryf, maar die jongste, Maré, kan nie regtig Afrikaans lees en skryf nie. Ek geniet steeds die Suid-Afrikaanse humor en daar is maar net een taal waarin jy jouself emosioneel en baie akkuraat kan uitdruk en dis in Afrikaans.

Ek twyfel of ons ooit sal teruggaan. Die Here het ons hierheen gestuur en soos met baie ander sendelinge, neem dit gewoonlik ’n klompie jare voor die deurbraak plaasvind.

Lees meer HIER

Blaai deur die Delports se foto-album

Ek en Klaas in 'n weermag-tenk

'n Straat in Miles

Tydens die vloede in 2010 het almal uit die dorp en distrik bymekaar gekom op die hoofweg vir een van die kinders se verjaarsdag

Alles word per trok vervoer - selfs huise!

Ons kinders Will en Maré, ek, my man, Klaas, en ons oudste dogter, Liqa

'n Gesinsuitstappie na die Groot Koraalrif

Angelique Delport

Miles vaniut die lug