Reise

Janet English skryf uit Ann Arbor, Michigan, VSA

WANNEER IS JY AMERIKA TOE? In 2003, ná hoërskool. Ek het met ‘n werkprogram by die Boca West-buiteklub, in Boca Raton, Florida, beland en verversings op die gholfbaan aangery.

HOE HET JY EN SEAN ONTMOET? Op ‘n dating-webwerf. Dis baie algemeen hier. Sean het my gevind – hy verdien al die krediet! Ek het altyd gesê ek sal nooit met ‘n Amerikaner uitgaan nie. Ek het toe nie geweet wat ek mis nie.

HOE IS JUL LEEFSTYL? Ons verdien nie groot salarisse nie. Alles kom met tyd en harde werk. Ons woon in ‘n tweeslaapkamer-kondominium, want ons is te lui om ons eie sneeu weg te grawe en om die tuin te onderhou! In so ‘n deeltitelwoonstel word dit vír ‘n mens gedoen. Eendag sal ons ‘n groot huis besit . . . Op ‘n ernstiger noot: Ons is eintlik baie bevoorreg. Die ekonomie sukkel in Amerika. Baie mense verloor hul werk en huise. Ook ek het onlangs my werk verloor. Ek gaan begin om ‘n verplegingkursus te volg by ‘n kollege.

JY IS NÁ 4 JAAR TERUG IN SA OM SEAN AAN JOU FAMILIE VOOR TE STEL. WAS DIT MOEILIK OM SONDER HULLE TE TROU? Baie, maar ek het geweet ons seremonie in SA later sou vergoed vir als. Ek was nogal hartseer. Ek weet nie of my trane van geluk was of omdat ek my familie so gemis het nie. Miskien so ‘n bietjie van albei.

EN JUL HUWELIKSEREMONIE IN SA? Ons gaan ‘n Joodse seremonie hou en ‘n ete daarna. Ek wil tyd saam met die mense naaste aan my deurbring.

WAT MIS JY VAN SA? Die varkblomme langs die plaaspaaie. Ma se kos, natuurlik! Langebaan se strandmeer. (My ouers trek binnekort Langebaan toe. Hulle besit 2 winkels daar.) Stellenbosch se wynplase teen sonsondergang. My voete wat brand op die teerpad skool toe. Droëwors. Appletiser – maar sodawater en appelsap gemeng smaak byna dieselfde. Die son! Dit sneeu alewig in Michigan, dis asof die winter nooit ophou nie. Ek mis ook daardie deel van my persoonlikheid wat dinge meer waardeer – om nederig te wees. In Amerika is almal so entitled. ‘n Mens pas ongelukkig daarby aan.

ENIGE CELEBS GESIEN? Ek het Prins Charles en hertogin Camilla gesien – Londen is dus af van my moet-besoek-lysie! Drew Barrymore het in dieselfde restaurant as ons geëet en Juliette Lewis het my in die supermark ‘n staredown gegee. En Josh Duhamel was op Salt Lake City se lughawe toe ons ‘n paar jaar gelede in Park City gaan ski het.

‘N ONJUISTE VERALGEMENING OOR AMERIKA? Mense neem bloot aan almal in Amerika dink soos George W. Bush. Almal is nie vet nie (maar McDonald’s ís darem lekker hier!) Almal is nie ryk nie. Ons leef net asof ons is! Dis hoekom kredietkaartskuld so hoog is. ‘n iPod en iPhone is so algemeen soos brood in die huis.

NOG BETROKKE BY GEBEURE IN SA? Ek lees gereeld SA nuus op die internet en sal altyd betrokke voel. Ek wens net moord en verkragting wil afneem. Ons reputasie is reeds sleg as gevolg van die apartheidsera. SA word wel beter – dit neem tyd om te groei en transformasie begin by elke individu.

SAL JULLE IN SA KOM WOON? Ek wens dit! Ons wil baie graag vir ‘n tydjie in SA kom bly gedurende Sean se algemene snykunde-opleiding. Maar dis onmoontlik, tensy ons dieselfde kan verdien as in Amerika (ons skuld gaan nie verdwyn nie). Ek droom maar net dat ‘n instituut in Kaapstad ons sal bel met ‘n aanbod vir Sean om daar te kom werk. Wie wil nou nié elke dag wakker word in die pragtige Kaap nie!

  • Dankie Sarie vir die oulike artikel, en dat jul ons lewe in Amerika met ander gedeel het. Ons het ‘n fantastiese tyd in SA gehad!

  • Eurika

    Dit was lekker om te lees. Dit klink baie na my eie storie. Ek het ook gese dat ek nooit met ‘n Amerikaner sal uitgaan nie en het nie geweet wat ek mis nie. Ek is nou ook met hom getroud.
    My man is so na aan ‘n Afrikaner as kan kom, sonder om regtig een te wees.
    Ek stem saam oor die ‘entitled’ ding, maar dit bly ‘n keuse. Ons leef eenvoudig, het geen skuld nie en ook nie iPods of iPhones nie.

  • Riette O ‘Donovan

    Ek stem heelhartig saam…dit klink ontrent soos my eie storie….behalwe dat ek kinders in SA grootgemmak het, gese het ek gaan nooit weer trou nie, en 4 jaar gelede VSA toe verhuis het om n "Nanny" te wees….my man ontmoet het en nooit kon droom my tweede lewe sou so wonderlik wees nie. My man is volbloed arrogante (hehe) Amerikaner en ek is mal oor hom!!!Ek wens ook gedurig vir daadie wonderlike aanbod om in SA te gaan werk…veral in die Son Energie afdeling, want waar wil jy nou n sonniger land kry as die mooiste, mooiste Suid Afrika. Of gasvryer??