Reise

Renate Janse van Vuuren skryf uit Tsjiang Rai, Thailand

Waarom is jy in Thailand?

My man is sewe jaar gelede oorlede. Toe die jongste van my twee seuns uit die huis is, het die alleenheid my begin onderkry. Ons het saam besluit ek moet iets uitspattigs aangenaam aanpak. Voilà, hier is ek! Dalk bietjie ekstreem om dit op 47-jarige leeftyd aan te durf, maar ek geniet elke oomblik. My man was ‘n ware avonturier en sou baie trots gewees het op my.

Wat doen jy?
Ek gee Conversational English by die Samakkhiwitthajakom-skool. Die klasse het gemiddeld 45, 50 leerlinge elk. Ek moes ‘n kursus in die Thaise kultuur en taal doen om te kwalifiseer vir werk in die
onderwys. Die kinders leer basiese Engels op skool, maar is sku om dit te praat omdat hul uitspraak krom
en skeef is. Die uitdaging is om hulle sover te kry om nie ‘n L te gebruik waar daar ‘n R is nie!

Die lekkerste daar?

Ek geniet alles – die eenvoudige en bekostigbare leefwyse, my rooi bromponie, die gevoel van veiligheid. As ek iets moet uitsonder, is dit beslis die vriendelike Thais! Respek en beleefdheid is ‘n integrale deel van hul kultuur. Met die afklim in Bangkok was ek tuis – die lug het vir my kompleet geruik na die binnekant van my gunsteling- Chinese wegneemete-plek in Pretoria, pure Chinese take-away.

Grootste aanpassing?
Beslis die gemis aan my twee seuns, Marthinus (22) en Gerhard (20), albei studente in ingenieurswese.
Ek gesels gereeld met hulle en met my ouers wat op Bronkhorstspruit woon.

Wat maak jy in jou vrye tyd?
Ek en my vriende ry graag die wêreld vol na die besienswaardighede in en om Tsjiang Rai. Hier is warmbronne, watervalle, organiese boerderye, handwerk-sessies, kunstenaars wat hul huise naweke
oopmaak vir besoekers, pragtige Boeddhistiese tempels,  tradisionele danse en die Night Bazaar. Ek geniet ook die tradisies van die bergstamme wat nog hul tradisionele uitrustings dra. Ek gee ook ekstra Engelsklasse en kry self Thai-lesse by ‘n private tutor.

Vreemde kos-ervarings?
Ek proe aan alles. Groenpapajaslaai is my gunsteling. Ek het ‘n kookkursus gedoen en kan dit self
aanmekaarslaan. Vark-biltong is ook baie gewild. Hulle droog die vleis tot dit so ‘n donsagtige
flosserigheid is en verkoop dit as fluffy pork. Thaise restaurante dek nie messe nie. Jy leer hoe om ‘n stuk
hoender met ‘n lepel en vurk te takel en soort van beskaafd anderkant uit te kom. Ek is nog ‘n entjie
weg van dié deel van die spyskaart wat ‘n keuse gee tussen krap, kewer en kriek! Nou die dag het ek
gesmul aan tuisgemaakte klapperroomys met blokkies soetpatats daarin. Dan is hier die interessantste
groenbone, elkeen sowat 60 cm lank. Jy kan ‘n hele maaltyd kook van net twee boontjies!

Ander interessanthede?
Onderwysers is regeringsamptenare. Maandae dra ons militêre-tipe uniforms, Dinsdae dra ons pers (die kleur van ons dorp), Woensdae dra ons teacher’s uniforms, ‘n soort safaripak, Donderdae trek ons aan wat ons wil en Vrydae dra ons tradisionele noord- Thaise klere. My eerste Thaise massering was ‘n
belewenis: Die masseuse klim pens en pootjies bo-op jou bene en rug en bewerk jou bene met haar knieë en elmboë, terwyl sy kekkel met die masseuse op die bed langs joune. My lyf was drie dae daarna nog seer, beslis ‘n unieke ervaring.