FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Reise

My lekker vakansie saam met my dogter. Christina Bartels vertel.

Die Bartelsgesin het ’n dekade gelede Stellenbosch verruil vir Perth, Australië.

Beter werksomstandighede vir ’n beter gesinslewe is een van die redes waarom André en Christina hul kinders, Alain, Lize en Lara ontwortel het vir ’n nuwe lewe op ’n ander kontinent. Hulle woon in ’n stil woonbuurt nie te ver van die stad nie en wat ook heerlik naby aan die see is. André werk net buite die stad en Christina werk deeltyds vir ’n pêrelmaatskappy. Alain studeer ingenieurswese by die Universiteit van Wes-Australië, Lize is pas klaar met skool en Lara is in jaar 10. André geniet langafstand hardloop, driekamp en bergfiets ry en Christina blog en maak tuin en biltong in haar vrye tyd. Hulle hou daarvan om ou gunsteling-plekke te besoek en nuwes te ontdek en Wes-Australië is so groot dat daar nooit ’n tekort aan bestemmings is nie!

Christina vertel hoe sy en Lize vakansie gehou het in Coral Bay

“My middelkind, Lize, het klaargemaak met skool en om dit te vier, het ons twee in Desember ’n ma-en-dogter-trippie na Coral Bay gemaak. Dis ’n afgelëe, geïsoleerde klein paradys in noordwes Australië en dis een van ons gunsteling-vakansiebestemmings.

Reisigers kom van heinde en verre om die Ningaloo-rif te verken. Dié Wêrelderfenisgebied lok families, afgetredenes, toeriste en rugsakstappers. Coral Bay is effens noord van die Steenbokkeerkring gelëe en word soms deur siklone getref. Hier vind jy ook die naaste koraalrif aan enige landmassa. Om van die strand af te kan snorkel en pragtige korale te sien, is ’n ongeëwenaarde ervaring. Ongeveer die helfte van die koraalspesies wat wêreldwyd te vinde is, kom voor op die Ningaloo-rif en ’n groot aantal is endemies aan die rif. Daar is seeskilpaaie, mantarôe (manta rays), walvishaaie (in seisoen) en vis in oorvloed.

Die naaste dorpe is Carnarvon (omtrent 200 kilometer suid) en Exmouth (omtrent 150 kilometer noord). Dis ver van enigiets af en ná lang ure se ry deur die warm, droë landskap is die sprankelende turkoois oseaan ’n gesig vir seer oë. Net noord van Coral Bay, op pad na Exmouth is daar hoë miershope so ver soos die oog kan sien. Coral Bay ’n klein oord by die see. Daar is nie baie daar nie: ’n hotel, twee karavaanparke, ’n paar restaurante en winkels, ’n hostel vir rugsakstappers en ’n paar vakansiehuise te huur. Dis die soort plek waar jy meeste van die tyd kaalvoet en in jou swemklere is. Ons dae bestaan uit ontbyt eet, swem en snorkel, middagete eet en dan weer swem en snorkel. Die grootste kwelvraag elke dag is waar ons die volgende dag gaan snorkel! Ongeveer vyftig jaar gelede was die gebied heeltemal onontwikkeld. Dis vir ons die sjarme en aantrekkingskrag van Coral Bay en bring ons weer nader aan die natuur.

‘n Ander uitsig van die baai – geneem vanaf die sandduine – met die rif in die agtergrond. Die donker dele in die water is korale.

‘n Ander uitsig van die baai – geneem vanaf die sandduine – met die rif in die agtergrond. Die donker dele in die water is korale.

Dis ’n kort stappie van die karavaanpark af na die strand, bakkery of klein supermark wat van visvangtoerusting tot lang lewe laktose-vrye melk verkoop. Die gange in die supermarkie is breed en die rakke is nie oorlaai nie. Dit herinner my aan ’n winkeltjie in ’n stil en stowwerige plattelandse dorp met min besoekers. Ons gunsteling-restaurant het net opelug sitplek op ’n stoep. Dit kyk uit oor ’n stowwerige parkeerarea waar daar tevore brandstofpompe was, en anderkant dit sien jy die see. Dis asof mens teruggegaan het in tyd na ’n era toe dinge eenvoudig was. Toe kos en tyd spandeer met jou geliefdes die hoof prioriteite was.

Ons sien altyd backpackers in gehuurde minibussies met geen lugverkoeling nie, met die vensters afgedraai, op die paaie in die omgewing. Hulle kamp by een van die karavaanparke of parkeer sommer langs die pad en slaap in die bussie. Sommige afgetredenes spandeer die wintermaande daar in hul karavane wanneer dit koud en nat is in die suide. Families stroom hierheen in skoolvakansies. Ander toeriste kom besoek heel jaar deur. Australiese- sowel as oorsese backpackers doen graag seisoenswerk in die bakkery, winkels of is toergidse op een van die vele glasbodemboot- of ander ekotoere. Dis glad nie ongewoon om met ’n Italianer en Franse persoon op dieselfde toer te gesels en dan Hollands en Duits rondom jou te hoor nie.

Vir hierdie vakansie het die twee van ons opgevlieg van Perth lughawe na Learmonth lugmagbasis in die middel van nêrens. Daar’s net een kommersiële vlug per dag van Perth na Learmonth omdat daar nie baie verkeer deur die lughawe is nie. Nadat ons geland het en ons bagasie gekry het, het ons buite gewag vir die bussie wat ons Coral Bay toe sou neem. Die meeste passasiers was reeds weg. Ons het vir ongeveer ’n uur en ’n half gewag en net drie ander mense in daai tyd gesien. In Coral Bay aangekom, het dit ons getref hoe stil dit was. Ons het verwag dat dit stiller sou wees as tydens skoolvakansies. Nog nooit vantevore het ek kangaroes op die paadjie in die karavaanpark gesien nie, en hierdie keer het ek hulle daagliks gesien, en selfs kangaroevoetspore op die strand.

’n Klein joey (baba kangaroe) langs ’n paadjie in die karavaanpark.

’n Klein joey (baba kangaroe) langs ’n paadjie in die karavaanpark.

Ek het met die plaaslike Billabong-handelaar gesels en hy het vertel gedurende skoolvakansies kom die kangaroes 6vm in, hy voer hulle en dan verdwyn hulle tot 6vm die volgende dag. Hy woon en werk al vir jare daar, die “Billabong man” soos ons hom noem. Hy ry sy beach buggy en parkeer elke dag voor sy winkeltjie, tussen die klein supermark en restaurant. Wat ’n leefstyl is dit nie?

’n Kangaroe bekyk my agterdogtig op my oggendstappie.

’n Kangaroe bekyk my agterdogtig op my oggendstappie.

Vir ’n week het ons ’n eenvoudige bestaan gehad. Ek het vroeg in die oggende gaan stap. Ons het gesnorkel, geswem en langs die see gesit. Ná drie dae het ek altwee die boeke wat ek saamgeneem het, klaar gelees.

’n Groen seeskilpad wat opkom om rond te kyk en asem te haal. Geneem vanaf die glasbodemboot.

’n Groen seeskilpad wat opkom om rond te kyk en asem te haal. Geneem vanaf die glasbodemboot.

Ons het op ’n glasbodemboottoer gegaan na ’n seeskilpadbewaringsgebied. Dit was ’n belewenis om hul koppe bo die water te sien uitkom vir ’n sekonde of twee om na ons te kyk of om asem te skep. Ons het twee keer van die boot af gesnorkel. Een keer na ’n area waar grys rifhaaie eet. Ons moes een vir een deur ’n gaping in die koraal snorkel en die gety was sterk. Aan die anderkant van die gaping was dit skielik baie diep en asof ’n vallei van koraal voor ons oopgemaak het. Net voor ons was tussen agt en tien jong grys rifhaaie (onder ’n meter lank) naby die bodem besig om hulle monde deur ander visse skoongemaak te kry. Glad nie gepla deur die mense wat hulle aangegaap het nie. Onvergeetlik. Ek het na die rif geroei, net oor die twee kilometer. Dis ongelooflik om in die kano te sit en die korale oral rondom jou te sien. Sommige aande het ons van ons balkon af na die sonsondergang gekyk en ander aande het ons op die strand gesit met sonsondergang.

Blomkool-, takbok-, laventel- en ander korale geneem deur die bodem van die glasbodemboot, vandaar die weerkaatsing in die foto.

Blomkool-, takbok-, laventel- en ander korale geneem deur die bodem van die glasbodemboot, vandaar die weerkaatsing in die foto.

Wanneer ons weggaan maak ek gewoonlik lysies. Heelwat lysies. Hierdie keer het ek nie – dis baie ongewoon. Ek het net ’n paar noodsaaklikhede op ’n lysie neergeskryf. Wanneer jy in ’n huisie oorbly, is meeste van die benodigdhede mos klaar daar. So vergeet ek toe my strandhanddoek en moes ’n ander een koop. Ek moes seker maar ’n lysie gemaak het. . . Soos wat ek ingepak het by die huis het ek al my kameratoerusting nagegaan – dis een van die belangrikste items vir my om saam te neem as ons weggaan. Skielik kon ek nie die spaar battery enige plek kry nie. Ek het orals gesoek. Per toeval, ná omtrent ’n dag in Coral Bay het ek dit onder in die kamerasak gekry. Ek was so verlig en stuur toe vir my man ’n sms om hom te laat weet. Sy antwoord het sonder huiwering teruggekom: “kyk onder in jou handsak vir jou strandhanddoek.” Ek het nie ’n antwoord daarop gehad nie.

Uitsig na die rifhaaibewaringsgebied en dorre landskap ongeveer 1km noord van Coral Bay. Geneem een oggend toe ek gaan stap het.

Uitsig na die rifhaaibewaringsgebied en dorre landskap ongeveer 1km noord van Coral Bay. Geneem een oggend toe ek gaan stap het.

 

  • Ineke

    Pragtig geskryf.

  • Tjaart Herbst

    Lekker gelees aan jou vertellinge. Maak my lus om ook soontoe te gaan