FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Reise

Liefde laat my Suid-Afrika verruil vir Europa – Pedrie Wannenburg se vrou vertel

Die liefde kom soms soos ’n dief in die nag en steel vinnig-vinnig jou hart.

Vier jaar gelede het dit met Evette Wessels gebeur. Sy het haar hart verloor op ’n rugbyspeler en toe die geleentheid gekom het om saam met hom na Noord-Ierland te gaan, het sy dit aangegryp.

Pedrie Wannenburg, wat voorheen vir die Bulle flank gespeel het, het sy rugbyloopbaan oorsee gaan voortsit met Evette aan sy sy. Hy speel nou vir die klub Oyonnax in die Franse Top14-liga.

Sy vertel van hul ervarings oorsee.

 

Evette en Pedrie Wannenburg

Evette en Pedrie Wannenburg

“Ons avontuur het vier jaar gelede begin. Toe het ek en Pedrie met twee tassies en elkeen ’n eenrigting-kaartjie na Belfast in Noord-Ierland verhuis. My kêrel het ’n kontrak vir twee jaar by die rugbyklub Ulster geteken. Ek moes my werk bedank en alles wat vir my belangrik was in ’n enkele tas inprop. Ek was deel van die Just Plain Breakfast-span by JacarandaFM toe dit nog bestaan het.”
Ierland was koud en nat, maar die warmte en vriendelikheid van die mense het ons dadelik laat tuis voel. Nietemin het ons harte gehunker na die sonskyn van Suid-Afrika. Die weer was die grootste aanpassing. Die gemiddelde maksimum temperatuur in die somer is net 18 grade Celsius en dit reën byna 364 dae van die jaar. Ek moes vinnig leer ’n reënerige dag is eintlik normaal en dat ek nie elke keer in die bed kan bly of pannekoek kan bak as die druppels op ons toesak nie. Ek het my verkyk aan hoe klein 5-jarige kindertjies met rugsakkies in die reën skool toe stap. Daardie winter was dit -11° Celsius in die dag, maar studente het steeds klas gedraf deur wind en sneeu. Ons het ná ses maande in Ierland verloof geraak.

Net buite Belfast.

Net buite Belfast.

Steeds bly die Iere die vrolikste nasie wat ek al beleef het. Anders as ons is hulle nie afhanklik van ’n warm sonskyndag om ’n lekker tyd te hê nie. Ons het daar geleer braai met ’n sambreel oor ons kop. Intussen is ons getroud. Aan die begin van ons tweede jaar is ons oudste kind Isabelle in Belfast gebore.

Net ’n paar maande ná haar geboorte trek ons weer sak en pak, darem met ’n bietjie meer tasse as voorheen. En as ’n gesinnetjie van drie, maar weer met ’n eenrigtingkaartjie, Frankryk toe. Castres is ’n klein dorpie in die Suide van Frankryk. Dis prentjiemooi en die beste van alles is dat die son daar skyn!

Isabelle in die veld buite Castres.

Isabelle in die veld buite Castres.

Die kultuur was ooglopend anders as dié van die Iere en Suid-Afrikaners. Selfs die huise hier is anders as die regop huisies in Ierland. Hier is soveel meer ruimte, dus is die huise platter en dit het natuurlik hortjies voor elke venster. Ek was nog altyd verlief daarop. Dit laat my dink aan die flieks waar die Franse die luike in die oggende oopstoot en “Bonjour!” skree. Ons is nou al so gewoond daaraan en ek sal dit graag eendag by my eie huis ook wil hê.

Elke dag van 12h00 – 14h00 sluit die hele dorp. Almal koop vars Franse brood en gaan huis toe om te slaap. Sondae is alles toe en daar is nie ’n mens op straat nie. As jy nie vooruit jou Sondagete beplan het nie, gaan jy sukkel om selfs melk en brood te koop omdat alles gesluit is. Hulle geniet liewer hul tyd by die huis en by hul gesin. Elke Maandag en Saterdag is daar ’n boeremark waar jy al die vars plaasprodukte, kase en vleis kan koop. Ons wou soveel moontlik van die kultuur inneem en het gou geleer om ons vars groente en vrugte daar te koop. Dis sommer ’n lekker familie-uitstappie. Wanneer die rugby Saterdae gespeel word, is byna die hele dorpie daar. Dis die grootste gebeurtenis van die week op die platteland!

Isabelle en Pedrie in die sneeu in Castres.

Isabelle en Pedrie in die sneeu in Castres.

Ons seuntjie, Pedrie-François, is ongeveer ’n jaar nadat ons in Frankryk aangekom het, gebore. Dit was omtrent ’n belewenis om in Frans te kraam. Daar is nie ’n dokter wat jou bystaan nie, ’n vroedvrou vang jou baba en net as iets verkeerd loop, sal sy ’n dokter bel. Daar is ook nie eers sprake van ’n keisersnee nie. Hier gebeur alles normaal en net in ’n noodgeval word ’n keisersnee doen. Ek en Pedrie kan nou al Frans praat, maar neem steeds klasse om te verbeter.

Op die oewer van Lake Nanta naby Oyonnax.

Op die oewer van Lake Nanta naby Oyonnax.

Agt maande ná ons seun se geboorte was dit weer tyd om te trek. Gelukkig nie weer na ’n ander land toe nie, net na ’n nóg kleiner dorpie in die Franse Alpe. Ons bly nou in Oyonnax, sowat 90 km van Switserland. Al is dit steeds in Frankryk, verskil die taal effens van dié in die suide. Hier word ander woorde en uitdrukkings gebruik. Natuurlik is dit ook baie kouer, omdat ons nou in die berge bly. Tog is dit ’n nuwe skoonheid wat ons hier beleef, met meer van ’n Switserse invloed.

Ek ondervind ook dat die mense netjieser en meer stylvol geklee is as in die suide. Die vroue is vreeslik lief vir hoëhakskoene en trek baie vroulik aan. Steeds het ons al die ou geboue en nou straatjies wat so tipies aan Europa is. Hier is geen huis- of tuinhulp nie en dis algemeen om ’n vrou van in haar 60’s te sien gras sny op ’n sonnige middag ná werk. Die lewe hier is rustig en nie so ’n gejaag na wind soos in die stad nie. Maandagoggende is die hele dorp ook steeds toe, want elke naweek is ’n langnaweek met die week wat eers Maandagmiddag begin. Woensdag staan ook bekend as familiedag, omdat kinders op dié dag nie skool het nie. Dis die dag waarop hulle privaat kan deelneem aan sport, omdat dit nie in die skole aangebied word nie.

Hier en daar kry jy ’n paar Suid-Afrikaners en ander buitelanders. Hulle raak soos jou familie hier, omdat ons almal ver van die huis af is. Omdat die rugbyseisoen oor Desember en Januarie strek, bestee ons Kerstyd saam ons vriende hier. Verlede jaar was daar mense van ses verskillende nasionaliteite om die tafel. Die ete was natuurlik baie interessant met almal se tradisionele kosse.

Maar Suid-Afrika is steeds waar ons harte lê en ons gaan een maal per jaar huis toe. Ons maak ons eie biltong en boerewors, en sal baie geld betaal vir ’n bottel Mrs Ball’s en ’n SARIE. Ons voer mieliemeel in, bak melktert en leer almal wat ons ontmoet van braaibroodjies en pap. Ons braai, al sneeu dit buite en ons Franse vriende lag soms vir ons vreemde Suid-Afrikaanse gewoontes. Uiteindelik is elke ondervinding dit wat jy daarvan maak en al is ons soms alleen hier, weet ons hoe geseënd ons is om hierdie voorreg te kan ervaar.

Isabelle met Oyonnax in die agtergrond.

Isabelle met Oyonnax in die agtergrond.