Mariaan Fourie by haar leerlinge.

Mariaan Fourie by haar leerlinge.

Reise

Mariaan Fourie skryf ‘n brief oor haar lewe in Taiwan

Aan die begin van Februarie, in die middel van ons kort winter is die byt van die oggendluggie iets wat my terug laat verlang huistoe.

Dit laat my dink aan die oggende op Eastwood, ons plaas in die Oos-Vrystaat, waar die koue jou uit die bed kom haal en na die kombuis roep. Daar waar die ketel nog effens warm is van Pa se koffie ‘n uur of wat gelede. Wanneer daar die vorige aand nie water uitgehou is vir koffie nie, is jy ongelukkig. Want die opsie om terug bed toe te gaan is nie juis aanloklik nie, aangesien die koue deur al die komberse sny en die gevriesde waterpype nie plek laat vir ‘n warm bad nie.

Dít laat my uitsien na wanneer ek oor sewe maande teruggaan na die hartjie van die Vrystaat.

Winter in Taiwan is heerlik. Dis drie maande se ontsnapping van die versmorende hitte wat ons in die somer oorweldig. Die winter is net genoeg om my te laat besef dat my huis altyd my huis sal bly, dat die Vrystaatse koue in my wortels lê. En dat ek bevoorreg is om die herinneringe van gevriesde waterpype, snerpende koue en vars lug saam met my rond te dra.

Ek wens ek kon almal wat ek in Taiwan leer ken het, optel en vir ‘n oomblik in die Vrystaat gaan neersit sodat hulle kan verstaan waarheen ek terugverlang. Intussen laat ek my wortels hier net diep genoeg insink,sodat ek ryker as ooit kan teruggaan na Suid-Afrika.

Vir geen oomblik sal ek my ervarings hier wil ruil vir enigiets in die wêreld nie. Ongeveer ‘n jaar gelede het ek besluit om vir ‘n tyd hier te kom werk. Ek wou wegkom uit die normale leefwyse en wou ook die wêreld ontdek.  Ek woon in ‘n stad met die naam Hsinchu (uitgespreek as sien-sjoe) en is ‘n Engelse juffrou by ‘n ‘naskool’ en werk van 12:00 tot 20:00. Ons verdien heelwat meer as wat mens in Suid-Afrika as onderwyser verdien en dit skep ‘n geleentheid om baie makliker die wêreld vol te kan toer.

Die lekker van Hsinchu is dat hier ‘n redelike groot Suid-Afrikaanse gemeenskap is. Dit help dat mens ‘n goeie ondersteuningsnetwerk kan opbou. Ons word bederf met ‘n gerieflike leefstyl wat dalk die teruggaan ‘n groter aanpassing gaan maak. Taiwan was vir my nie net ‘n geleentheid om te reis nie, maar ook om meer van myself en God te leer en te ontdek. Dit het my mening oor soveel dinge in die lewe verander en het my ook die geleentheid gebied om verantwoordelikheid vir my eie lewe te neem.

Die grootste aanpassing was om te besef hierdie is my werklikheid, al is dit tydelik. Dis maklik om nie alles in te sit of om nie verantwoordelikheid te neem, wanneer jy besef jy is net vir ‘n kort tyd hier nie. Heelwat buitelanders het hulself hier gevestig.  Ek kan sien waarom, want Taiwan is ‘n vriendelike, veilige en gerieflike eiland waar jy soveel vryheid het om te kan doen wat jou hart begeer. Ek sal myself nie hier kan vestig nie. My persepsie van Suid-Afrika het baie verander in my tyd hier en ek is nou liewer vir my taal, my land en sy mense as ooit tevore.

Terwyl ek my NOU en my HIER geniet sien ek ook uit om terug te gaan.

Groete vanuit Taiwan,‘n land wat op vriendelikheid en gasvryheid gebou is en waar ek steeds soveel leer!

Mariaan Fourie
rooi lanterns