FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Reise

Mariette Peens oor die verrykendste ervaring van haar lewe in Oman

Mariette Peens woon in Sohar, Oman waar sy kuns gee aan hoërskoolleerlinge. Sy is reeds nege jaar daar en beskou haar tyd in Oman as die verrykendste ervaring van haar lewe.

Waar woon jy?
In 2007 het ek ’n aanbod ontvang om kuns by Sohar International School te gee en het toe vir die eerste keer gehoor van Oman. Ek het met van die onderwysers daar kontak gemaak en uitgevind dat die werksomstandighede daar baie beter is as in Suid-Afrika. Nou woon ek in Sohar.

Waarom woon jy daar?
Hier is feitlik geen misdaad nie en die leerders het nog respek vir onderwysers. Daar is niemand wat die klasse probeer ontwrig nie en die gevoel van vrede is iets wat ’n mens self moet beleef. Die leerders het baie goeie maniere. Dit is ook bekend as die vriendelikste land.

Die see by die hoofstad, Maskat.

Die see by die hoofstad, Maskat.

Wat doen jy daar?
In die eerste jaar het ek kuns gegee en daarna vir 6 jaar wiskunde by A’Tareef en Al Whainat. Nou gee ek weer die afgelope twee jaar kuns by A’Tareef. Albei vakke verskaf aan my groot vervulling. Intussen het ek gewoeker met my persoonlike kuns en was deel van twaalf kunsuitstallings onder andere vir ons skool se kunsleerders, my eie, asook vir die Suid-Afrikaanse Ambassade in die hoofstad, Muskat. Van my werke word uitgestal by Galery Sarah, ’n baie gesogte galery in die Midde-Ooste. Ek is ook gevra om die afgelope twee jaar ’n skildery te skenk vir die veiling van die Sultan Skool in Muskat. Die veiling word eintlik gereserveer vir bekende kunstenaars in Oman. Ek geniet die televisie- en media-dekking wat my uitstallings lok ten spyte daarvan dat ek ’n Westerse expat is. Fotografie is my ander groot liefde en ek is tans die skool se amptelike fotograaf.

Hier doen ek 'n televisie-onderhoud oor my kuns.

Hier doen ek ‘n televisie-onderhoud oor my kuns.

Hoe was die aanpassing daar?
Makliker as wat ek aanvanklik gedink het. Die hitte in die somer was die eerste paar jaar feitlik ondraaglik, maar ek het gou geklimatiseer. Temperature van tussen 48° en 54° Celsius in die somer is glad nie ’n uitsondering nie. Winter temperature vergelyk met Suid-Afrika se somers. Winkelsentrums en huise is toegerus met die beste lugversorgers. Ek moet konstant truie byderhand hou vir inkopies in die somer met die koue temperature in die sentrums.

Die oorblyfsels van Bibi Maryam se graf in Qalhat.

Die oorblyfsels van Bibi Maryam se graf in Qalhat.

Enige vreemde ervarings daar?
Wat my sal bybly is my eerste dag by die skool. Ons is na ons voogklasse gestuur met ’n paar basiese Arabiese woorde om jouself verstaanbaar te maak. Die Arabiese woord vir pouse is “Vusgha”, wat ek toe in my onkunde uitgespreek het as “Woesga”. Een dogtertjie het hartverskeurend begin huil en by nadere ondersoek beteken woesga toe om jou klere uit te trek.

My eerste rit op die rug van ’n kameel was toe ook my laaste rit. Niemand het my gewaarsku dat die dierasie sy passasier weeg en te swaar bevind en sy misnoeë met elke tree te kenne gee nie! Sowat van onaardse geluide, gekreun en gesteun het ek nooit voorheen beleef nie.

Kameelresies!

Kameelresies!

Die kos daar?
As vegetariër is ek in die paradys met die lieflike en heerlike eerste graadse vrugte en groente. Die meeste word ingevoer en jou keuse is vanoor die hele wêreld. Rys is hier die stapelvoedsel met bees, skaap, bok en hoendervleis. Elke dis het die kenmerkende Arabiese broodjies bo-op. Hulle spaar op vuil skottelgoed deur almal uit dieselfde bak te eet. Daar is definitiewe reëls en elkeen se kos word afgebaken deur ’n onsigbare lyn.

Die koffie en dadels is ’n bonus vir elke nuweling hier. Ek moes net baie gou leer om die allerfraaiste klein koffiekoppie te skud wanneer ek genoeg gehad het anders sal die gasvrou net aanhou skink.

Dadelpalms by Nakhel.

Dadelpalms by Nakhel.

Is dit maklik om daar te bestuur?
Die linkerhand en -kant bestuurstyl het ek baie vinnig onder die knie gekry. Ek was in Suid-Afrika ’n baie goeie agterbank bestuurder sodat my pa gereeld gevra het: “Wie bestuur jy of jou ma?” Nou sukkel ek nogal vakansies in Suid-Afrika. Dit voel asof ons aan die verkeerde kant van die pad ry.

Mooiste ervaring daar?
’n Paar maande ná my aankoms in Oman was ek die eerste expat wat ’n toekenning deur die “Ministry of Culture” ontvang het vir ’n skildery van kamele. Die groot lekkerte was dat my ma die geleentheid saam met my kon bywoon. Die hele seremonie was in Arabies en al wat sy verstaan het, was “galas” wat beteken ‘dit is nou klaar.’ Selfs my naam is so snaaks uitgespreek dat sy dit nie herken het nie, totdat ek opgestaan en vorentoe geloop het.

Ek was ook baie bevoorreg om die lede van die koninklike familie te ontmoet en vriende te raak met die ambassadeurs van die verskillende lande wat my uitstallings bywoon en my ook uitnooi na hul funksies toe.

Die kersie op die spreekwoordelike koek is die vriendelikheid en gasvryheid van die Omani’s. Wanneer jy by hulle aan huis kom, kan hulle nie genoeg vir jou doen nie en bederf jou met dadels, koffie, vrugte, halwa en die heerlikste koekies. Die skoolouers voel soos familie en ek voel geliefd en word waardeer.

Ons het ’n Suid-Afrikaanse hoof, Sharl Prinsloo en sy lieflike vrou, Alicia, wat ons Suid-Afrikaanse onderwysers koester en keer dat ons te erg terugverlang na ons land en mense. My nege jaar in Oman is die verrykendste ervaring van my lewe en ek hoop om nog lank hier te kan bly.

Die bergdorpie Misfat al Abriyyin.

Die bergdorpie Misfat al Abriyyin.