Blog: Marita en kie op toer in Frankryk - FOTO'S

SARIE - September 2009

In ons Julie-uitgawe het ons julle vertel van 'n inspirerende toer Frankryk toe saam met skrywer Marita van der Vyver. Dié van wat moes tuisbly, kan dag vir dag saamtoer danksy dié blog. Geniet!

Dag 1
Saterdag 12 September 2009

Lanie van Reenen, een van die toerleiers, skryf

"Ons gids vir die dag, Trish, en ek ontmoet die groep vroegoggend op Charles de Gaulle-lughawe. Per luukse bus doen ons 'n besigtigingstoer van Parys. Trish het soveel inligting vir ons oor Parys, van die vroegste geskiedenis tot die moderne stad van vandag, dat ons ná 3 ure goed georïenteer is vir die volgende twee dae se verblyf in hierdie "mooiste" wêreldstad.

By die hotel kry ons flink ons kamers en reël om 'n rukkie later te ontmoet wanneer Marita ook by ons sal aansluit.

Watter bymekaarkoms van 'n groep mense is sonder voorval? Ons s'n kom sommer in 'n drietal in die eerste 12 uur!

1. Marita het skaars haarself aan almal voorgestel of een van ons toerlede trap, so in die luister, agtertoe en val by 'n steil marmertrap af. Die goeie nuus is dat sy wonderbaarlik daarvan afkom met net 'n paar lelike skrape en blou kolle en is sommer al die aand na 'n restaurant vir 'n heerlike aandete..... so in die skadu van die Arc de Triomphe.

2. Die enigste heer in ons groep, William, word beroof van 400€ by 'n OTM! Die goeie nuus is dat hy nie seergekry het nie, dat hy nie 'n ophef gemaak het nie ...en dat dit nie NET in SA gebeur nie!

3. Die brand-alarm gaan in die middel van die nag af! Kitty, Marita en ek, synde die verantwoordelike "toer-ouers" haas ons na die ontvangsarea - al drie kaalvoet soos dit boerevroue betaam en in ons nagkabaais! Marita darem met 'n jassie bo-oor en handsak met haar paspoort. Die goeie nuus ... dit was 'n vals alarm en AL die ander toerlede het dit vinnig só opgesom en net omgedraai om verder te slaap ...

Dag 2
Sondag 13 September

'n Paar sinne van Marita van der Vyver

Ek het die hele groep Sondagoggend na die pragtige Parc Monceau naby ons hotel laat stap omdat dit 'n kleiner, meer onbekende en dus meer 'Paryse' park is as die Tuileries of die Luxembourg, waar daar dikwels meer toeriste as Parysenaars te sien is. Daarna het ons 'n voormalige rykmanshuis, nou 'n besonder indrukwekkende museum (Nissim de Camondo), langs die park besoek. En raai wat sien ons teen die mure van een van die deftige onthaalvertrekke? Die pragtigste tapisseriëe wat in die 18de eeu in Aubusson geweef is! Nee, ek het dit nie geweet voordat ons die huis besoek het nie. 'n Fantastiese voorbeeld van sinchronisiteit - of blote toeval?

Sondagaand het die girls in die groep almal die Moulin Rouge besoek en eers 3 uur die volgende oggend in die bed gekom. Daaroor sal Wanda (een van die vele vasvatvroue op die toer, aldus Lanie) later meer moet vertel, want ek het soet en vroeg in die bed gekruip omdat ek Maandagoggend voor ons vertrek na Aubusson nog gou bietjie winkelvensters wou gaan bewonder. Of 'vensters lek', soos die Franse dit noem.

Dag 3
Maandag 14 September

Lanie van Reenen skryf:

Ons reis vandag van Parys na Montluςon per trein - so 'n 3 en 'n half uur - en vandaar na Aubusson per bus. ('n Paar van die vroue lyk maar leepoog na gisteraand se pret by die Moulin Rouge en is dankbaar om bietjie op die trein te dut.) Ek praat ons gawe busbestuurder om om die mooier maar stadiger roete na ons dorpie te ry. Ek kan so in die ry beduie oor die omgewing en vertel hoe dit gekom het dat ons groepie Suid-Afrikaners in Aubusson beland het.

Ook oor ons hotelprojek en hoe ons die bouery en interieur vanuit SA beplan en uitgevoer het.

Met die aankoms kry almal geleentheid om deur Chateau Sallandrouze te stap en die kamers te besigtig alvorens hulle betrek word.

Ons hotelbestuurderes, Fatiha Clugnac, en sjef, Christophe Chabanel, en hul span staan reg vir ons. Aandete word geniet in die eetkamer en die Franse wyn maak die Afrikaanse tonge lekker los!

Dag 4
Dinsdag 15 September
Vandag besoek ons 'n tapisseriefabriek in Aubusson en verken die dorp op ons eie.

Wanda skryf:
Wat moet ek sê oor die Moulin Rouge? Dis ongelooflik! Die dekor en die karakter van die vertoning neem jou terug na die jare toet, toe die courtesans die manne daar ge-entertain het.  Die show is gelukkig net so baie vir die oog vir die vroue in die gehoor. Daar was n hele paar Saries wat gedrool het oor die manne in die show. Nie net was hulle sag op die oog nie, maar hulle kán beweeg!

Tapisserieë: Laatoggend val al die Saries in 'n ry die noue franse straatjies in tot by die museum. Gewoonlik is die museum op Dinsdae toe maar ons het die voorreg gehad om op 'n private toer daardeur geneem te word. Die sjarmante eienaar van een van die tapisserie-fabrieke wys vir ons hoe eenvoudige geverfde kartonnetjies omskep word in geweefde meesterstukke. Die museum was 'n belewenis wat 'n mens se idee van binnehuise versiering verander. Die oudste stukke, gedateer 1615, hou steeds sy bekoring en vertel die storie hoe die mense in daardie tyd geleef het.

Van al die Saries in Frankryk aan al die Saries by die huis - Bonjour, Merci en Au revoir

* Lees ook Marita se rubrieke in SARIE

Dag 5
Woensdag 16 September

Elize en Lize Rust skryf

Ons besoek aan die huis van die gevierde Franse skrywer George Sand in Nohant in die Berry-distrik, was nog lekkerder ná Marita van der Vyver se inligtingspraatjie gisteraand.

George Sand is nét so bekend vir haar eksentrieke lewenswyse as haar romanskryfkuns. Miskien is daar van haar eienskappe waarmee ons as Sarie-lesers kan assosieer, of selfs begeer. Sy's van adellike afkoms, sy was 'n demokratiese vegter vir menseregte, het 'n skandalige liefdeslewe gehad ('n affair met die komponis, Chopin), sy't en pyp en sigaar gerook en soos Coco Chanel voorkoms gelyk. Hierby het sy mansklere gedra en was sy 'n weldoener aan minderbevoorregtes.
 
Opvallend van hierdie besoek was Marita se vooraf in-diepte studie van die skrywer, terwyl sy self in eie reg ons eie gewilde skrywer is en net so gemaklik met die gesproke woord omgaan. Sy maak ons trots Suid-Afrikaans.
 
Ons toergroep het besluit om vanjaar elkeen een van haar boeke as Kersgeskenk aan iemand anders te gee...

Doodhonger (ten spyte van 'n groot ontbyt) val ons by 'n restaurant in die naaste dorpie in vir 'n vinnige  middagete. Die res van die middag dwaal ons rustig deur die pragtige tuin van Patrice Taravella by Notre Dame D'Orsan. Ons het uitgesien na 'n bietjie son maar die tuin is ewe mooi in die sagte nat mistigheid van die reën wat die draai van die seisoen verwelkom...

Dag 6
Donderdag 17 September

Sonia van der Merwe en Susan Goosen skryf

Besoek aan Boussac

Die Sarie-vriendinne het vandag 'n heerlike uitstappie gehad na La Creuzette in Boussac, die tuiste van Louis Janse van Vuuren en Hardy Olivier.

Ons is ontvang met egte Franse-Boere-gasvryheid. Ná almal se oe en aa oor hul lieflike herehuis is ons na die plaaslike mark om vars produkte aan te koop vir die kosdemonstrasie later. Heerlike vars blomkool vir die sop het in die mandjie beland asook twee reuse salms wat later in 'n soutkombers in die oond sou verdwyn.

Op 'n informele wyse het Hardy ons aan Franse kaas en charcuterie (worse) bekendgestel. Van die toerlede is ingespan met die voorbereiding van die disse. Susan en Hanlie moes hul slag wys met die knie van die soutkors. Marietjie, Sanet en Susan het aartappels geskil vir die aartappel-wasabi-gereg. Almal het meegedoen in die maak van spinsuiker vir die nagereg – natuurlik onder groot gelag en aanmoediging.

Ons het aangesit by stylvol gedekte tafels in egte Franse styl. Smaaklik, uitsonderlike kombinasies, voortreflik was van die opmerkings aan tafel.

Hardy het ons vergesel na die kasteel van die Blondeau-familie (eienaars van die tapisseriefabriek in Aubusson.) Hy is nie net 'n goeie sjef nie, maar ook 'n ingeligte gids. Almal was geraak deur die ryke geskiedenis en tradisies van die kasteel. Ons uitstappie is afgesluit met 'n besoek aan die studio van Louis Janse van Vuuren, 'n bekende en gevierde Suid-Afrikaanse skilder. Hy vier vanjaar sy 60ste verjaarsdag met twee groot uitstallings in Suid-Afrika. Kyk gerus na die webwerf www.lacreuzette.com vir meer inligting.

Die dag het alle verwagtinge oortref en was beslis die hoogtepunt van ons toer.

Vrydag 18 September
Lani van Reenen:
Ná 'n piekniek-ontbyt langs die Creuze-rivier by 'n pragtige klein dorpie, Moutier d'Ahun, gaan ons vanoggend verder na Limoges. Dit is die grootste stad in die Limousin en ook wêreldbekend vir die vervaardiging van fyn porselein. Die pad daarheen neem ons weer deur die digte woude van die Limousin - die streek met die grootste persentasie inheemse bos in Frankryk.

Die historiese besienswaardigheid vandag is die Musée National de Porcelaine, gestig in 1845. Elkeen kan rustig en in haar eie tyd hier deurstap met oorfone wat in Engels die uitstallings in die verskillende salonne verduidelik.

Maar dis ons laaste dag en ons was dae laas in winkels! Dus neem die meeste van ons koers na die mooi moderne winkels in Limoges en koop geskenkies en ander fyn Franse goedjies vir 'n laaste bietjie selfbederf! Sommige van ons groep stap oor na die ou stad en almal maak 'n laaste draai by die mooi straatkafeetjies.

Vanaand trek almal hulle grênd aan en Christophe en sy span berei weer eens vir ons 'n feesmaal. Marita vertel op haar lekker manier vir ons oor haar en haar gesin se lewe in die Suide van Frankryk.

En asof dit 'n fyn uitgewerkte plan was, stap haar man Alain en haar engel-dogtertjie Mia in op die oomblik wat sy oor hulle vertel. Sy het dit as 'n verrassing gehou dat hulle op die laaste aand by ons sou aansluit.

Laaste dag 19 September
Wanda skryf:
Die einde van ons verblyf in Aubusson.

Die Chateau Sallandrouze is majestieus en elegant en neem jou terug na n ander era. Die interieur is luuks, romanties en eg-Frans.  Die "chatelaines" (Lanie, Liesbet en Yvette) is tipiese 21ste eeuse vroue – vriendelik, gasvry, dinamies, entoesiasties . . .

As jy iemand is wat voluit leef in die 21ste eeu, maar daar is iewers n tikkie 16de-eeuse Franse romantiek in jou siel, is Chateau Sallandrouze net die plek vir jou. Hier kan jy jou droom kom leef.

Hiermee groet ek, Wanda, namens die eerste SARIE-toergroep. Dit was 'n Franse vakansie "par excellence!"

Verwante artikels

Galery

  • Louvre
  • Paryse straattoneel
  • Hotel Sallandrouze
  • sarie_1_064.jpg
  • sarie_1_115.jpg
  • By die tapisserie-fabriek
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Saries op toer saam met Marita in Frankryk
  • Marita van den Vyver

Kommentaar

  • Ai, maar alles klink so lekker, wens ek kon saamgaan. Wag net tot my kinders klaar geswot het,dan is daar dalk bietjie bederf geldjies vir my ook. Dankie dat ons in jul wedervaringe kon deel.

    7de Des. 2009, 21:37
  • My foto's is geprint en in 'n album wat ek kort-kort nader trek om die memories vas te brand in my geheue !! Ek lag weer dat die trane rol en elke gesig wat ek sien bring dit wat ek by elkeen geleer het, weer vars in my geheue op. Die wysheid, die seer wat van hulle al moes deurmaak, die genade wat ons almal so ryklik ontvang, die vreugdes wat vroue deel... Frankryk is voorwaar vir elke vrou met ons meer "bewuste" sintuie, 'n droomervaring !! Van elke borreltjie Champangne wat bars op jou tong tot die kraak en krummel van die brood tussen jou vingers, om nie eers te praat van die reuk daarvan as dit varsgebak word vir ontbyt onder jou kamervenster nie... die romantiese klank van die Franse taal, al verstaan jy nie wat hul kwytraak nie - dit klink GREAT !! Die toer was 'n goeie kombinasie om almal se unieke verwagtinge te bevredig. Dankie aan SARIE, Marita, Lani, Liesbeth,Yvette, Kity vir 'n wonderlike BRAINWAVE !! Julle wat die keer uitgemis het - spring volgende keer em maak MEMORIES !!!

    6de Okt. 2009, 11:20
  • Dis Maandagoggend , stil en vredig by Chateau Sallandrouze, na al die opwinding van die twee SARIE toere. Aan almal wat vir my kom kuier het en julle heerlike Suid Afrikaanse energie vir my agergelaat het, se ek uit my hart dankie! Julle het my en Sallandrouze op 'n nuwe plek kom neersit. En aan Marita , dit was wonderlik om jou as die "fees-varkie" te kon voorsit. Dankie vir jou reuse bydrae. In April maak ons dalk weer so , met Marita ! Laat dus weet indien daar verdere belangstelling is. My email adres is lanelle.g@gmail.com

    5de Okt. 2009, 11:20
  • Amanda, daar's nie eintlik iets soos 'n 'sentrale' hotel in Parys nie, want die stad is so enorm en uitgestrek, maar aan die ander kant is alles 'sentraal' solank dit naby 'n metro-stasie is. Met die metro kan jy meestal binne minute op enige plek in die stad beland. Die Sarie-groep se hotel was die BW Star Champs Elysees, 18 rue de l'Arc de Triomphe, soos jy kan aflei baie naby die Arc de Triomphe. e-pos: contact@hotelstarchampselysees.com

    29ste Sep. 2009, 14:13
  • Hi Sarie!!!! Die foto's is sooo mooi, wens ek kon ook saam gegaan het, ek sit hier in Egipte, maar lees altyd die Sarie. Ek is gek oor Sarie, dankie vir n wonderlike tydskrif.

    28ste Sep. 2009, 17:07
  • Hi there, almal. My afrikaans is nie so goed nie, maar ek kan amper alles verstaan. Ek wil graag Sallandrouze en Le Creuzette besoek -as daar 'n toer volgende jaar sal wees, is ek baie geinteresseerd. Ek dink Jalna Shulmann sal ook entoesiasties wees. Vriendelik, Aimée Friederich

    26ste Sep. 2009, 09:40
  • Baie dankie aan Kitty van Rufaro Destination Management vir al haar reëlings met die toer om dit vir ons so 'n onvergeetlike ervaring te kon maak. Alles het so glad verloop! Omdat sy self so 'n berese persoon is,is sy uitstekend as reisagent. Dit was dan ook vir my lekker om haar as reisgenoot te kon hê. Graag bedank ek ook Marita wat bereid was om van haar tyd af te staan om SARIE toer 1 mee te maak, ons interressante plekke te wys, en ons groter insae te gee in haar lewe op die Franse platteland. Ek sien uit na haar volgende boeke in wording! Ek sien ook uit om George Sand se biografie te lees-'n fassinerende vrou wat sonder Marita se toedoen tot nou 'n onbekende vir my sou gewees het. Louis en Hardy - die dag wat ons daar by jul spandeer het was 'n hoogtepunt op die toer! Ek sien geweldig uit na jul kookboek! Liesbeth en Yvette het ons ook baie spesiaal laat voel met hul teenwoordigheid. KAPSTADT international PROPERTIES se lekker groot sak het wonderlik gewerk om van my inkopies as handbagasie in SA te kry! Baie dankie aan Liesbeth vir die goeie idee!

    23ste Sep. 2009, 17:43
  • Liewe Marita As jy slegs één hotel in Parys sou aanbeveel vir 'n 4-dag kuier saam met my seun uit London, albei ons eerste Parys-besoek, watter hotel sou dit wees? Verkieslik sentraal, maar bekostigbaar vir iemand wat in Rand betaal word? (Julie 2010) Ek kry by al ons vriende name van plekke, maar dis soms so ver van alles!

    23ste Sep. 2009, 13:18
  • Klink wonderlik en definitief iets om te oorweeg !!

    22ste Sep. 2009, 23:10
  • HALLO DAAR IN FRANKRYK! MY MAN, EK EN CARA (DIS MY DOGTER VAN 15) SIEN JULLE DIE NAWEEK. ONS KAN NIE MEER WAG NIE! ONS HET REEDS BEGIN PAK. GROETE UIT KIMBERLEY.CATHY

    21ste Sep. 2009, 07:14
  • Liewe Sallandrouze Saries en William (Deidre en ons allergalante heer van die week!) Baie dankie dat julle by Hotel Chateau Sallandrouze kom kuier het saam met Marita en Lanie. Toe ek netnou Marita se webwerf besoek, besef ek net weereens besef HOE gelukkig ons almal was om soos een groot gesin saam met Marita te kuier en die wonderlike manier hoe sy ons aan George Sand voorgestel het. Baie hartlik dankie weereens Marita, Lanie, Kitty en die mees fantastiese groep Saries - ek is so bly ek kon dit saam met julle beleef! Hoop ons kan nog baie sulke toere doen met Marita en as julle ander idees het soos Boekklub- en Pajama paarties of spesiale verjaardae- laat weet net vir Lanie by info@sallandrouze.com

    20ste Sep. 2009, 19:00
  • Liewe reisende SARIES; ook Lanie en Marita. Op hierdie Vrydagaand is my gemoed by julle in Frankryk en by Chateau Sallandrouze in Aubusson. In 2006 het SARIE 'n Leefstyl-bylae in die provinsie Limousin kom saamstel en het die redaksiespan (waarvan ek deel was) ook 'n draai in Aubusson gemaak. Toe was Sallandrouze 'n vervalle herewoning. Maar met haar deursettingsvermoe en flair het Lanie dit omtower tot 'n swierige sprokieshotel. Geniet julle saamwees-momente en maak mooi herinneringe. Bonne nuit. - Jeanne Els

    18de Sep. 2009, 23:24
  • Nee, Helene, dis nie net vroue wat mag saamtoer nie. Ons het 'n man - en boonop 'n Engelsman! - in die groep. En in die volgende toer oor 2 weke is daar glo 3 mans...

    18de Sep. 2009, 18:45
  • Lanie en Marita en Saries Julle moet elke oomblik geniet.Dit klink na die wonderlikste reiservaring en ek wens ek was saam, verlang sommer verskriklik na Boussac en Paris en La Sallandrouze!Ek is seker almal was baie beindruk met jou kasteel, Lanie?En ook met reg- jy verdien al die lof. Anet

    17de Sep. 2009, 15:59
  • doen marieta die toer net met vroue? 'n kennis is tans saam - hopelik sal sy baie te vertel he (so sonder mans klink net bietjie erg - veral in parys!) marieta is nogal heel dikwels hier en dis altyd gaaf om te lees hoe sy die vreemde ervaar - (wat eintlik nou haar tuiste is!)

    17de Sep. 2009, 15:31
  • Volgende keer kom ek definitief saam - Lees al Marita se artikels - het al deur Provence getoer. wil Marita baie graag ontmoet. Wanneer is die volgende toer

    17de Sep. 2009, 12:46
  • klink wonderlik!!! ek kom volgende keer saam!

    17de Sep. 2009, 09:14

Web Development by FormFunction