FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Reise

Merkwaardige vroue help Pole se geskiedenis verander

Vroue speel regoor die wêreld ’n rol om die geskiedenis van lande te help verander.
In Pole het merkwaardige vroue groot bydraes gelewer in die vernietiging van Kommunisme en die verandering van werkers se lewens in Oos-Europa.

Violetta Teetor is ’n Suid-Afrikaner wat sedert die tagtigerjare in Helsinki, Finland woon en werk as joernalis. Sy het besoek gaan aflê by ’n splinternuwe museum wat onlangs oopgemaak het om Solidariteit te eer. Sy skryf vir ons oor haar besoek aan die Solidariteit Museum in Gdansk, Pole waarin die vroue se rolle in Solidariteit se geskiedenis ook uitgebeeld word.

FOTO: verskaf

Die Vroue van Gdansk Skeepswerwe en hul rol in Solidariteit
Sy vee die slaap uit haar oë. Haar klein liggaam voel vandag so swaar soos ’n klip en haar kenmerkende ligte tred het verander in ’n geskuifel van voete. Dis 8 Augustus 1980. Sy het by die Gdańsk Skeepswerf as ’n sweiswerker begin en later gevorder tot kraanbestuurder. Sy werk só hard en met sulke fyn presisie sodat niemand enige rede kan vind om haar in die pad te steek nie. Maar die lewe neem vreemde wendings en vandag weet sy dat selfs ’n ‘udarniks’ (mees doeltreffende werker) en diegene vereer as ’n “held van Sosialistiese Arbeid” ook hul werk kan verloor. Haar misdaad? Om uit te praat teen die sogenaamde ‘werkers staat’, die Kommunistiese reguleerders van die skeepwerwe van Gdansk. En dit net vyf maande voor aftrede!

Sebastian, vinniger; opstaan, ek is laat!”

Alina Pienkowska probeer om pap te kook, haar tande te borsel en op haar seuntjie te gil, alles terselfdertyd. ’n Enkel-ma se taak is nie maklik nie, veral wanneer jy as ’n verpleegster in die skeepwerwe werk waar daar gedurig oor jou skouer gekyk word en traagheid nie verdra word nie.

Alina gryp Sebastian se hand en spring op ’n trem. Die trembestuurder glimlag vir hom en groet vriendelik. Henryka Krzywonos het probleme van haar eie. Sy werk haar vingers tot op die been met al die vroeë oggendskofte op die trem en sy weet vir ’n feit dat haar manlike eweknieë meer geld as sy verdien. In hierdie patriargale samelewing verwag haar man doodluiters dat sy kook, skoonmaak, die wasgoed doen en seker maak dat sy vodka koud is.
Die skeepswerf is in rep en roer wanneer Alina by die werk kom.

Het jy gehoor?
Wat?
Dit is waar, hulle het haar afgedank!
Wie?
Anna!”

Die woord versprei soos ’n veldbrand dat Anna Walentynowicz, daardie klein, bondel energie, almal se vriendin en oortreffende werker, haar werk verloor het ’n paar maande voordat sy sou aftree. Genoeg is genoeg, en as hulle dit aan haar kan doen, kan hulle dit aan enigiemand doen.

Die staking word verklaar op 14 Augustus 1980, georganiseer deur die ondergrondse Vrye Vakbonde van die Kus. Hul eerste eis: herstel Anna en Lech Walesa (wat sy werk in 1976 verloor het) in hul poste. Van die 17 000 werkers is 4 000 vroue wat, weens hul kleiner liggaamsbou, gesogte sweisers is. Hulle kan by baie smal plekke uitkom wat nie deur mans bereik kan word nie. Hulle is ook kraanbestuurders, verpleegsters, administratiewe personeel en kokke. En die ontevredenheid wat met die Lenin Skeepswerfarbeiders begin, versprei deur die hele land, en meer en meer mense sluit aan.

Alina Pienkowska besef dat die telefoonlyne afgesny is, maar dat die lyn in die kliniek steeds werk. Haar eerste oproep is na Jacek Kuroń van die Werkers Verdediging Komitee in Warskou, wat op sy beurt kontak maak met die pers wat die nuus oor die staking aan die res van die wêreld versprei. Henryka Krzywonos, die trembestuurder, hoor die woord op straat. Sy stop haar voertuig en kondig aan dat sy by die stakers sal staan.

En wanneer Lech Walesa gereed is om die voorwaardes, wat na twee dae van onderhandeling aangebied is, te aanvaar en wat slegs die werkers by Gdansk insluit, is dit Alina wat in geen onsekere terme uitpraat:

Jy verraai hulle! Nou sal die owerhede ons vernietig soos weeluise.”

Sy gryp die luidspreker, pleit by diegene wat moeg is en huis toe wil gaan om te volhard en hul eise te stel. Sy en Anna Walentynowicz sluit die hekke om die werkers binne te hou. Saam met Johanna Duda-Gwiazda versamel hulle die eise wat hulle self noteer. Henryka Krzywonos laat haar stem hoor:

As jy (Lech Walesa) ons laat vaar, sal ons verlore wees; busse kan nie tenks in die gesig staar nie.”

Die Gdansk ooreenkoms met die 21 eise is onderteken deur Lech Walesa, maar ook deur die volgende vroue: Walentynowicz, Pienkowska en Krzywonos. Solidarność is gebore.

Dis maar net ’n paar van die vroue wat ’n sleutelrol gespeel het in die vernietiging van Kommunisme en die verandering van werkers se lewens in Oos-Europa. Dit het gevolge regoor die wêreld gehad. Die merkwaardige vroue se verhale leef in Metropolitanka en by die splinternuwe Solidariteit Museum waar jy dalk ’n blik van Lech Walesa sal kry in sy kantoor.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf