FOTO: verskaf

Reise

Musiek het Pierre en Sophie van der Westhuizen laat wortel skiet in Ohio.

Dié twee pianiste se lewens draai om die wêreld van klavierkompetisies en musiekuitvoerings in Ohio, maar ook in die res van die wêreld. Tog bly hulle harte altyd in Suid-Afrika.
Die moeilikste vir Pierre-hulle om aan gewoond te raak is “verlange. Verlange na familie, na vriende, na kos (biltong en beskuit!), na die mooiste natuurskoon in die wêreld.  Niks vergelyk met die Kaap nie. Verlange om jou eie taal in die winkel, skool of kerk te kan praat. Dit gaan nooit weg nie – mens raak net gewoond aan hierdie konstante gevoel van’n soort melankolie.”

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wanneer het julle emigreer en waarom?
Ons gesin bestaan uit Pierre (ek), Sophié, Jean-Pierre (4), Emma (3), en nog ‘n babatjie op pad (Januarie 2014). Ek en Sophie  is albei pianiste. Na ons graad gekry het by Noordwes Universiteit, het ons in 2001 Amerika toe gekom op uitnodiging van ‘n klavier professor in Ohio . Ons het dus vir studies oorgekom. Ons het toe albei ons Doktorsgrade aan die “College-Conservatory of Music” in Cincinnati voltooi. Ons woon tans in Cleveland, Ohio, in ‘n voorstad genoem Shaker Heights.

Was dit ‘n moeilike besluit om oorsee te gaan woon en werk?
Ons het verseker geweet dis ‘n belangrike besluit en definitief moeilik. Meeste pianiste op daardie stadium het Europa toe gegaan, maar ons het ook baie gehoor van al die ongelooflike geleenthede in Amerika vir klassieke musici. Dinge het net so uitgewerk dat die universiteite in Amerika, met hul top professors, studiebeurse en werksgeleenthede die meeste aantrekkingskrag gehad het. En sedertien het  menigte Suid-Afrikaanse musici in Amerika gaan studeer. Dis altyd goed om, as musikant, jou horison te verbreed soveel as jy kan en as die geleentheid kom, dan gryp jy met albei hande!

Waar het julle al in die wêreld gewoon?
Net in die staat, Ohio. Vorige stede was Youngstown, Cincinnati, en Tiffin. Maar ons het al tydens menige feeste tydelik gewoon vir ‘n maand of so in Texas, Roemenië, Italië, en Michigan.

Hoe moeilik is dit om ‘n merk te maak in die wêreld van ernstige musiek?
Nie net vat dit jare en jare se toegewyde oefen en uitvoer nie, maar dit verg kreatiwiteit om jouself te onderskei van ander, en ‘n sekere mate van entrepeneurskap om aan unieke en kreatiewe projekte te dink. In my rol as Uitvoerende Direkteur van die Cleveland International Piano Competition en Sophié se rol as pianis en onderwyser, kan ons van beide die musiek “bedryf” kant en opvoer kant getuig dat van selfs die klein persentasie pianiste wat hulself as konsertpianiste bekwaam, ‘n fraksie daarvan uiteindelik ‘n beroep daarvan kan maak.

Jy en Sophie tree ook saam as duo op. Kry julle nog tyd om op te tree?
Beslis, ons maak tyd.  Ons het hierdie jaar ‘n hele spul konserte gespeel, insluitend ‘n toer na SA in September/Oktober. Dis ‘n bietjie moeiliker wanneer mens kinders het, maar ons kry  maar babawagters om ons kinders op te pas terwyl ons oefen en optree.

Wat doen julle om te ontspan?
Glo dit of nie, maar om op die vloer pop of  karretjies of treintjies te speel met ons kinders is vir my ‘n vorm van ontspanning! Andersins is ons gewoonlik lief vir lekker uiteet en fliek. Natuurlik wanneer ons tyd kry!

Kom julle nog terug na SA?
Ons kom gewoonlik elke jaar terug vir kuier en konserte. Maar met die nuweling op pad sal ons seker eers weer in 2015 kom!
Stap in park