mussulo
Reise

Mussulo, Angola

Met ‘n hol gevoel op my maag staan ek in die ry by OR Tambo om my kaartjie te kry van die Angolese lugredery TAAG om na Luanda te vlieg. Ek het lanklaas mense met soveel bagasie, bokse, sakke en houers gesien. Die trollies kreun omtrent en alle bagasie word voor die tyd geweeg. Ek kan verstaan waarom.

Rustig sit ek agteroor in my sitplek en wag vir my ete. Nou kan ek ontspan en my nuwe avontuur met geesdrif aanpak. Die lugwaardin vra my iets in Portugees. Ek sê ek verstaan nie. Sy vra my weer in Portugees en my keel begin toetrek – wat vra sy?

Ek skud toe maar my kop heen en weer en daar is ek my ete kwyt! Al wat jy uit die lug bo Luanda sien, is bouvallige huise, of shacks soos ons sal sê. Boonop lyk die hawe asof dit vol oorlogsbote is. Genade, dink ek, waarvoor het ek myself ingelaat?

Op die lughawe is dit dieselfde storie met die taal en ek besef nou hoekom ek gevra is om hier te kom werk by ‘n afgetrede diplomaat as die “English professor”, soos die mense hier my noem.


Waar ek woon en werk:

Ek woon en werk in Mussulo, die skiereiland van Luanda. Dis net toeganklik per boot. Dis soos ‘n eksotiese eiland. My werk hier is om ‘n 3-jarige dogtertjie, asook haar ouers Engels te leer. Die mense is baie gasvry en ek het my eie rondawel met sitkamer, kombuis, internet en TV. Niemand hier verstaan Engels nie. Ek is die enigste blanke persoon en dis ‘n baie eensame lewe. Bedags is ek maar in die rondawel, want hier by die ewenaar is daar net twee seisoene – somer en hoogsomer!

My werkgewer is een van die mees welgestelde en bekendste mense hier en oral waar ons gaan, is daar altyd sekuriteit om ons. Ons stap tot voor in die ry en wag nie, en vlieg met ‘n private straler die wêreld vol, hou vakansie in die Maldives. Dis ‘n regte rykmanslewe.


So ervaar ek inkopies en verkeer in Luanda:

Ek gaan Luanda toe vir inkopies per boot. Dis ‘n rit van 20 minute (dis so 15 km van Luanda se hawe af) en dan ry ‘n bestuurder my rond. Die verkeer is ontwrigtend en dit kan jou maklik 2-3 ure neem om net tot in die middestad te kom. Daar is twee bane, maar vier rye motors. Almal ry soos maniakke en probeer indruk waar hulle kan. Klein motorfietsies ry sommer aan die verkeerde kant van die pad. Sypaadjies bestaan nie. Dis net een moddermoeras, veral na ‘n reënbui.

In winkels en banke praat niemand Engels nie. Inkopies is ‘n nagmerrie. By die betaalpunt vra hulle of jy kleingeld het en sodra hulle sien jy kan nie Portugees praat nie, maak hulle sommer gou ‘n transaksie vir iets wat jy nie eens gekoop het nie en as kleingeld kry jy ‘n pakkie Beechies. Jy kan maar stry tot jy blou word – jou Beechies is jou kleingeld.

Goedere is baie duur, omdat alles ingevoer word. ‘n Klein bakkie jogurt kos R35, ‘n slaaikop R80, ses tamaties R90 en ‘n pakkie pasta R90. Moenie eens van klere en skoene praat nie. Ek verstaan nou al die pakkasies op die lughawe in SA.

Oor die land en sy mense:
Dis ‘n baie mooi land, maar erg verwaarloos. Die infrastruktuur is maar swak. Hier is volop hoogs gewapende militêre polisie in die strate. Hulle regeer alles en korrupsie is aan die orde van die dag. Omdat mense karig betaal word en alles so ontsaglik duur is, oorleef meeste mense deur korrupsie. Jy kry niks gedoen as jy iemand nie omkoop nie.

Angola is ryker as SA in olie en diamantneerslae en die eienaars van diamantmyne – baie privaat mense – het ook belange in die Kongo se diamantmyne. Hier is baie Suid-Afkrikaanse mans wat op die oliebore en by die diamant- en kopermyne werk. Groot dele van Angola word nie ontgin nie, want daar is nog derduisende landmyne, oorblyfsels van die oorlog. Mens sien geen tekens van boerdery nie. Vars produkte by die stalletjies langs die pad word ingevoer deur ‘n mark en dan versprei onder mense om te verkoop. Op straat kry jy alles te koop – van telefoonkaarte, tot doeke, skottels, skilderye, matte, radios, CD’s en nog vele meer. Die verkeer is so stadig jy kan rustig uit jou motor alles koop wat jy nodig het!

Gesondheid:
Angola is ‘n malaria-gebied en dis ontstellend hoeveel mense daaraan sterf. Daar is nie geld vir medikasie nie en mense raak baie laks daaroor. Mens moet onder geen omstandighede kraanwater drink nie. Selfs ys moet vermy word hier. Ek gebruik slegs die kraanwater vir wasdoeleindes.

Verblyf, vervoer en vakansie:
Klein motors kos vanaf $50 000 en meer en om ‘n villa in ‘n gemiddelde woonbuurt te huur, kan jou enigiets van $12,000 – $25,000 per maand kos. Angola se kus is ‘n absolute paradys vir hengelaars. As jy in die water staan, kom knibbel die vis aan jou bene. Jy kan letterlik net jou lyn ingooi en ‘n minuut later het jy ‘n vis gevang.

Angola is ‘n land met baie moontlikhede, maar dit gaan jare neem om weer op hul voete te kom. Die rykes hier is superryk en deel nie iets nie. Die armes is ontsaglik arm, daar is nie veel van ‘n middelklas nie.