Violetta Teetor

Violetta Teetor

Reise

’n Pêrel van ’n Plek – Šibenik, Kroasië

Meeste mense het al van Dubrovnik, Pula en miskien selfs van Split gehoor, maar Šibenik (uitgespreek sjebeniek) is minder bekend. Haar liefdesverhouding met hierdie pêrel van ’n plek het reeds in 2013 begin, vertel Violetta Teetor.

Toe het ek die breedte en lengte van Kroasië saam met Dhar Media getoer om videos te maak en blogs te skryf om toerisme te bevorder en die prag van die land te deel. Dis nou 2015 en ek was nou al twee keer terug; die laaste keer het ek besluit om ’n hele maand hier te spandeer.

Die mense hier aan die kus is rustig. Die lewe is gemaklik en ongejaagd en dis die soort ontspanningsfaktor waaroor elke vakansieganger droom. In die ou stad van Šibenik staan die St James-katedraal trots, na bewering die mooiste katedraal in Kroasië. As mens in ag neem dat dit 6 ure per vinnige boot neem om oor die Adriatiese See na Venesië te reis, dan verstaan mens die Italiaanse invloede in die argitektuur. Die elegante roomkleurige klip, klein stegies, gedetailleerde versiering en die vesting op die kruin van die berg gee mens ’n goeie dosis kultuur tussen al jou ander vakansie-aktiwiteite deur.
Besoek gerus die Bono Bar wat vernoem is na dié bekende U2-sanger. Die eienaar is mal oor dié musiek en het hierdie plekkie as ’n republiek verklaar met sy eie vlag. Eksentrieke en minder eksentrieke tipes kuier gereeld in die kroeg en jy vind altyd iemand om mee te gesels. Dis lekker vir iemand soos ek wat alleen reis.

Krka Nasionale Park is 'n sprokieswêreld.

Krka Nasionale Park is ‘n sprokieswêreld.

Wanneer die hitte te erg word, klim ek op ’n bus, betaal die minimale busgeld en ry Skradin toe in 30 minute. Behalwe dat dit ’n pragtige klein dorpie is waar Bill Gates onverhinderd kan rondloop, kan jy van hier per boot na Krka Nasionale Park reis. Hierdie sprokieswêreld van poele, watervalle en ’n klooster-eiland word deur die Kroasies/Australiese gids Steve met ons gedeel. Hy het ’n passie vir “haar”, soos wat hy die park liefdevol noem en hy vertel graag vir besoekers meer oor alles wat daar te siene is. Mens kan swem in die koel, sterk stroom van Skradinski Buk, die valle wat afloop en soos ’n bruid haar sluier uitsprei vir almal om te sien. Het jy geweet die eerste hidro-elektriese kragstasie in Europa (by die Krka waterval) was operasioneel net twee dae nadat Nikola Tesla (ook van Kroasië) in 1895 die Adams kragstasie by Niagara Falls in werking gestel het, dit was die eerste kragstasie in die wêreld.

Die eikebome op Jadrija bied skaduwee.

Die eikebome op Jadrija bied skaduwee.

Eilande is volop rondom Šibenik en veerbote neem mens vinnig na jou bestemming. Dit neem so 15 minute om by Jadrija-skiereiland te kom. Daar is kleurvolle vakansiehuise en betonhutte staan langs die strand. As die stadsjapies gelukkig genoeg is om dit te huur, kan hulle hul besittings daarin los en dit ook gebruik vir ’n middagslapie in die striemende hitte van die dag. Die water is kristalhelder en pragtig turkoois, ’n ware lafenis in die somerhitte.

Šibenik se ou stad

Šibenik se ou stad

Die duik-gogga het my lankal gebyt en ek moes net weer my vaardigheid beproef! Duik nommer 9 vir my begin op die eiland van Krapanj waar die eienaar van Mediterraneo Dive Centre ons toerus. Ná ’n paar duike tussen wrakke in die see waar sigbaarheid ten minste 30 m is en klein kleurvolle vissies en seekatte met jou wegkruipertjie speel, was dit tyd vir ’n bier en middagete by Konoba Kapelica waar die diens, hoe sal ek nou sê, op eiland tyd was. Maar die wag is beloon deur die feesmaal, gort-risotto met seekat en inkvis, vars, rokerig en ongelooflik lekker. Die maal is uitstekend afgerond deur die witwynversnit van Debit, Posip en Marastina (druifsoorte). Die spons museum net oorkant is ’n besoek werd. Dié sponse word uitgeduik in die omliggende waters en word gebruik in die NASA pendeltuig, omdat die sponse nie maklik kan brand nie.

Sponse van Krapanj-eland.

Sponse van Krapanj-eland.

Zirje is die verste eiland in die Kroasiese argipel. Hier doen die inwoners nie moeite met nommerplate op hul motors nie, maar tog werk die internet verrassend goed! Zlarin, bekend vir koraal, is ’n bietjie luukser en prentjiemooi. Prvić Luka is die geboorteplek van Faust Vrancic, die uitvinder van die valskerm en baie ander nuwighede. In die museum op die eiland is daar heelwat interessanthede.

Naby Zirje-eiland

Naby Zirje-eiland

Vir avonture in en rondom Šibenik is dit regtig nie nodig is om ’n motor te huur nie, aangesien Next Bike verseker dat mens maklik binne die stad kan rondbeweeg en die busdiens van dorp tot dorp en selfs na die lughawe by Split werk goed. Die restaurante bedien net die varsste kos, die koffie is warm, sterk en lekker en die diens is hoogs professioneel. ’n Groot pluspunt – die internet werk vinnig en doeltreffend. Die pryse is steeds laag, maar wie weet wat gaan in die toekoms gebeur. Ongelukkig kan mens sulke geheime nie lank bewaar nie.

Violetta Teetor is ’n Suid-Afrikaner wat in Helsinki, Finland woon en elke moontlike oomblik gebruik om te reis. Haar webwerf www.foreignfinn.com is vol inligting en stories oor die plekke wat sy al besoek het.

  • Tjaart Herbst

    Ai, hoe wens ek dat ek dit ook kon sien en beleef. Jou vertellinge maak my voete jeuk ;-)