FOTO verskaf

FOTO verskaf

Reise

Nege jaar per fiets om die wêreld!

Wat nege jaar gelede begin het as ’n “mal” idee, is nou die reis van Leana Niemand se lewe, stoksielalleen op ’n fiets iewers in ’n vreemde land êrens in die wêreld.

3 134 dae (9 jare, 1 maand), 7 vastelande, 73 lande en ’n allemintige 28 942 km. Dís hoe Leana haar reis in syfers opsom op haar blog. Hier kan jy gaan lees waar sy al oral was en oor haar ervarings in al hierdie bestemmings. Jy kan maar net in bewondering kyk na haar asembenemende foto-album en wens jy was daar saam met haar …

Haar reis het haar al geneem na Afrika, die Midde-Ooste, Oos-Europa, Suidoos-Asië, China, Australië, Suid-, Sentraal- én Noord-Amerika. Maar nou het haar avontuur haar gebring van Maleisië tot in Thailand waar sy tans die land kruis en dwars plat ry. Sy besoek tempels, geniet die straatkos en besoek besienswaardighede, sommige aanbeveel deur mense wat haar op Facebook volg.

FOTO: Leana Niemand

FOTO Leana Niemand

Per e-pos vra ek haar of dié leefstyl nog opwindend is ná al die jare. Die antwoord is: “Ja, dis nou net meer as 9 jaar en steeds net so interessant soos aan die begin. Ek dink miskien meer so omdat ek meer by mense bly en meer ‘toer’ as fietsry. Dat ek per fiets toer, is ’n ekstra bonus.”

Hoe oorleef jy finansieel, of werk jy soms om geld te verdien?
Ek werk nie en leef maar suinig van my geld wat ek nog oor het. Dit raak egter nou erg min, veral met die rand wat so swak is.

Wat is die mees onlangse oomblik wat in jou gedagtegang vasgevang is, iets wat jy vir ewig gaan onthou?
Random acts of kindness bly my die meeste by en hoewel die meeste mense vra of dit nie gevaarlik is nie, is dit in werklikheid net die teenoorgestelde. Natuurlik is daar soms ongemaklike situasies, maar bitter min situasies wat regtig gevaarlik is. Jy volg maar jou gut feeling.  

Kom kuier jy darem in SA, of is jy pal op jou fiets oorsee?
Ek was nou onlangs in Suid-Afrika aangesien daar besigheid was wat ek moes afhandel. So elk nou en dan maak ek daar ’n draai om eers weer die motorlisensie en bankkaarte uit te sorteer. My ma is ook al 88 en ek probeer darem om my gesig ’n bietjie daar te wys.

In ’n storie in die Julie 2014-uitgawe van SARIE verduidelik Leana die land waarin sy op ’n bepaalde oomblik is, is gewoonlik haar gunsteling.

“Elke land kom met sy eie geure, kleure, gewoontes, kos en taal. Maar mense bly mense, almal met dieselfde begeertes en behoeftes. Ons verskille is mensgemaak. Sommige plekke moet jy jou hare bedek, ander plekke moet jy jou skoene uittrek en op nog ander moet jy dit weer aantrek. Dit is al hierdie verskille wat lande so interessant maak.”

Haar avontuur in Thailand het begin met ’n fietsrit van 57 km van die grens af tot in Hat Yai. Daar het sy ingeboek by Park-hotel, omdat dit relatief bekostigbaar was teen 350 Thaise baht (minder as $10) vir ’n groot kamer met Wi-Fi en ’n badkamer.

FOTO: Leana Niemand

FOTO Leana Niemand

Die agterpaaie vanuit Hat Yai het haar op diep, landelike roetes geneem waar alle padaanwysings net in Thais was en die kinders boonop bang was vir haar. Die plaaslike mense was verstom, want volgens hulle is dit onmoontlik om per fiets tot in Bangkok te ry.

 

FOTO: Leana Niemand

FOTO Leana Niemand

Een van die vreemdste ervarings was die “lees-boom”, waar ’n gemeenskaplike bril aan ’n tou gehang het – beskikbaar vir enigeen om te gebruik!

FOTO: Leana Niemand

FOTO Leana Niemand

Haar roete het haar verby rubberplantasies, klein dorpies en ’n menigte tempels geneem.

 

FOTO: verskaf

FOTO Leana Niemand

Die weer het ook nie altyd saamgespeel nie en sy moes soms wag dat die reën ophou voordat sy verder kon ry. Dit het gemaak dat sy laataand in Phutthalung aangekom het.

 

FOTO: Leana Niemand

FOTO Leana Niemand

In Thung Song het sy ’n ongewone fees ervaar waar die mense hul wange met metaalspykers deurboor het, gevolg deur dansers en akteurs en natuurlik vuurwerke. Dit was ’n bisarre, kleurryke en lawaaierige geleentheid.

FOTO: Leana Niemand

FOTO Leana Niemand

Sy eet meestal straat- en markkos. “Dis gewoonlik die goedkoopste en die varsste. My leuse is as die plaaslike inwoners dit kan eet en drink, kan ek ook. Maar ek bly versigtig vir iets wat nog kriewel!”

Sy dink nooit oor “eendag as sy klaar is” nie – sy het ook “geen idee” hoe lank sy nog so gaan toer nie. (Voorheen was sy ’n eiendomswaardeerder in Kaapstad.) “Ek het natuurlik al meer as een keer gewonder: Wat het my besiel? Maar elke dag kan ek nie wag om weer op die pad te kom nie!”
Volg Leana op Facebook of lees haar blog

FOTO: verskaf

FOTO verskaf