bmbs
Reise

Bettie-Marie Burger-Smit skryf uit New Ross, Ierland

Hoe lank is jy al in Ierland en wat doen jy daar?
Agt jaar. Ek bestuur ‘n tradisionele maar unieke hotel en spa in New Ross, Wexford.

Waarom het jy gegaan?
Om geld te maak! Maar wat veronderstel was om ‘n korttermyn detour te wees, het in ‘n nuwe tuiste ontwikkel.

Is toerisme ‘n sterk deel van die ekonomie in Ierland?
Dis een van die grootste inheemse bedrywe in Ierland, met die nou al wêreldwyd berugte “Irish Craic” – sinoniem vir ‘n good time. Ongelukkig het niemand die briek aangedraai met ontwikkeling nie. Waar Ierland in 2001 net 39 000 hotelkamers gehad het, is daar nou 69 000 – en dis prysoorlog-klou-aan-wat-jy-het-vat-elke- troue! ‘n Mens moet heeltyd die bedryf uniek probeer maak, maar teen die laagste prys.

Vertel van jou interessante bemarkingsveldtog.
Met die ekonomie soos dit is, moes ek seker maak mense weet waar ons hotel is. Toe stap ek van New Ross na Dublin (so 140 km) in ‘n vlamrooi spandekseenstuk- kostuum met vlam-mantel en kopstuk. Daar staan ek toe op ‘n bierkrat bo-aan Graftonstraat en deel toebroodjies en bottels water uit vir middagete. Ai, die mensdom het darem skepties geraak (“Is it really for free?”). Ons het ook €10 000 se pryse weggegee aan mense wat vir ons ‘n mooi, inspirerende storie oor iemand kon vertel.

Ons hoor altyd van godsdiensverskille wat die politiek daar beïnvloed. Is dit so?
Hoewel die land steeds meestal Katoliek is, is daar beslis ‘n ontnugtering met die kerk ná al die skandes wat oor die afgelope paar dekades uitgekom het. Maar die kerk bly die ruggraat van die gemeenskap en alle streke word in parishes opgedeel. Ons het nie poskodes nie. Hier kan ‘n brief met net jou eerste naam en jou dorp se streek aankom, dan sal dit steeds by jou uitkom. Laat ‘n mens dink aan die ou SA platteland.

En die gasvryheid?
Noudat die hele Europa en hul familie hier bly, is almal meer gewoond aan buitelanders. Maar toe ek hier geland het, was ons nog uniek en was daar nie so baie Suid-Afrikaners buite Dublin nie. As ‘n gebore Graaff-Reinetter en Karoomeisie het ek dadelik in die rigting van die klein dorpies geneig en almal
aanvaar my nou as hul eie. Maar nes in die Karoo sal ek 25 jaar in een dorp kan bly en steeds as ‘n blow-in beskou word!

Ek verstaan jy is ‘n Toastmistress – is dit wat ‘n mens dit noem?
Liewe hemel – ek hoop nie so nie! Ek is uitgenooi na ‘n Toastmasters-klub. Drie jaar later is ek nou net 12 toesprake weg van my “distinguished”-titel, die hoogste sport wat ‘n mens kan bereik. Dis by Toastmasters waar ek regtig aanvaar is vir wie ek is. Die klub waaraan ek behoort, is ‘n eklektiese mengelmoes van karakters, só dat ek geheel en al geïnspireerd bly. Toastmasters het my die krag en selfvertroue gegee om my ambisies agtermekaar te kry. Dit het my gemotiveer om vinnig van kelnerin tot bestuurder te vorder.

Wat is die lekkerste deel van in Ierland wees?
Die vrede.

Is jy nog betrokke by SA?
Ek sou graag wou wees, maar my dae is gevul met die dinge van die dag. My raad is: As jy sou besluit om uit SA te trek, deel dinge in kompartemente op. Moet nooit jou wortels vergeet nie, praat jou taal, maar word deel van die mense om jou. Maak jouself tuis.