leandi
Reise

Nuwe geleenthede in Hongkong vir Leandi Archer

Vir Leandi Archer het haar man se studies in Hongkong ’n hele nuwe wêreld oopgemaak.

Die aanpassing was moeilik, maar daar is baie ander dinge wat opwindend is en wat opmaak vir die dinge wat hulle in Suid-Afrika agtergelaat het. Sy vertel meer oor haar en André se nuwe lewe in Hongkong.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Waarom woon julle daar?
André het ’n fellowship by ’n universiteit hier gekry om sy doktorsgraad in geotegniese ingenieurswese te voltooi.

Was dit ’n moeilike besluit om daarheen te gaan en was dit maklik om werk daar te kry?
Aanvanklik was dit moeilik. Ons het letterlik in ’n kwessie van twee maande getrou, wittebrood gehou, ons lewens opgepak en aan die anderkant van die wêreld kom woon. Ons het geweet dat ons vir ’n tyd oorsee wou woon en ons moes die geleentheid net aangryp. Die besluit is altyd moeilik omdat jy alles wat bekend is agterlaat. Ek gee op die oomblik Engels en dit was redelik maklik om ’n werk te kry, alhoewel mens die regte kwalifikasies moet hê. Jy moet minstens ’n graad van ’n erkende universiteit hê. Om werk te kry in ander vakgebiede (ek werk eintlik in die voedselbedryf, ek ontwikkel en toets resepte en doen kosstilering) is aansienlik moeiliker, omdat ek nie Kantonnees kan praat nie. Dis ’n vereiste vir meeste posisies. Ek hou maar duim vas vir die regte geleentheid. Tot dan leef ek my uit deur outentieke Kantonnese resepte te leer maak.

Wat is die lekkerste van Hongkong?
Eerstens die feit dat die kultuur so hemelsbreed verskil van alles waaraan ek gewoond is. Mens raak gewoond aan jou eie omstandighede en as jy dan skielik met so ’n drastiese verandering gekonfronteer word, verbreed dit jou perspektief ongelooflik. Die ou, tradisionele kultuur van China is wonderlik vermeng met die Westerse aspekte van die Britse invloed dat hier niks skort wat kos, inkopies en vermaak aanbetref nie. Ek is ook mal oor die openbare vervoersisteem. Dis effektief en dis heerlik om nie in die verkeer vas te sit nie. Dit raak egter soms erg beknop en dis iets waaraan ek moes gewoond raak.

Aandtoneel in Hongkong

Aandtoneel in Hongkong

Slegste?
Verseker die beperkte spasie en hoë lewenskoste. Ons woon in ’n woonstel waarvoor ons ’n plaas se geld betaal. Dis werklik baie klein, alhoewel dit as groot beskou word in Hongkongse standaarde. Dan is daar ook die administrasie. Om in Hongkong gevestig te raak, is aanvanklik moeilik. Jy het ’n bewys van permanente verblyf in Hongkong nodig vir enige iets. Daar’s duisende vorms om in te vul wat deur duisende mense gestempel moet word. Alles moet oorspronklik wees – niks word hier per e-pos gedoen nie. Hier bestaan boonop ook nie iets soos ’n EFT nie. Alles word met kontant, per deposito of per tjek betaal. Ek weet nie eers hoe ’n tjekboek werk nie?!

Kry julle tyd om te reis daar?
Ons het nog nie baie tyd gehad om in Hongkong te reis nie. Ons het op ’n vorige besoek al baie van die aantreklikhede gesien soos Ngong Ping 360 (’n kabelkarrit na ’n tradisionele dorpie waar die Tian Tan Boeddhabeeld is) en verskeie museums. Ons maak ’n punt daarvan om te verken waar ons gaan. Ons was ook al ’n paar keer Macau toe wat ’n belewenis op sy eie is. Ons maak ook gereeld planne om ander Asiatiese lande te besoek.

Gunsteling plek daar besoek?
Beslis Ngong Ping. Jy ry met ’n kabelkarretjie al die pad boontoe en word verras deur die groot Boeddhabeeld wat tussen die berge nestel. Dis asemrowend mooi. Die geriewe bevat baie interaktiewe uitstallings wat mens meer leer oor die Chinese kultuur en geskiedenis.

Maklik om vriende te maak daar?
Die mense van Hongkong self is nie altyd baie toeganklik nie, maar ons het reeds baie vriende gemaak met die mense saam met wie ons werk. Ons gaan eet gereeld “Hot pot” saam. Hier is ook ’n redelike groot Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Sal julle terugkom Suid-Afrika toe?
Beslis, al is ons baie gelukkig hier. Ek mis alles van Suid-Afrika: die mense, die kos, om Afrikaans te praat met iemand behalwe my man, en die land oor die algemeen. ’n Mens besef nie wat jy alles het nie, totdat jy in ’n nuwe land is waar als vreemd is.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf