okt05reisartikel1a
Reise

O, die groen, groen gras van SA

Hoekom smag ons altyd na die groen, groen gras aan die ander kant van die draad – as dié by die huis soveel soeter is as enige ander? Gelukkig het ek nie soos Tom Jones net gedroom van die groen, soet gras van Suid-Afrika nie. Ek het teruggekom en geproe, geruik, gesien, gehoor, gevoel en weer beleef.

 

The old home town looks the same, as I step down from the train, and there to meet me is my Mama and Papa. Down the road I look and there runs Mary, hair of gold and lips like cherries. It’s good to touch the green, green grass of home. – Tom Jones

 

Tans knaag ons (ek en die lewensgenoot) aan die soms soet, soms bitter, Britse grashalms. Maar toe breek die vakansie aan en bestyg ons die propvol vliegtuig op Heathrow. Ons vlieg reg suid en ’n bietjie wes, na son en savanna. Behalwe vir die Yank hier langs my, wie se errhhe al ronder word met elke slukkie Suid-Afrikaanse rooi wyn, word elke uur vir my lekkerder  . . . Op Johannesburg Internasionaal druk ek Mama en Papa styf vas. Ek voel hoe hul posture kleiner, hul vel dunner geword het, sien die kraaivoetjies op hul gesigte is dieper geëts. Ma het ons gunsteling-kaasmuffins gebak en ryp, volronde avokado’s (dis my pot lensiesop!) gekoop. Pa het die motor laat versien, van die wiele tot die wind-as, en ’n CD-speler laat insit vir die lang pad wat voorlê. Ons koop biltong en droëwors, klim in die kar, luister na Kobus! en pak ’n reis van 4 000 km deur ons geboorteland aan. (Die wiele suis rustig oor wit lyne op swart.)

Tot in Bloemfontein ken ek elke meter teer. As Kovsie-student het ek dié pad gereeld aangedurf. Maar van daar draai ons suidwes na Reddersburg. Op Smithfield beleef ons ’n tipiese Vrystaatse prentjie deur die kameralens. Huise met vlaktes erf, stofstrate waar kinders speel met tennisballe, plaasbakkies by die gholfbaan, vietse vroue op die tennisbaan. ’n Ossewawiel op ’n vergete monument voor ’n verlate stadsaal. Op Aliwal-Noord het die Charné-skoenwinkel verdwyn. Op Queenstown verkyk ek my aan die enorme verkeersirkel en ons hou stil vir Peppermint Crisp-sjokolade en Grapetiser. Verfris kyk ek rond. Vlamrooi aalwyne pronk teen die steiltes, berge strek so ver die oog kan sien, rooibruin rotse is mildelik gestrooi en akasias flits hul wit dorings. Ons daag donker op in Cintsa-Oos (40 km noord van Oos-Londen) by my Kovsie-kamermaat. In die maanlig kan ons die wit golwe oor die see sien rol. Rooiwyn op die enorme houtdek bring ou herinneringe. Ontbyt is Engels, maar die uitsig is eg Suid-Afrikaans! ’n Grasdakhuis, gebou met klinkerstene, kyk uit oor die lagune, die see bruisend. Om ons is ongerepte heuwels en beboste duine. Ons vriende het ’n stukkie hemel, wat daagliks in geldwaarde styg, en ons besef met ’n amperse skok hoe gesog die gras en grond in Suid-Afrika is.

Die pad roep
In die ou Ciskei verwonder ek my aan al die rugbyvelde. Die pad se toestand verduidelik presies waar die grense van die ou Suid-Afrika en die destydse tuislande gelê het. Tyd is ons vyand (en geld die baas) en ons durf nie afdraai om Grahamstad se geboue en kultuur te bewonder nie. In plek daarvan sien ek koraalbome in skakerings van skok-oranje en lig-perske. Ons kuier by skoonpa in Port Elizabeth. In die inkopiesentrums flits gesogte internasionale handelsname. Ek verloor myself in die klerewinkels. Twee dae later rol die wiele weer. Bestemming: Knysna. Tyd is meer genadig en ons doen aan by Humansdorp en St. Francisbaai. Dis verfrissend om die eg Suid-Afrikaanse boustyl te sien. Spierwit Kaapse gewel-grasdakhuise, elkeen met ’n uitsig oor die see. (Toskaans werk nie vir my nie.) Ons bestel koffie in die hawe en verkyk ons aan die gewerskaf om ons. Vissersbote word geverf en vis ingesout. Ek sien ’n kaalvoetman met ’n lang poniestert en leerbruin gelaat. Die lyne op sy gesig moet wees van lekkerkry, nie stres nie.

 

Ons vriende het ’n stukkie hemel, wat daagliks in geldwaarde styg, en ons besef met ’n amperse skok hoe gesog die gras en grond in Suid-Afrika is.

 

In Nature’s Valley neem ek oestervangers af op die verlate strand en by die strandkafee smul ons aan vars gebraaide calamariburgers, knarsende slaai en handgesnyde aartappelskyfies. Ek drink ’n verfrissende rock-shandy – nog iets waarna ek in die vreemde só verlang het. Op Knysna is die nuwe eiendomme asemrowend. Sparrebosch, Thesen-eiland, Leisure Isle. Pryse is in ses syfers. Hoekom het ons nie al jare gelede gekoop nie? Ons vlug na Buffelsbaai en stap na Brenton-on-Sea en terug. Glo sewe kilometer, maar ons sien minder as sewe mense op die strand. Ek is skoon lus en pluk elke draad klere af!

Ons Castrol-uithouwedren is op sy einde niet, en die petroljoggies se tande flits wit as hulle die fooitjies sien. (In Engeland moet ek self vol maak, in wind en weer.) Die blaaie in die padkaartboek begin al biltongvetkolle wys.

Die skone Kaap
Ná ’n oponthoud op Albertinia kom ons in die Kaap aan. Ons kuier in ’n tuiste in Oranjezicht – van R6 miljoen. Kleingeld as jy vergelyk wat jy vir dié prys in Engeland kry: die berugte weer, eindelose papierwerk, klein baksteentjies, geen berge nie. En bure bo, bure onder, bure langs jou. In Loopstraat se Madame Zingara-restaurant word ons omgepraat en bestel die filet-steak met rissie-en-sjokolade-sous. Sjokoladesous saam met vleis? Ja, ongelooflik lekker! Oorkant die tafel is smelt-in-die-mond spingbokkneukels. In die glase, volronde, verouderde wyn teen dieselfde prys as alledaagse tafelwyn in ’n Britse supermark. En om die hoek wink Langstraat waar jy jouself ‘n dag lank kan verloor in al die boeiende winkels.

Vriendelike, oopgesig gousblomme aan die Weskus.

Die volgende dag in die Waterfront is ons onbesorg, onbekommerd. Hier is ’n nuwe gevoel in die lug. Die Kaapse dokter het ’n atmosfeer van optimisme, vrolikheid en trots in Suid-Afrika gewaai. En ook ’n goeie skoot buitelanders. Internasionale rolprentsterre word gereeld gesien. Kaapstad is nou die nuwe speelplek van die rykes en bekendes. Ons ry stadig na Melkbosstrand en verkyk ons aan die groeiende sakebedrywighede en woonbuurte. Almal het ’n geleentheid om sy plekkie in die son te bou. Vriende bederf ons met ’n vleisbraai en wyn. Teen dié tyd pas ek nie meer in my klere nie. Ons ore hang effe, want elke aand moet ons ’n vars verwelkomingskomitee en drinkspan aandurf. Plate en plate Namakwalandse blomme begroet ons die volgende dag op Langebaan. Die kamera werk hard. Ons hou piekniek op die strand en die growwe, skoon sand skuur die Londense stres uit my lyf. Die tuisbedryf-padstal (iets ongehoords daar oorkant) langs die N7 stel my arme smaakpapille bloot aan eindelose versoekings: turksvy- en druiwekonfyt, ingelegde koejawels, droëvrugte, plaasvars volkoringbrood, kruie en speserye, kaas, vrugtesap, okkerneutkoek en melktert. My hart en lus bly agter in die winkel, want die vliegtuig (en my heupe) kan nie alles dra nie. Ons gaan groet die see by Hermanus, waar die walvisse borrels blaas en met hul vinne wuif. Aandete is vars geregte uit die nette van die see, wyn uit die wingerde van die Hemel-en-Aarde-vallei, kerslig saam met vriende. Die laaste skof van ons uithou-rit neem ons deur die Klein en Groot-Karoo, waar die stilte ons ore verdoof, die pienk sonsondergang ons siele roer en die vars lug ons longe suiwer.

 

My hart en lus bly agter in die winkel, want die vliegtuig (en my heupe) kan nie alles dra nie.

 

Binneland toe
Bloemfontein is nog net so koud soos ek dit onthou. Ek dink aan ’n Britse vriend wat ’n eiendom in die Rosestad gekoop het vir die 360º-horison. Die geel grasvlaktes van die Vrystaat bekoor my, die reuk van ’n veldbrand is verslawend. In Pretoria rus ons, en skoonma se gestoofde skaapnek toets die klere se nate. Ons lees al die nuwe tydskrifte en kyk TV. Ons skater vir die Gautengelengers en verkneukel ons aan die vindingryke advertensies. Van die Capetonians en Jo’burgers wat nou so baie kan vlieg tussen die twee stede . . . Johannesburgse seuntjies bou sandkastele met doringdraadmure en Kapenaars is op so ’n cruise dat hulle nie kan besluit watter kleur plastieksak om te koop by die haastige padsmouse nie. Ek is gek na ’n brandewynadvertensie wat verwys na “absoluut polisiekoffie”. As ’n laaste groot bederf kom kuier my ander Mama, Paulina Moqebelo Mokwena, nou afgetree in Qwaqwa, by my. Ons smul aan mieliepap in die lenteson terwyl sy vertel van haar five-room huis, die groentetuin, haar kinders en kleinkinders.

O, die soet, groen gras by die huis is manna op aarde. Dis die oase waar ek voed aan my herkoms om my toekoms te verseker.