tromp
Reise

Linda en Philip Tromp uit Oberägeri, Switserland

Waar woon julle?
Ek en my man, Philip, woon al sedert April 2007 in Oberägeri in die Zug-kanton in Switserland. Wat ‘n wonderlike plek! Orde, veiligheid, respek vir mekaar, geduld, vriendelikheid en hulpvaardigheid is alles deel van die land. Dis hoe elke land behoort te wees.

Hoe lewe die mense daar?
Negeuur in die aand loop ons langs die meer af en elke persoon (kind of grootmens) groet as hulle verbykom. Oral is daar drawwers, stappers, fietsryers, rolskaatsers. Gewoonlik het die fietsryers ‘n karretjie wat aan die fiets vasgemaak is, waarin kinders met helms vasgegespe sit. Of dit reën en of dit sneeu, almal is doenig en besig. Hulle is baie gesondheidsbewus. Elke naweek is die berge vol stappers tussen van 8 maande tot 80 jaar. Ek het al ‘n fietsryer gesien wat bergop gery het.

Wat doen julle vir ontspanning?
Die hele Switserland probeer om elke naweek iets te reël. Byvoorbeeld, hierdie naweek is daar ‘n landloop om die meer (hulle verwag 1 500 mense) en Vrydagaand gaan daar ‘n waterorrel met ligte wees, musiek en stalletjies met kos, en natuurlik bier. Almal van heinde en ver is daar.
Ons gaan Vrydagaand op die stoep ‘n vleisie braai en dan na die vertoning op die meer kyk. Hier is selfs ‘n paar slaghuise wat egte boerewors (resep kom uit Suid-Afrika) maak. Gelukkig is Switserland so klein dat ons gou vinnig na die dorpie kan ry waar die slaghuis is, seker so 20 kilometer ver.

Is dit maklik om daar rond te reis?
Dis nog ‘n voordeel van Switserland – alles is naby genoeg om dit naweek vir naweek te besoek. Ons maak ‘n gewoonte daarvan om elke naweek iets interessants te gaan besoek. So het ons vir Lauterbrunnen ontdek. Dis die mooiste klein dorpie, wat tussen twee baie hoë berge in die ‘sloepie’ lê. Dit is altyd asemrowend om soontoe te gaan. Elke keer as ons besoekers uit Suid-Afrika kry, gaan wys ons hulle die dorpie.

Die verkeersafdeling hier het ‘n ‘zero tolerance’-beleid. In die dorpies moet jy 50 k/h ry, net buite is dit 60 en dan 80 in die buitwyke. Jy is genoodsaak om die hele tyd die padtekens dop te hou om seker te maak jy ry nie te vinnig nie. Wat spoedoortredings betref, is hier geen genade nie. Ons moes eendag by die lughawe in Zürich kom om ‘n vlug te haal en is vertraag deur ‘n verkeersknoop. Ons het bietjie aangestoot om betyds by die lughawe te wees. Twee weke later het ons ‘n koevertjie in die pos gekry – ‘n boete van oor die R6 000 omdat ons 73 k/h gery het! Daar was nie ‘n kans vir vertoë rig nie en as ons 75 k/h oorskry het, was dit hof toe. . . ons moes maar net betaal. Hulle het ook ‘n reël dat mense wat die spoedgrens drasties oorskry, volgens hul bruto inkomste beboet word en hul rybewyse word vir ‘n tyd weggeneem.

En die weer?
Die weer, waaroor alle Suid-Afrikaners jou waarsku, is in die somer ongelooflik lekker. Hierdie somer was dit bietjie warmer, maar ons gaan swem dikwels in die meer, ons stap soveel ons kan, kuier buite tot laataand en geniet net die atmosfeer van die land. Die winter is koud, maar die Switsers is mal oor die sneeu en die hele gesin neem deel aan die sneeu-pret. Ons het al probeer ski, maar voel in hierdie stadium dat dit veiliger is om te kyk met ‘n beker warm sjokolade in die hand!

Ons geniet dit nog hier en sal dit geniet tot ons weer eendag teruggaan Suid Afrika toe . . .vir my is dit soos ‘n laaaang vakansie!

  • Nico Tromp

    Ek moet met Linda en Philip saam stem… nie net omdat ek hulle seun is, en al ‘n paar keer daar gaan kuier het nie, maar omdat dit ‘n wonderlike land is. As ek ooit SA sou wou verlaat, dan is Switzerland die plek waarheen ek sal wil gaan. Maar op hierdie stadium kan ek maar net gaan kuier, wat seker ‘n goeie ding is want die enigste nadeel van die land, is die pryse… Vir ‘n Suid-Afrikaanse salaris, is dit bietjie duur.

  • bknisuabdvi

    zZUDtk uplqfunodkmh, [url=http://cjtxlfflwxkb.com/]cjtxlfflwxkb[/url], [link=http://wgxwxmucselu.com/]wgxwxmucselu[/link], http://sypinveajtph.com/

  • Rene

    Watter geleenthede is daar – aupair – onderwys. Ek sal ook graag wil kom
    Stuur asseblief meer inligting