Die Kromhoutgesin.

Die Kromhoutgesin.

Reise

Ons avontuur in Visakhapatnam

Indië was vir Cassie Kromhout en sy gesin aanvanklik ’n kultuurskok, maar nou is hulle baie tuis in dié kleurryke land. Hulle reis graag en het in Visakhapatnam aan die ooskus gaan kuier.

Lees ook meer oor die Kromhouts se lewe in Indië in die Oktober-uitgawe van SARIE.

Cassie vertel van hul reiservaring in Visakhapatnam.

Ons het in Visakhapatnam teen die Baai van Bengale gaan kuier. Toe die vliegtuig se skroewe begin draai, het ons geweet daar wag ’n nuwe soort avontuur op ons.
Wanneer jy van die vliegtuig afklim in Visakhapatnam (ook genoem Vizag) oorval ’n dik, warm klammigheid jou wat jou klere dadelik aan jou lyf laat vaskleef en jou ’n taai welkom-klap in die gesig gee.

Hierdie was een van die eerste hawens van Indië en die Hollanders het reeds in 1628 hier geland. In die klein nedersetting van Bheemunipatnam, 24 km noord van die stad, is die groot graftombes van die Hollanders, asook ou grafte van heelwat Engelse en Indiërs te sien. Bheemunipatnam (verkort na Bheemili) spog met een van die eerste vuurtorings (1868) en die tweede oudste munisipaliteit (1861) in Indië. Volgens legende het die Pandavas hier gebly (lank voor die Hollanders) en was hulle gereeld gepla deur ’n demoon met die naam Bakasura. Hulle moes hom elke dag hope kos, en ’n mens gee om sy honger in toom te hou. Een van die Pandava-broers het hom doodgemaak en so die nedersetting van sy toorn gered.

Die Hollandse begraafplaas.

Die Hollandse begraafplaas.

Vrydag, terwyl ek gewerk het, het my vrou en kinders gaan swem by Rushikondastrand. Die ooskus van Indië is baie meer konserwatief as die weskus en Indiese vrouens swem nie sommer daar nie. Wanneer hulle swem moet hulle ten volle bedek wees. ’n Amerikaanse Indiërvriendin van ons het vertel dat wanneer sy daar gaan swem, sy haar baaikostuum aantrek en haar dan in ’n doek toedraai. Wanneer sy in die water is, haal sy die doek af en stuur dit met die kinders uit strand toe. My gesinnetjie was heel onbewus hiervan en het soos seer duime uitgestaan in die branders.

Uitsig vanuit kabelkar.

Uitsig vanuit kabelkar.

Ons het die aand na die Kailasagiriheuwel gegaan en met die kabelspoor opgery tot bo. Toe ons afkom in die donker het ons weer die teken gesien wat gesê het “DENGER” en besef dis nie verniet hier opgesit nie! Van die heuwel af het jy ’n mooi uitsig oor die stad en die see. Die heuwel is vernoem na Kailasa, die blyplek van Lord Shiva en Parvathi. ’n Reuse standbeeld van die twee staan bo-op die heuwel. Daar’s ook ’n speelplek vir kinders, ponieritte, uitkykpunte, eetplekke en winkeltjies.

Standbeeld van Lord Shiva en Parvathi.

Standbeeld van Lord Shiva en Parvathi.

Ons het gou agter gekom ons was die grootste toeriste-attraksie daardie aand op die heuwel! Mense het na ons toe gekom, vir ons gevra waar ons vandaan kom en wou foto’s van ons of saam met hulle neem.

"One more please, one more."

“One more please, one more.”

Saterdag was dit Bheemili se beurt. Die beskrywings op die internet klink baie romanties, maar as jy deur die slaggate van dié nedersetting se straat ry om by die strand te kom, wonder jy wat daardie web-skrywers se brilglase so rooskleurig gemaak het. Maar al is dit nie prentjiemooi nie is dit steeds interessant. Op die strand het ons twee seuntjies ontmoet wat klein vissies in half-jack whiskybottels probeer verkoop teen twintig rupees (R4) per bottel.

Visverkopertjies op Bheemili se strand.

Visverkopertjies op Bheemili se strand.

Ons wou graag na die begraafplaas gaan kyk waar die ou Hollanders begrawe is om te kyk of ons enige van die vanne erken. Die grafte is groot, gepleisterde konstruksies waarvan party selfs ’n “skedel en beendere”-teken op het soos op die seerowervlae. Ek het die name Roelofsz, Visscher en ander herken.

My noodhulpspan.

My noodhulpspan.

Bheemili het ook sy merk op my gelos – letterlik. Ons was deur ’n selfaangestelde hekwag aangeraai om oor die ysterhek van die begraafplaas te klim om in te kom. Dié het skerp geroeste penne bo-op gehad en een van die penne het ’n keep in my voet gesny. Srinivas, ons drywer, was dadelik byderhand met die taxi-diens se noodhulpkissie. Ook by was die man wat ons aangeraai het om oor te klim asook ’n klompie ander belangstellendes. Die visverkopertjie het lekker gestaan en kyk na my mediese sorg terwyl hy aan ’n gebraaide mielie gesmul het. Die skedel en beendere het deur my gedagtes geflits en ek het begin wonder hoe ek met een houtbeen gaan lyk.

Saterdagmiddag is ons strate toe vir een van die ander lekker ervarings in Indië – inkopies! Een van die interessante plekke op Vizag se hoofstrand is die Kursura duikbootmuseum. Die 91 m lange Kursura is ’n Russiese duikboot wat diens gedoen het van 1969 tot 2001 en daarna uit die see gesleep is en op die strand staangemaak is. Die kaartjies kos Rs30 per volwassene, Rs15 per kind en Rs20 per kamera! Vloot veterane neem groepe deur die duikboot en, soos op baie plekke in Indië, is daar plastiekstoele waarop mens moet wag voor jy kan ingaan, maar niemand weet hoe die ry werk nie.

Kursura duikbootmuseum.

Kursura duikbootmuseum.

Ons laaste rit voordat ons Sondag moes terugvlieg, was na Yaradastrand suid van die stad. Op pad daarheen ry ons deur die industriële gebied en verby die Vloot wat ’n baie groot teenwoordigheid in Vizag het. Dié effens afgeleë strand is pragtig met palmbome en ’n rustige baai.

Lewensredders op Yaradastrand.

Lewensredders op Yaradastrand.

Die werklikheid is dat baie mooi plekke hier ook dikwels redelik vuil en swak onderhou is, maar soos met die meeste goed in Indië moet jy nie vaskyk teen wat jy op die oppervlak sien nie. Soos Rafiki in Lion King gesê het: “look beyond what you see”. Ons het Indië toe gekom wetend dat dit nie gaan lyk soos die Kaap nie. Ons het besluit om verder te kyk as wat ons kan sien. Wat opvallend was van Visikhapatnam was die opregte belangstelling, vriendelikheid en nederigheid van die mense. Al het ons oor die kabelspoor getwyfel, het ons nog nie een keer onveilig gevoel hier nie en in Vizag het die mense een van Indië se bekende gesegdes gestand gedoen: “Treat guests as gods”.

Yaradastrand

Yaradastrand