Miles uit die lug.

Miles uit die lug.

Reise

Ons lewe in die Outback van Australië

Die Delport-gesin bly in die Outback van Queensland in die nie-meer-so-rustige klein dorpie, Miles.

Hulle het ses jaar gelede die groot skuif na Australië gemaak. Angelique en Klaas woon saam met hulle drie kinders, Liqa (21), Will (matriekleerling) en Marè (Gr.9) in die middel van die “Coal Seam Gas”-ontwikkeling in Queensland. Dit was ’n groot aanpassing en hulle mis familie wat steeds in SA woon geweldig. Maar hulle glo die Here het hulle daar geplaas, sodat hulle sendingwerk daar kan doen. Angelique vertel hulle het sowat ’n jaar gelede ’n kerk begin. Hulle werk voltyds deur die week en naweke “kerk” hulle. Sy sê dis harde werk, want die Aussies sien geen nut daarin om ’n Sondag op te offer om kerk toe te gaan nie. “Maar ons het bitterlik lief geraak vir die Aussies – wat soms vrygewiger, onselfsugtiger is en meer omgee as baie Christene.”

Die Delport-gesin.

Die Delport-gesin.

Lees ook in die Junie uitgawe van SARIE meer oor die Delports se lewe in Australië.

Waarmee het julle aanvanklik die meeste gesukkel daar?
Aan die begin was ons aksent bietjie “dik” vir party van die Aussies, maar dis nou nie meer so groot probleem nie. Ons het die heel meeste gesukkel met die Aussie lingo, wat so ongelooflik verskillend is van die Engels waaraan ons blootgestel word in SA. Hulle het ook unieke gewoontes soos om jou te vra “bring a tray” of “bring a plate”. Ons was net ’n week hier, toe kom my sewejarige dogtertjie terug van die skool af en sê die juffrou het gesê dat ek die volgende dag ’n “tray” moet saamstuur skool toe. Toe ek vra waarvoor die “tray” is, het sy gereken dis vir al die kunswerke wat hulle daardie week onder leiding van ’n plaaslike kunstenaar en beeldhouer gemaak het. Die volgende oggend is ek na die plaasskooltjie toe gewapen met ’n skinkbord. Ons was gelukkig bietjie vroeg en al mens wat ek toe by die skool vind, was die skoonmaker. Ek vra haar toe wat beteken “to bring a tray”, waarop sy my toe vra wat bo-op die tray is. Natuurlik was daar niks op nie. Sy het begin giggel en gesê dit sal veel beter wees dat ek dit in die kar los. Wanneer hulle jou vra om ’n tray te bring, beteken dit jy moet ’n bordjie soet- of soutgoed bring vir die teetafel! Gesegdes soos hit the frog and toad (ek moet nou gaan na ’n kuier) of this is how we roll (dis hoe ons dinge doen); cheap as chips (goedkoop); he went walkabout (weet nie waar hy is nie) is baie oulik. Maar toe ons net hierheen gekom het, het ons nie geweet wat hulle bedoel nie.

Wat is die lekkerste van daar wees?
Beslis die veiligheidsaspek van die lewe hier. Die kinders kan skool toe loop. Selfs in die aande is dit heel veilig vir hulle om na vriende toe te loop. Kinders kan van ouderdom 13 af begin om deeltyds te werk. In die dorp kry jy kinders wat smiddae na skool tot toemaaktyd by die kruidenierswinkel, die haarsalon, die wegneemete-plek of die apteek werk. Daar’s spesifieke fooie wat kinders van verskillende ouderdomme mag betaal word, soos vasgestel deur die regering. Kinders betaal nog nie belasting nie. Dit gee kinders ’n sin vir verantwoordelikheid en sakgeld vir allerhande dinge.

Een van die historiese strate in die museumdorp van Miles.

Een van die historiese strate in die museumdorp van Miles.

Het julle nog bande met Suid-Afrika en sal julle ooit terugkom?
Ons hele familie bly nog in SA. In die huis praat ons steeds Afrikaans. Liqa en Will het in SA leer lees en skryf, maar die jongste, Maré kan nie regtig Afrikaans lees en skryf nie. Ek geniet steeds die Suid-Afrikaanse humor en daar is maar net een taal waarin jy jouself emosioneel en baie akkuraat kan uitdruk en dis in Afrikaans. Ek twyfel egter of ons ooit weer sal teruggaan. Die Here het ons hierheen gestuur en soos met baie ander sendelinge regoor die wêreld, neem dit gewoonlik ’n klompie jare voor die deurbraak plaasvind.

By my kunswerk wat 'n prys gewen het.

By my kunswerk wat ‘n prys gewen het.