Die Collinggesin

Reise

Ons lewe in Djakarta, Indonesië

Al verlang Jeanne Colling elke dag na Suid-Afrika se mooi sonsondergang en vars lug, voel sy steeds dankbaar en bevoorreg oor die lewe in Djakarta.

Die Collings woon al vier jaar in Djakarta, die hoofstad van Indonesië. Die stad is geleë aan die noordwestelike kus van die eiland, Java. Jeanne is voltyds ma vir Joshua (8), Jordan (5) en Juliana (2) en deeltydse musiekonderwyseres. Justin, haar man, is ’n siviele ingenieur en is verantwoordelik vir projekte in Indonesië en Mongolië, insluitende verskillende soorte myne, paaie, damme, groot geboue en treinspore. Sy vertel meer.

'n Uitsig oor Jaarta in die nag.

‘n Uitsig oor Djakarta in die nag.

Hoe is die klimaat daar?
Dj
akarta lê net suid van die ewenaar en dis baie warm. Gedurende Januarie en Februarie spoel ons weg en is vloede ’n groot probleem. Dit verwoes en ontwrig elke jaar duisende mense se lewens, maar dit draai ook ons verkeer gedurende hierdie maande op sy kop! Die koelste tyd van die dag is tussen vieruur en sesuur soggens. Dan is baie mense al besig om te oefen of werk toe te pendel om die verkeer vry te spring. Die son skyn dan nog nie heeltemal vol nie, en dis relatief lugbesoedeling-vry en stil. As die son eers op is, bleik dit die kleur uit alles en dreineer jou van alle energie. Dit laat jou in ’n nat sweet rondloop en dis onuithoudbaar WARM! Geboue en huise het lugversorging en ons kruip binne weg om te ontsnap van die hitte.

Wat is vir jou interessant oor Jakarta?
Djakarta tref die meeste mense wat hier kom woon soos ’n warrelwind. In dié stad is enigiets moontlik, en as dit nie is nie, dan maak hulle ’n plan. Die kreatiewe nasie is vindingrykheid. Oral is draagbare kosstalletjies waar jy plaaslike geregte kan eet. Hulle spandeer die dag om mense rond te ry op hulle ‘ojek’ (motorfiets) of bajaj (tipiese toek-toek karretjies). Hulle werk in die hordes spa’s wat om elke hoek en draai is, of loop in die straat en verkoop iets: kos, individuele sigarette, meubels, kombuisware of skilderye. Of hulle bied ’n diens aan: messe skerpmaak, hare sny, herlaai van aanstekers, verkoop van plante langs die pad, regmaak van skoene, motorfietse of bande.
As dit vir jou ongerieflik is om na ’n plek te ry vir iets, dan kom hulle na jou toe! Die meubelmaker kom sien my tuis en neem prentjies saam van alles wat ek gemaak wil hê. Iemand kom bad en skeer die hond elke week. Die swembad-man kom drie maal ’n week. Ons huur kokke vir ons partytjies en mense wat met kinderpartytjies alles kom doen. Ons kies net die tema en hulle kom versier die huis, vermaak die kinders, bring die koek en hanteer alles.
Die huise is oordadig groot en laat my soms dink aan die Von Trapp-familie van The Sound of Music. Marmer vloere, hoë plafonne, ses tot agt slaapkamers, ons moet mekaar met ’n interkom roep. Dis ongehoord om minder as twee bediendes te hê, ’n dagwag wat die tuin versorg, sowel as ’n nagwag . . . wat sit en TV kyk en slaap in die waghuisie!
Ons vullis word verwyder deur iemand wat ’n karretjie rondsleep van huis na huis. Alhoewel hier vulstasies is, is dit glad nie vreemd om op ’n straathoek brandstof in bottels te koop te sien nie. Die stad slaap nooit nie. Winkels maak eers tienuur soggens oop en sluit weer tienuur saans. As jy na tien saans honger is, loop jy by jou hek uit en daar staan altyd iemand gereed met een of ander tipe kos wat hulle aan jou probeer verkoop!

'n Tipiese kosstalletjie.

‘n Tipiese kosstalletjie.

Hier bly ryk en arm deurmekaar en daar is nie klasseverskil in die woonbuurte nie. Mense gebruik motorfietse om enigiets te vervoer, van skape, hoenders, eiers, kruideniersware en matrasse tot plante. Dis ook ’n standaard familievoertuig en dis glad nie ongewoon om vyf mense op ’n motorfiets te pas nie, met net die drywer wat ’n helm dra. Ma’s hou baba’s vas in ’n drasak, terwyl sy met die ander hand aan die drywer vashou, en dan staan daar nog ‘n kleuter voor die bestuurder. En niemand knip ’n oog nie!
Die mense is baie vriendelik en saggeaard, al sê hulle wat hulle voel en dink, of dit taktvol is of nie. Hulle het ’n baie goeie sin vir humor en sien maklik die snaakse sy van ’n situasie. Almal in Djakarta het drywers wat die bestuurwerk, verkeer en chaos op die paaie namens jou hanteer. Dit was aan die begin lekker om net te kan terugsit en op ’n plek aan te kom, maar ons mis die vryheid, onafhanklikheid en privaatheid om in ’n kar te kan klim en self te ry waar jy wil.
Almal hier is geweldig bygelowig. Wanneer hulle siek word, glo hulle maklik dis ’n vloek, ’n straf vir iets wat hulle gedoen het. Daarom gaan hulle dikwels eerste na ’n tradisionele dokter, want hulle wil weet waarom hulle siek is en wat hulle siekte beteken. Hier kan jy selfs jou kar laat regmaak deur die hulp van die geeste.
Ons moes vinnig gewoond raak aan ‘jam karet’ of direk vertaal, rubber tyd. Hier gebeur alles teen sy eie tempo, mense is nie haastig nie en dis baie handig om ‘kesabaran’ (geduld) aan te leer.

Hier staan ek by 'n toek-toek.

Hier staan ek by ‘n toek-toek.

Hoe ontspan julle daar? Reis julle?
Ons probeer gereeld uit Djakarta padgee, want met sy min spasie en baie mense voel dit maklik of jy versmoor en al hoe vlakker begin asemhaal. Daar is ongeveer 17 000 eilande van verskillende groottes in Indonesië, dus is die keuse legio. Ons reis gereeld na ons gunstelinge, Bali en Lombok, en selfs verder na pragtige Hongkong, Maleisië en Singapoer. Verder kuier ons gereeld met vriende en probeer oor naweke die kinders uitneem om dinge in en om Jakarta te doen. Justin is ’n ernstige bergfietsryer en is daagliks dou voor dag uit om bietjie vars lug en oefening in te kry. Ek speel graag tennis saam met vriende en as daar ’n ekstra tydjie in ons dolle dae is, skilder ek graag.