FOTO verskaf

FOTO verskaf

Reise

Ons lewe lekker in ons goue jare in Silver Spring in die VSA!

Die Breslers het in die winter van hul lewe sonnige Suid-Afrika verruil vir die VSA om nader aan hul kinders te wees. Elma vertel in haar brief meer oor hul lewe in Silver Spring, Maryland.

Liewe SARIE,

Van uitstel kom afstel, en ek het net besluit nou of nooit.

Ons twee, Johnnie en Elma Bresler het op 3 Maart 2011 na die VSA verhuis.
My man het op 83-jarige ouderdom afgetree, ek was 79 jaar. Ons twee dogters en hul gesinne woon en werk in die VSA en daarom het ons die groot besluit geneem om by hulle aan te sluit. Ons oudste dogter, Mariechen, het in 1982 gekom om in die Suid-Afrikaanse Ambassade te werk, en toe aangebly. Ons jongste dogter, Esme, haar man, Les en ons enigste kleinkind, Harry,  het in 1995 gekom toe Harry net 8 maande oud was. Ons wou graag nader aan ons kinders wees.
Ons woon in Silver Spring, Maryland. Mariechen is in Rockville, net so 25 minute van ons af. Die deel waar ons bly, val onder die Metropolitaanse gebied van Washington DC. Les en Esme woon in Columbus, Georgia, en dis 14 uur se ry daarheen.  Harry is nou al 21 jaar oud en studeer aan die universiteit in Atlanta.

Homecrest House in die sneeu.

Ons bly hier in die aftree-oord, Homecrest House, en dit is soos die gesegde sê, “never a dull moment”. My eerste indruk was dat dit seker is soos die Verenigde Nasies. Hier woon altesaam 280  mense van ongeveer 35 nasies. Dis so waar dat jy nooit te oud word om te leer nie, en sien dat die verskil van mense nie die kleur van hul vel is nie, maar hul KULTUUR.  Ons was in April reeds 4 jaar hier en is baie gelukkig. Ek werk ook as vrywilliger by die ontvangstoonbank. Vir my ’n groot plesier, want daar leer ek  werklik die verskillende mense ken. Ek is ’n ywerige breier en het so op my oudag geleer om te hekel, glo my dit hou my besig.

Die Bresler-familie.

Ek was so trots op my man wat so gou moontlik sy lisensie gekry het en dit vir ons so maklik maak om oral met ons Toyota RAV te gaan.  Ons het die lang pad na Georgia reeds 5 keer aangedurf.  Ons het vriende in Noord-Carolina en familie in Suid-Carolina, en het dan so kuier-kuier gery.  Ons probeer elke keer verskillende paaie neem, en so sien ons baie van die land. Die Amerikaners kan nie glo dat ons eerder ry en nie vlieg nie, soos die meeste van hulle doen.

 

Pragtige kersiebloeisels.

Ons is ook gelukkig dat ons al heelwat state van hierdie groot land besoek het. Die kinders het ons ook rondgeneem met ons besoeke aan hulle. Aan die einde van 2013 het ons hele familie hier (drie Breslers en drie Corbetts) en vier  kuiergaste van SA per bus na New York gereis en het vier dae tussen Kersfees en Nuwejaar daar deurgebring. Wat ’n ondervinding was dit nie om al die besienswaardighede gedurende dié besige tyd te besoek nie. Die wagtyd om by die Empire State-gebou op te gaan, was 3 ure en dit het ons maar laat verbygaan.

Plekke in Noord-Amerika wat ons beïndruk het, is Vancouver en Victoria-eiland, Niagara Falls, Boston in herfstyd waar die blare se kleure so mooi was, San Diego, Seattle, San Francisco en die Crystal Cathedral naby Los Angeles. Ons was ook in New Orleans, Las Vegas, Birmingham en Atlanta. In Nashville,Tennessee, het ons die Grand Ole Opry besoek en in Florida was ons in Orlando, Miami en Cape Canaveral. Een van die skoonste strande met die mooiste wit sand wat ek al gesien het, is Panama City Beach. Ons het ook in l993 die eiland Ohau in Hawaii besoek. Die twee bootreise na Mexico en die Bahamas was ’n fees, die perfekte vakansie vir ouer mense.

 

Pragtige herfskleure by die Viëtnam oorloggedenkteken.

Ons probeer elke jaar om ’n nuwe plek te besoek. Ons laaste besoek in Maart was aan die ou historiese stad, Savannah. Dis wonderlik om te sien hoe die mense hier ou geboue bewaar en hul geskiedenis lewendig hou. Ons beplan ook nog ’n bootreis na Alaska, maar op hierdie ouderdom leef mens van dag tot dag. En met baie GENADE is ons nog gesond.

My groot bekoring hier in die VSA is die BOME, seker omdat daar so baie is en met elke seisoen sien jy die verandering  … Soos nou met die pragtige nuwe groenblare nadat die bome vir maande kaal gestaan het. Al die bloeisels, asook die affodille en tulpe in al die kleure kondig lente aan. In die warm somer is die blare so dig en verskaf koelte en lafenis teen die hitte. Kom herfs, is die pragtige herfskleure oral te sien. Ek kon nog nie besluit watter van lente of herfs die mooiste is nie. En dan, die winter met die asemrowende wit sneeu en die groot ou bome sonder ’n enkele blaar.

Bome met herfskleure.

Ons is ou Pretorianers, maar het die laaste 43 jaar in Klerksdorp gewoon. Ons moes oral afskeid neem van baie goeie vriende en familie. Ons het Suid-Afrika al twee keer besoek, maar weet nie of ons weer die lang vlug sal doen nie?

Ons kry nou en dan besoekers van Suid-Afrika, en ons bestelling is altyd: “Asseblief, voordat  julle vlieg, kry die nuwe SARIE op die lughawe”, want teen dan het ek al die SARIES  hier in my woonstel soveel keer gelees dat ek ’n onderskeiding sou kry as ek eksamen daaroor moes skryf.

Liefdetjies.

Elma  Bresler
(Wel, LIEFDETJIES is die woord waarmee ek al my briewe afsluit aan vriende en familie,  en ná meer as amper 70 jaar is SARIE seker familie!)