Reise

Ons maak ons ‘onthou-boksies’ vol in Engeland

Die Kostergesin van Pretoria het hulle tuisgemaak in Engeland in die klein dorpie Southam. Hulle moes vinnig aanpas en leer om soos die Britte te dink oor die weer daar! Hulle sien die tyd daar as ’n geleentheid om hul ‘onthou-boksies’ vol te maak.

Magda vertel hul storie.

Februarie verlede jaar (2015), het ’n geleentheid oor ons pad gekom waaroor ons nooit eers gedroom het nie. Ek werk vir Jaguar Land Rover en ek is gevra om vir drie jaar in Engeland te gaan werk. Ons is van Centurion in Pretoria.

Ons het sowat ’n week gehad om te besluit … Vir iemand wat grootgeword het met dieselfde tuisdorp, dieselfde skool en vakansies wat gewissel het tussen die Wildtuin en die see, was hierdie ’n groot besluit. Alles het mooi uitgewerk. In April het ons kom huis soek en einde Junie het ons sak en pak getrek. Die dag toe die laaste goed gepak is, het my keel toegetrek, en skielik het die onbekende soos ’n toe boek voor ons gelê.

Manlief Johan het onbetaalde verlof by sy werk gekry en ons twee seuns, Hannes (toe 12) en Wihan (toe 9), was baie opgewonde oor die nuwe omgewing. Vir ’n maand het ons met gehuurde meubels in ons nuwe huis gebly, die skeepshouer het omtrent 5 weke gevat om aan te kom. Groot was die opgewondenheid om weer ons eie goed om ons te hê.
Johan is steeds op onbetaalde verlof, maar hy raak VREESLIK oulik aan hierdie kant. Hy bak vir ons beskuit (want die enigste ‘rusks’ wat die Engelse ken, is die wat babatjies suig vir hulle tande). Hy maak vir ons biltong, HEERLIK! Darem kry ons goeie Suid-Afrikaanse boerewors aan hierdie kant by ’n slaghuis in Leamington Spa, nou wel teen £8.90 per kilo, maar klink my die vleispryse in SA is deesdae net so duur.

Die kinders moes skoolgaan in Engels, speel in Engels, en selfs met mekaar Engels praat as daar nuwe maatjies in die omtrek is. Dit klink maklik, maar was ’n groot aanpassing vir die tweetjies, wat hulle met oorgawe aangegryp het. Hannes is in graad 6 daar weg en moes hier inspring in jaar 8 (dis die tweede jaar van hoërskool). So die arme outjie gaan die laaste jaar van laerskool en eerste jaar van hoërskool nooit sien nie. Die kinders het baie vinnig aangepas in die skool.

 

Die manne is trots om hul “blazers” te dra. Die skool begin 08h30 soggens en hou aan tot 16h00 in die middae. ’n Lang dag, maar snaaks genoeg hulle kla nooit. FOTO: verskaf

Die manne is trots om hul “blazers” te dra. Die skool begin 08h30 soggens en hou aan tot 16h00 in die middae. ’n Lang dag, maar snaaks genoeg hulle kla nooit. FOTO: verskaf

Een ding wat ons baie gou besluit het, was om van elke dag die heel meeste te maak. Ons moet so veel as moontlik dinge sien en ervaar om dit alles die moeite werd te maak.

Ons woon in ’n klein dorpie, Southam, sowat 8 myl buite Leamington Spa. Dis om en by 90 myl van London af. So uur per trein, die vinnige een!

Die Britte is maar anders as ons Suid- Afrikaners. Ons is vroeg gewaarsku dat Suid-Afrikaners baie meer ‘direk’ is as hulle. Ook dat ons ons moet voorberei om vir drie jaar op ’n plek te bly en dalk nie eers ons bure te ken nie. Maar ons was baie gelukkig. Ons het wonderlike bure aan alle kante en het selfs begin met Safari-ete’s. Elkeen is verantwoordelik vir ’n ander gereg. Dan kuier ons by een se huis en die volgende keer ruil ons om. Hulle is skielik blootgestel aan ons eg-Suid-Afrikaanse geregte en boerewors, biltong, pannekoek en vetkoek het skielik groot gunstelinge by die Britte geword. Selfs pap en sous, is iets wat hulle nie ken nie.

Ongelukkig moet ons nog Schengen visas kry as ons Europa toe wil gaan. Dis gewoonlik nie langer as 3 maande geldig nie, so ons probeer so veel as moontlik besoeke inkry in daardie tydperk.

Ons het ook baie vinnig geleer om soos die Britte te dink.  Vroeg-vroeg het my buurvrou gereken dat daar nie so iets soos slegte weer is nie … net bad wardrobe.  Niks stop as dit reën nie. Die seuns moes oorskakel van rugby na sokker. Hulle oefen in sonskyn (waarvan daar maar min is), of in reën. Sorg net vir ’n goeie sambreel, want anders kan dit nat en koud wees. Jy gaan ook nêrens sonder ’n baadjie nie. Dis die een oomblik warm en die volgende oomblik BAIE koud.

 

Wihan by die London Eye. Dit was baie koud. FOTO: verskaf

Wihan by die London Eye. Dit was baie koud. FOTO: verskaf

In die winter raak dit vroeg al donker. 16h30 in die middag is dit pikdonker en die volgende oggend halfnege is dit eers lig. Dit kan baie maklik neerdrukkend wees, maar die goeie daarvan is dat ons sommer vroegaand die kaggel kan aansit. Ek het in ons eerste jaar hier in September ’n foto van ons kaggel op Facebook gelaai. My buurvrou het geantwoord: “Magda my dear, it’s not cold yet”. Dit was klassiek.

In die laaste jaar het ons Engeland reeds plat gery, Skotland, Wallis, Switserland, Venesië en Amsterdam besoek. Ons beplan om Kersfees in Denemarke deur te bring en Februarie ’n langnaweek in Rome. Deur die werk kon ek ook besoeke aan Brasilië, Rusland, Japan, Korea en Singapoer byvoeg. Dis ’n ander wêreld wat oopgaan en ons besef skielik hoe mense en hul dinge verskil.

 

Hier is ek in Venesië. FOTO: verskaf

Hier is ek in Venesië. FOTO: verskaf

Ons kan boeke skryf oor die wonderlike dinge wat ons ervaar, maar in ons harte bly ons altyd Suid-Afrikaans. Ons mis die Bosveld, die sand tussen ons tone, die Wildtuin en kamp. Ons probeer ons en ons kinders se “onthou-boksies” so vol as moontlik maak met die dinge, waaroor ons vir altyd gaan praat. Foto’s en dagboeke gaan dit lewendig hou.

Ons het verlede September gaan kyk hoe die Springbokke speel in die Rugbywêreldbeker. Dit was ’n wonderlike ervaring.

FOTO: verskaf

Wihan op die strand by Clovvely in Devon. Dit was laagwater.

FOTO: verskaf

Rooi telefoonhokkie en kleinboet wat die foto bietjie wil ‘belemmer’.

FOTO; verskaf

Die bome in Stratford kry koud ...

FOTO: verskaf

Die manne in Amsterdam by die fietse en bote.

FOTO: verskaf

Windmeulens in Zaanse Schans in Nederland.

FOTO; verskaf

Johan en Hannes voor die klompe winkel in Zaanse Schans in Nederland.

FOTO: verskaf

Ek en Johan by die Scheepvaartmuseum in Amsterdam.

FOTO: verskaf

Dit was ongelooflik om met die trein op te gaan na die Matterhorn in Switserland. Ook natuurlike die kinders se eerste keer in diep sneeu.

FOTO: verskaf

Wihan op die berg.

FOTO; verskaf

Hier is ek by die Vervoermuseum in Lucerne, Switserland.

FOTO: verskaf

Johan en ek in Murano, Italië.

FOTO: verskaf

Oukersaand is gevier met warmsjokolade in Edinburgh, Skotland.

FOTO: verskaf