Alet Uys

Alet Uys

Reise

“Ons is nou Kiwi’s”, sê die Uys-gesin van Auckland in Nieu-Seeland

Alet Uys en haar gesin het so gou as moontlik ingeskakel by die gemeenskap in Nieu-Seeland nadat hulle in 1997 na Auckland verhuis het. Hulle is nou in murg en been Kiwi’s.

Alet het haarself eerste in Howick, Auckland gaan vestig en haar man, Pieter, haar dogters Handri en Francia en haar seun Pieter het eers later by haar aangesluit. Die aanpassing was aanvanklik moeilik, maar nou is hulle ingeburger en volwaardige Nieu-Seelanders. Francia is met ’n Kiwi, Paul, getroud en het twee dogtertjies, Blake en Stella. Handri en Scott het ’n seuntjie, Connor, en Pieter en sy meisie (ook ’n Kiwi) woon in Australië.

Alet vertel Howick is ’n geskiedkundige voorstad van Auckland waar die Fencibles hulself gevestig het. Die Royal New Zealand Fencible Corps was afgetrede soldate van Engeland en Ierland wat al die vroeë setlaars in Auckland moes beskerm. As beloning het hulle nà sewe jaar diens ’n huis en ’n akker grond gekry wat hul eiendom geword het.

Die Suid-eiland is in Mei in sneeu gehul.

Die Suid-eiland is in Mei in sneeu gehul.

Wat is interessant van waar julle woon?
Die land bestaan uit drie eilande: die Noord-eiland, die Suid-eiland en Stewart-eiland – ’n klein eiland suid van Suid-eiland. Met die 2013 sensusopname was daar 4,471 miljoen mense in Nieu-Seeland waarvan 1,42 miljoen in Auckland woon. Daar is meer mense in Auckland as op die hele Suid-eiland, maar dié eiland is groter in oppervlakte as die Noord-eiland. Die Noord-eiland is platter met Berg Ruapehu wat ’n heerlike ski-oord is, maar ook ’n aktiewe vulkaan, min of meer in die middel. Die Suid-eiland is meer bergagtig in die middel en is baie gewild in die winter, want dan is dit deur sneeu omgetower in ’n sprokieswêreld. Wellington is die hoofstad al is Auckland die grootste stad in die land.

Alet, Pieter en Paul by 'n All Black-wedstryd.

Alet, Pieter en Paul by ‘n All Black-wedstryd.

As ek hoor Nieu-Seeland, dan dink ek slegte weer. Hoe is die weer daar?
Vir iemand wat in die Noord-Kaap grootgeword het en later in Pretoria gewoon het, was die weer nogal ’n aanpassing. Maar ná baie jare is ons dit gewoond en begin ons kriewelrig raak as dit nie in die winter reën nie. Die weer kan vir baie lang tye goor wees, maar kan ook vir lang tye baie lekker wees. Die Desember-vakansies is baie lank en soms is ons gelukkig en kry pragtige weer die hele vakansie. My studente vind dit vreemd as ek vir hulle vertel dat dit, buiten in die Kaap, nie in Suid-Afrika in die winter reën nie. Die nattigheid vang mens soms as jou wasgoed nie lekker sonskyn kry nie. Die son kom baie laat in die winter op en gaan baie vroeg onder, so dis nie snaaks om in die donker werk toe te ry en in die donker weer by die huis te kom nie. Gelukkig is die somersaande heerlik lank.

Die Interislander waarmee ons vervoer word na die verskillende eilande.

Die Interislander waarmee ons vervoer word na die verskillende eilande.

Wat is jul gunstelingtydverdryf daar?
Oral om ons is wandelpaaie en ons gaan stap graag gedurende die naweke. Mens kan kies en keur na watter een van die baie sportsoorte jy wil gaan kyk. Baie voorstede het ook hul eie teaters. Daar’s ’n paar in ons omgewing en ons gaan gereeld daarheen. Ek behoort aan ’n kwiltklub en ons kom een dag per maand bymekaar. Dan gesels en werk ons, ruil idees uit en deel ons projekte met mekaar. Naweke spandeer ons tyd saam met ons kleinkinders en drink koffie saam met vriende. Pieter maak graag tuin, want hier groei die plante maklik en word die rose so groot soos pierings. In die somer is ons Icebergs asemrowend mooi en sien jy ’n see van wit rose teen die heining.

Die Icebergs voor ons huis.

Die Icebergs voor ons huis.

Kry julle tyd om te reis?
As onderwysers is ons gelukkig om baie vakansies te hê. Ons probeer om soveel as moontlik na verskillende plekke te gaan. Ons het al deur die hele land getoer, van bo van die noordpunt van die Noord-eiland af tot onder aan die suidpunt van die Suid-eiland. Mens kan net per veerboot of per vliegtuig van die een eiland na die ander reis. Op ons emmerlys is om in die winter na die Suid-eiland te gaan, want dan is dit ’n sprokieswêreld. Met Australië wat net 3 ure se vlieg van ons af is, was ons ook al ’n hele paar keer in verskillende dele van dié land. Sedert ons hier woon, het ons al na Europa, Amerika, Hawaii, Thailand, Singapoer en Indonesië gereis. Ons geniet dit baie om hier rond te reis en ook in Australië, maar die res van die wêreld is maar baie ver van ons af.

 

Die hoenders loop wild langs die paaie.

Die hoenders loop wild langs die paaie.

Lees ook in die Februarie uitgawe van SARIE meer oor die Uyse se lewe in Nieu-Seeland.

  • Tjaart Herbst

    Ai, hoe wens ek dat ek ook daar kon wees. Was nog altyd my droom.