jun06reisartikel1a
Reise

Ons ongelooflike ski-vakansie

Ciao!
Ek en Inge, SARIE se fotograaf, leen van vroeg in die jaar skibroeke en warm baadjies. Ons is opgewonde soos kinders, want vir tien glorieryke dae gaan ons rugby en sonskyn verruil vir ski en spierwit sneeu. In Zürich, Switserland, word ons ontmoet deur Scott Fraser, ons toerleier van Absolute Skiing. Ons vertrek per bus na ons eindbestemming: die skilderagtige dorpie Livigno in Italië. Dis ’n busrit met ’n verskil! Ons ry tot binne-in ’n trein, wat ons met bus en al wegvoer deur ’n tonnel in die idilliese Italiaanse Alpe. Ons ry verby die Livigno-meer, wat toegeys is.

Die dorpie nestel hoog in die Alpe. Dis ’n speelgoedland met Hansie-en-Grietjie-huisies. Oral is die sneeu swaar op donker houtdakke en die ys kraak onder jou voete. En dit wemel van toeriste. Ek en Inge laat nie die sneeu onder ons voete smelt nie, en ons gaan soek dadelik ons toerusting uit vir die volgende dag se eerste ski-les: ski’s, skoene, stokke. Die ski-skoene is ongemaklik swaar aan my voete. Ek kyk op na die berg – spierwit en intimiderend hoog – en wonder benoud hoe ek dit ooit gaan regkry.

 

Die dorpie nestel hoog in die Alpe. Dis ’n speelgoedland met Hansie-en-Grietjie-huisies

 

Dag 1
Ná ’n ontbyt van muesli, jogurt en koffie is ons om 9 vm. reg vir ons eerste ski-les. Met ski’s aangeklik en stokke in die hand sukkel-sukkel ons na die wit voetheuwels, oftewel baby slopes soos ons gidse dit noem. Ons leer hoe om te snow-plough – om jouself tot stilstand te bring. Ek’s versigtig, maar opgewonde.

Die aande op Livigno is kuieraande. In die Stop & Go Après Ski Bar ontmoet ons mede-Suid-Afrikaners en ander toeriste. Dis bumboard-aand en ons neem entoesiasties deel: Jy loop op teen die berghang, kry jou sit op ’n plastiekbord en gly soos blits teen die berg af. Dis snerpend koud, maar ek voel vry en kommerloos. Ons eet egte Italiaanse pizza met vars tamatie en roket, en doen mee aan ’n kroegkruipery met ’n verskil. By Micky’s Pub stap jy nie by die voordeur in nie; jy gly met ’n koper-glyplank af tot onder en lag en gesels die ure om met glase grappa en rooiwyn. Of dalk ’n bombardina: whisky, eierlikeur, melk en room. Die heel beste kuur teen die koue!

 

Die aandlug byt jou gesig en hande, maar ons gil van plesier

 

Dag 2
Ek’s vol selfvertroue vir my tweede ski-les. ’n Hystoestel trek ons halfpad teen die berg op, en gids Guido wink ons nader. Ek kan nie wag nie, en toets dadelik my karige ski-passies uit – en gly en val agteruit. Ek ploeg in die sneeu neer. Ek sukkel regop. My bene is wankelrig, my spiere seer en my ego broos. Maar Guido is geduldig en leer ons nog ’n paar truuks. Die aand by die Après Ski Bar pak ons die heuwels op ’n binneband aan. Die aandlug byt jou gesig en hande, maar ons gil van plesier. Sneeu en spoed is verslawend! En dit maak jou honger. Ons bestel warm sjokolade en ’n bord geurige Italiaanse kase. Almal gesels en deel snaakse ski-stories. Dan stap ons terug na die Garni Valandrea-herberg. Dis doodstil. Al geluid is dié van ons voete op die ys.

Dag 3
Ek voel ál meer tuis op die sneeu. Ek leer al vinniger, en wil net vinniger. Guido moet net keer. Inge ly aan hoogtevrees, maar oorwin die afdraandes. Livigno is soos een groot speelpark, sê sy. “Dis soos om weer kind te wees. Die baie lag en omval en rondgly in die sneeu, die vreemde klere, die snaakse ski’s. Jy moet van nuuts af leer loop. Dis absolute pret.” Moeg van al die opwinding besluit ons op ’n vroeë aand.

Dag 4
Ná ’n vroeë ski-les doen ons inkopies in knus, besige winkeltjies. Livigno is belastingvry, met talle winskopies. Ek swig voor parfuum, sjokolade, likeur en speelgoed. Inge verloor haar hart op ’n paar wolstewels. Ons neem die bus na Husky Village, waar huskies geteel en opgelei word as sleehonde. Hulle is mooi en sag. Ons leer om bevele te gee: hike! (hardloop), hophop! (hou aan hardloop), wow! (stop). Ek gly vinnig oor die sneeu. Ek wow! gereeld om my blitsige honde tot stilstand te bring. Te veel na een se sin, wat omkyk asof hy wil sê: “Wat’s jou probleem? Ons warm nou eers op!”

Drie huskies trek Enid deur die sneeu.

Dag 5
By Livigno is sowat 115 km se ski-hellings. In die spitstye kan 35 000 mense hier oornag. Danksy die uitstekende hysernetwerk is daar geen lang toue of bottelnekke op die hange nie. Ek besluit om vandag een van die moeiliker hange saam met die meer ervare skiërs aan te pak. Bo-op Mottolino kyk ek benoud af ondertoe. Daar’s geen omdraaikans nie. Ek begin stadig, versigtig en daal dan met meer en meer vertroue na onder. Ná sowat ’n halfuur is ek onder. Ek kyk op na waar ek vandaan gekom het. My lyf is seer van inspanning, maar ek gloei van trots. Ek het dit gedoen. Ek kan ski! Die aand in die restaurant La Mirage kyk ek en Inge hoe die son in rustige pastelle oor Livigno sak, en geniet rooiwyn saam met sciatt (diepgebraaide mozzarella), polenta met bolognese-sous en soetwarm appeltert. Die instrukteurs lewer ’n skivertoning. Hul vernuf en spoed slaan ons asem weg.

Dag 6

Dis ons heel laaste ski-les. Ons leer om parallel te ski en selfs om te sig-sag tussen vlaggies deur. Dan ’n kompetisie en ons moet wys wat ons geleer het. Ek snow-plough en sig-sag, op en af, heen en weer. En toe, die wenner vir die beste beginner: Enid. Ek! Ek hang my goue medalje trots om my nek. Ek’s op pad huis toe, ons groet Livigno, maar ons het gedoen wat ons wou: Ons het die beeldskone Alpe leer ken en die inspirasie van splinternuwe uitdagings en vriendskappe ervaar.