Johan en Monique Matthysen

Johan en Monique Matthysen

Reise

Ons opwindende lewe in Herceg Novi, Montenegro

Vir Monique en Johann Matthysen is hulle in die paradys. Hulle geniet hul lewe in Montenegro. Die dorp waar hulle woon, Herceg Novi, is ’n gewilde bestemming vir toeriste. Nabygeleë Igalo lok ook besoekers wat graag die helende krag van die modder en die waterbronne wil ervaar.

Waar woon julle?
Ons gesin is oorspronklik van Gauteng. Gedurende Mei 2015 het ons verhuis na die skilderagtige dorpie, Herceg Novi. My man, Johann, is ’n landskapargitek verbonde aan ’n Suid-Afrikaanse firma wat betrokke is by ’n groot ontwikkeling in Montenegro.

Montenegro. FOTO: verskaf

Montenegro. FOTO: verskaf

Waar is Montenegro?
Montenegro is geleë op die Balkan-skiereiland en word omring met lande soos Kroasië, Bosnië en Herzegnowina, Albanië, Serwië en Kosovo. Met sy Mediterreense klimaat en helder turkoois water is Montenegro die spreekwoordelike paradys vir toeriste.

Somermaande is fantasties, en aangesien ons in ’n ruim vakansiewoonstel bly, is ons vir maande deel van die vakansie-atmosfeer. Hierdie prentjie-mooi dorpie is ook uitstekend geleë by die ingang van Boka Kotorska-baai. Ons is dus in die bevoorregte posisie om vanaf ons balkon reuse-passierskepe dop te hou wat op pad is na Kotor. Gedurende die wintermaande het ons ’n fantastiese keuse van ski-oorde op ons drumpel.

Kotor. FOTO: verskaf

Kotor. FOTO: verskaf

Weens Montenegro se ligging kan ons deur Europa toer vir ’n fraksie van die prys wat toeriste gewoonlik moet opdok. Vlugte is bekostigbaar, en dis meestal net 2 ure se vlieg na verskillende hoofstede. Selfs per motor, veerboot of taxiboot kan ons wonderlike ou dorpies besoek waarvan Perast en die ou stad van Kotor, ’n moet is vir enige toeris. Perast self is ook ’n baie ou dorp, met wonderlike argitektuur. Die grootste trekpleister is verseker Our Lady of the Rock (Gospa od Skrpjela), ’n klein eiland in Boka-baai, met ’n ongelooflike kerk en museum.

Die argitektuur in Herceg Novi. FOTO: verskaf

Die argitektuur in Herceg Novi. FOTO: verskaf

Uitdagings daar?
Die grootste uitdaging om in Oos-Europa te woon, is beslis die taal. Ek is ’n opgeleide verpleegsuster en omdat die voertaal Serwies is, is dit onmoontlik om my beroep hier te beoefen. Ons seuntjie, Mian, is twee jaar oud en woon elke dag ’n klein privaatskool by, waar die kinders hoofsaaklik Engels en Serwies praat. Dis net verstommend hoe aanpasbaar kinders is, en ons sien dit ook as ’n uitdaging en ’n groot voorreg dat Mian aan al hierdie verskillende kulture blootgestel word.

Mian in die winter. Die winter het sy eie bekoring. FOTO: verskaf

Mian in die winter. Die winter het sy eie bekoring. FOTO: verskaf

Wat mis julle?
Ons mis familie en vriende, maar leef op die oomblik ons droom om die wêreld te sien. Ons dink nog glad nie daaraan om terug te keer na Suid-Afrika nie.

Die res van Europa is op ons drumpel. Mian luister in Florence na die straatmusikante. FOTO: verskaf

Die res van Europa is op ons drumpel. Mian luister in Florence na die straatmusikante. FOTO: verskaf